Heinrich & Lee se plaastroue

Heinrich en Lee het mekaar per toeval weer ontmoet oorsee tydens altwee se onderskeie werksgeleenthede en kan nou trots langs mekaar staan as pasgetroudes.  Die twee wie se plaastroue vasgevang is deur Liezel Volschenk Photography het aanvanklik ‘n moeilike tyd gehad om hul venue te boek, maar het steeds dit reggekry om hul droom dag ‘n werklikheid te maak.  Hulle was gelukkig genoeg om ‘n oop datum te vind by ‘n venue wat steeds ‘n soortgelyke plaas gevoel gehad het as die vorige venue waarop hulle aanvanklik besluit het. Die bruid het daardie tikkie rooi bygevoeg tot haar uitrusting, wat dan weer te siene is in die strooimeisies se rokke.  Die fotosessie lyk elegant en vol vreugde by die prettige minibus.

Lees in die artikel meer oor die styl van Heinrich se trouring as jy en jou toekomstige man steeds opsoek is na ‘n unieke styl ring, maar dit nog nie gevind het nie.  Wie weet, dalk is dit net waarna jy opsoek is!  Ons hoop julle geniet hierdie artikel.

Wat was jul troudatum en hoe oud was julle albei op dié datum?


Ons het getrou op die 3de Maart 2018, Lee was 21 en Heinrich was 26 jaar oud.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons was vriende van ons kinderdae af en het mekaar weer in New York raak geloop in 2015 toe Lee in Amerika kom Au Pair het.  ‘n Ou vriendskap het toe in ‘n wonderlike liefdes verhaal ontwikkel.

Hoe het julle verloof geraak?


Lee het vir my kom kuier in Boulder, Colorado. Ons het op Ou-Kersdag dag een van die nasionale parke in die Rocky Mountains besoek.  Toe ons op een van die hoogste uitkykpunte stop om foto’s te neem het Heinrich in die sneeu die groot vraag gevra.

Wie was jul fotograaf  gewees?


Liezel Volschenk is ‘n besonderse talentvolle fotograaf, wat ons baie gemaklik en rustig laat voel het. Sy het ‘n manier om die onverwagte oomblikke vas te van en baie spesiaal te maak.  Ons is ongelooflik gelukkig oor hoe ons foto’s uitgedraai het.

Hoe lyk die ontwerp van jul ringe?


Lee se ring is ‘n fyn witgoud verloofring met ‘n klassieke diamant steen omring met agt kleiner diamante  rondom. Die ring en trou pant is versier met ‘n klomp kleiner diamantjies daarop.

Heinrich se ring is ‘n Tongue en Groove style ring van wolfram gemaak.  Hy het nou al paar krappe op die kar gelos na hy dit gewas het!

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Die eerste dans was vir ons besonders spesiaal aangesien Heinrich in Amerika werk en ons amper nooit kans kry om te dans nie.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Ons wens die aand kon ‘n bietjie langer aangehou het, dit was regtig ongelooflik.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Beplan jou troue op jou manier, geniet elke oomblik en onthou om die stresvolle gedeeltes af te lag met ‘n glasie wyn.

Hoe het julle die venue gekies?


Ons wou graag ‘n plaas omgewing gehad het.  Ons eerste venue het deurgeval as gevolg die droogte en die dam waar die seremonie gehou sou word het opgedroog.  Ons het so bietjie paniekbevange geraak, dit was twee maande voor die troue en uitnodigings was al gepos.  Daar was toevallig ‘n kansellasie by Uitsig Venue in George vir ons datum.  Dit het so perfek uitgewerk, ons kon nie vir ‘n beter venue gevra het nie.

Wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ons wou ‘n eenvoudige, maar stylvolle gevoel skep en het op ‘n fynbos-tema besluit wat ons toe ons eie spin op gesit het.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons begroting was R150 000 vir alles insluitende die vliegtuig kaartjies van Amerika af en die wittebrood.  Danksy Lee en haar Ma se goeie beplanning en ons ouers se bydrae kon ons meestal binne ons begroting bly.

Waarheen was julle vir jul wittebrood gewees?


Ons het besluit op ‘n bosveld wittebrood aangesien ons in Miami gaan woon en Lee nog nie die bosveld ordentlike beleef het nie.  Ons was vir ‘n maand in wildtuin se omgewing, ‘n kombinasie van chalets en kamp. Lee was oorspronklik skepties oor die kamp gedeelte, maar na dag twee was sy verlief!  Op die laaste paar dae van die kamp het ons ‘n baie oulike paartjie ontmoet wat ons langs die pad gehelp het toe die bakkie gaan staan. Hulle het ons toe genooi om verniet in hul Luxury Honeymoon Safari Lodge, Khaya Umdani, te kom bly in Marloth Park.  Dit was die hoogste punt van ons reis. Ons het afgesluit met drie aande by Caracal Lodge net buite Nelspruit.  Ons het die beste dinge van Suid Afrika beleef en ons sal dit altyd onthou.

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: