Billy & Cindy se vrolike selfdoen troue

Hier by Mooi Troues deel ons vandag Billy en Cindy se vrolike selfdoen troue.  Billy en Cindy het soveel trou inspirasie met hierdie vrolike selfdoen troue.  Hulle trou styl is so vrolik en spontaan.  Dit is bitter mooi.

Cindy het ʼn lêer vol idees van wat sy wou hê op haar troudag, dit het dus haar baie tyd en moeite gespaar.  Sy het beslis haarself oortref en die dekor was asemrowend.  Die pragtige “burnt orange” en groen elemente was so komplimenterend.  Dit het so ʼn vrolike en gelukkige gevoel gegee.  Dit was asof die liefde vir mekaar van die paartjie deur hul dekor gestraal het.

Billy was so opgewonde op vir Cindy te sien, hy moes sy asem ophou toe hy haar sien saam met haar pa afstap.  En Cindy was sy so op haar gemak toe sy langs die regte persoon staan nadat haar pa haar oorhandig na Billy.

Rol af en geniet meer van Billy en Cindy se vrolike selfdoen troue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Billy was saam op skool.  Ons het mekaar nie daardie tyd geken nie aangesien hy matriek was toe ek graad 8 was.  Ek was te skrikkerig om na enige ouer leerder te kyk.  Dit het natuurlik bygedra daartoe dat ek hom glad nie geken / herken het toe ons uiteindelik in 2018 ontmoet nie (al het hy vir ons skool se eerste rugbyspan gespeel).  Ons het mekaar tydens Nuwejaar ontmoet en het dadelik goed oor die weg gekom.  Hy het op daardie stadium 3 ure van my af gewoon en ons het moeite gedoen om mekaar elke tweede naweek te sien.

Ons het vir ʼn jaar en ʼn half uitgegaan voordat hy die groot vraag gevra het.  Hy het alles haarfyn beplan saam met sy beste vriend.  Hulle het ʼn verrassings-piekniek gereël by die trou venue, Eureka in Durbanville.

Die Verlowing Tydperk:


Ons wou aanvanklik nie baie lank verloof wees voordat ons trou nie.  My sussie werk oorsee en ons het besluit om tot Maart 2021 te wag totdat sy sou terugkom.  As dit nie vir haar was wat ver weg is nie, sou ons heel moontlik ʼn troue vir Julie beplan het.  Ons was later al te dankbaar dat ons dit nie gedoen het nie aangesien ons dan geld sou verloor het tydens die pandemie.

Ons het besluit om die troue self te beplan.  Cindy het al lank gedroom en beplan vir haar groot dag, selfs toe ons mekaar nog net leer ken het!  Sy het ʼn hele lêer gehad met voorbeelde van dekor en moontlike trou diensverskaffers.

Finansiële Aspekte:


Ons was in die gelukkige posisie dat albei ouer pare ʼn bydrae tot ons troue kon maak.  Albei van ons het besluit op ʼn “kleinerige” troue van nie meer as 80 gaste nie.  Dus het ons so vêr moontlik by ons begroting gehou.  Sommige gaste kon ons troue nie bywoon nie en dit het veroorsaak dat ons ekstra geld gehad het om op ander dinge te kon spandeer.  Ons totale aantal gaste was op die dag 70.  Cindy het vir baie kompetisies ingeskryf en ons het ʼn fotograaf daaruit gewen.  Daarna het ons besluit om wél ʼn videograaf te gebruik, al was dit aanvanklik nie ʼn opsie vir ons nie.  Een van ons familie vriende is ʼn uitstekende wynmaker en het ons wyn vir ons troue gegee as trou geskenk.

Ons raad aan ander paartjies:

Probeer soveel as moontlik kwotasies kry voordat julle ʼn finale besluit neem.  Stel ʼn lys op van die nodigste dinge en besluit dan saam watter “ekstra” dinge julle graag sal wil hê.  Moenie skaam wees om vir vriende en familie hulp te vra nie.  En skryf vir ALLES in!

Merkwaardigste Oomblikke:


Cindy:

My senuwees het bedaar die oomblik toe my pa my aan Billy oorhandig.  Ek was op my gemak en presies langs die regte persoon.  Die oomblik toe die dominee ons as man en vrou verklaar het sal altyd spesiaal wees vir my.  Ons eerste dans as getroude paartjie was ook een baie spesiale oomblik.

Billy:

Toe ek vir Cindy en haar pa by die padjie sien afstap het ek my asem op gehou.  Sy het pragtig gelyk.

Paartjie se styl:


Ons hou albei van ‘anders’ wees.  Cindy het ʼn stywe rok gekies al is dit oor die algemeen nie iets wat sy gemaklik in sal voel nie.  Billy wou iets anders as die normale swart of blou pak dra.  Hy het ʼn bruin-groen materiaal gekies om sy pak van te laat maak.  Cindy se ring is roosgoud op die pantjie en witgoud rondom die diamant.  Billy het ʼn roosgoud troupant gekies.  Hy het nog nooit van die moderne idee van swart of hout trouringe gehou nie en het besluit om die tradisionele styl troupant te kies, alhoewel hy dit in roosgoud wou hê.

Die Besluitnemingsproses:


Baie van ons vriende het reeds al getrou teen die tyd wat ons ons troue beplan het.  Ons kon dus van hulle raad gebruik maak.  Ons familie het ook hul opinies gegee en gehelp met die keuses van die kos en wyn, maar ons twee het alleen besluit oor die dekor ensovoorts.

Cindy: Ek het so ʼn bietjie voor gevat met die besluite.  Ek wou my troue graag presies hê soos dit in my kop afgespeel het.  In Billy se toespraak het hy erkenning aan my gegee dat ek die “hele troue alleen beplan het”.  Maar hy was baie behulpsaam en het nooit nee gesê wanneer ek vir hulp gevra het nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Cindy:

Ontspan.  Dit is een van die grootste oomblikke in ʼn vrou se lewe en jy moet elke oomblik daarvan geniet.  Selfs die oomblikke as die wind nie wil saam speel nie en jy jou sluier af haal ʼn paar sekondes voordat jy by die padjie moet af stap.  Probeer rustig wees.  Niemand anders gaan weet as iets nie verloop soos jy dit beplan het nie.  En as iemand iets sê, onthou net, dit is JULLE troue!

Billy:

Ondersteun jou vrou in die besluitnemings proses.  Spandeer eerder meer geld op dinge wat deur die gaste geniet kan word byvoorbeeld die musiek en kos.  Die ander items is slegs daar vir mooi fotos.

Venue & Dekor:


Ons het na venues gaan kyk wat binne ons begroting geval het.  Die venue se styl sou ons troue se dekor bepaal.  Die dag wat ons na ons venue gaan kyk het, het ons albei besluit “Dit is die een”.  Daarna het ons op ʼn neutrale kleurskema besluit van wit en groen en toe ʼn bietjie “burnt orange” bygevoeg.  Dit het die gebou en meubels baie mooi gekomplimenteer en opgehelder.  Ons het probeer geld spaar deur nie te veel onnodige blomme te hê nie.  Slegs die bruidstafel het blomme gehad.

Gunsteling Diensverskaffers:


Ons is dankbaar vir al die dienste wat gelewer is.  As ons een sou weg haal, sou al die aspekte van ons troue nie so mooi saam gesmelt het nie.  Ons moet wel twee uitsonder.  Die koördineerder by die venue het dag en nag reg gestaan om ons met enige iets te help.  Sy het baie raad gegee en het presies geweet wat ons visie was.  Asook die fotograaf wat ons spesiale oomblikke so mooi vasgevang het.

Eerste Dans:


Ons het vroeg die middag getrou en het ons tydlyn verander om daarby te pas.  Na die seremonie het ons saam met die gaste drankies geniet en familie foto’s geneem.  Toe ons by die saal instap, het ons dadelik die dansvloer geopen op “Sugar pie honey bunch” van Kid Rock.  Ons het ook dadelik die koek gesny en toe aan die bruidstafel gaan sit.  Ons het nie spesiale danslesse gehad nie, maar net op en af in die gang en sitkamer geoefen.

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Diensverskaffers: