Niel & Barbara se Buitelug Selfdoen Plaastroue

Niel en Barbara se buitelug selfdoen plaastroue is te mooi om te beskryf in woorde en het ons hoendervleis gegee, letterlik prentjie mooi. Die paartjie het in die Vrystaat getrou op die plaas waar Barbara, die bruid groot geword het. Dit is buite ʼn klein dorpie genaamd Viljoenskroon. Baie komponente van die paartjie se troue was self gedoen wat dit nóg meer spesiaal maak.

Die perfekte kombinasie vir ʼn mooi troue is ʼn plaastroue met moderne elemente. ʼn Kleurskema wat bestaan uit Viva Magenta, Pers, Lewende Koraal, Gloeiende Pienk, Spookasem, en Wit. Wat meer wil mens nou voor vra?

Hulle seremonie was tussen die bloekombos laning wat die perfekte ligging was vir hul seremonie. Omring deur die beboste natuurskoon met die helder kleurige blomme boog wat die perfekte aansig maak vir die paartjie se seremonie.

Barbara en Niel se onthaal was definitief iets buiten die gewone trou onthaal.  Een lang tafel in die buitelug omring deur die landskappe van die plaas.  Die lang tafel was bedek met ʼn wit tafeldoek en het ʼn hout raam met ʼn gedrapeerde wit doek oorgehad om die hele voorkoms af te eindig.  Ligte het vanaf die houtraam oor die tafel gehang wat ʼn baie romantiese voorkoms aan die buitelug tafel gegee het.

Die tafel was bedek met kleurvolle eenvoudige gestileerde blom ontwerpe.  Al die ander dekor elemente op die tafel was wit gewees wat die perfekte kontras teenoor die agtergrond geskep het.  Elke trou gas het ook ʼn illustrasie prentjie van hulself gehad wat gedien het as hul sitplek aanwyser.

Ons is totaal en al verlief op die paartjie se fotosessie.  Die sagte goue sonsak lig wat oor die plaas landskappe tussen deur die beeste skyn is verskriklik mooi.

Rol af om meer te lees oor Niel en Barbara se buitelug selfdoen plaastroue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het gedurende universiteit in ons eerste jaar ontmoet, maar eers gedurende tweede jaar wat ons beste vriende geraak het en toe is die koeël deur die kerk.

Beide het BCom Geoktrooieerde Rekenmeesterskap by die Universiteit van Noord-Wes op Potchefstroom Kampus studeer. Ons het 10 Januarie 2018 begin uitgaan (die begin van ons derde jaar).

Tussendeur die warboel van klas-draf en toetse skryf, het ons mekaar al beter leer ken. Tyd het verbygevlieg en ons kon soveel herinneringe saambou.

Na 4 jaar en 10 maande, het ons verloof geraak op 19 November 2022. Op hierdie dag het my droom ʼn realiteit geword.

Niel het die perfekte piekniek by Rosemary Hill Farm (in Pretoria) beplan met blomme, sjampanje en; natuurlik, die mooiste verloofring! Die piekniek was in die distilleerdery en ons het uitgekyk oor die mooi natuurskoon van die plaas.

Dit was ʼn baie spesiale dag en na die verlowing plaasgevind het, het ons ʼn mini-fotosessie gehad en daarna saam met ons ouers die verlowing gevier by die koffiewinkel op Rosemary Hill Farms.

Trourok:


My trourok was perfek – dit waaroor ek altyd gedroom het. Ek kan dit beskryf as elegant, stylvol met moderne elemente.

Op 16 Desember 2022 het ek my 3 vriendinne gevra of hulle my strooimeisies sal wees en daarna het ek gaan rokke aanpas by Once Worn Bridal in Somerset-Wes.

Ek wou graag net sien waarvan ek moontlik sal hou omdat dit nou nie aldag is wat ʼn mens trourokke aantrek nie – nie gedink ek sal my trourok met die eerste aanpas slag vind nie.

Ek moes 6 rokke kies, waarvan ek hulle dan ʼn punt uit 10 sal gee.

Nommer 4 rok – het my hart gesteel – 10/10.

Daarna is my trourok na my spesifikasies gemaak met twee unieke elemente wat tot die oorspronklike ontwerp gevoeg is: uitstaan moue en 3D blomme op my sleep.

Die ontwerper is Rosa Karoo Bridal en die trourok se naam is die Jamie Dress. Naaswit, lang sleep, baie lae V-nek lyn en fyner detail soos die 3D-blomme, beldjie om my middel en moue wat uitstaan.

 

Verloof- en Trouringe:


Bruid:

Verloofring – ʼn Ovaal snit met ʼn halo troupant – half ewigheid ring. Die storie agter my ringe is nie vreeslik opwindend nie. Ek is baie spesifiek in my smaak, daarom het Niel eers doodseker gemaak waarvan ek hou voordat hy die ring laat maak het.

Ons het so paar maande voor ons verlowing ʼn dag daarvan gemaak en by die V&A Waterfront gaan rondloop en ringe aangepas. Ek het die perfekte ringe gekry en Niel het notas gemaak en volgens die spesifikasies my ringe laat maak.

Bruidegom:

ʼn Swart eenvoudige Tungsten ring. Hier is ook nie ʼn storie agter Niel se ring nie. Hy het maar nog altyd gesê dat hy ʼn swart ring sal wil hê. Ek het navorsing gedoen oor wat die beste metaal sal wees vir ʼn swart ring en daarna het ons gaan ringe aanpas en ek het die ring vir hom gekoop.

Selfdoen Elemente:


Die troue was op ons plaas in Viljoenskroon waar ek grootgeword het en waar my ouers steeds woon.

My Pa het alle voorberei om die area op die plaas waar die troue was te omskep in ’n “trou venue”.

Die gaste het op stand steen klippe gesit, wat oer-oue klippe is van ’n ou konstruksie wat op die plaas was.

Die konstruksie waaronder die lang tafel gestaan het, is deur my pa en my swaer aanmekaar gesit. Maande voor die troue het my pa die grasperk om die windpomp begin voorberei en die kombuis vanwaar Feast and Flowers kos gemaak het, was ’n ou stoor wat omskep is in ’n kombuis.

Die bordjies van die oestafel was deur my Ma geverf. Tafelnommers is deur my Ma gemaak. Gaste geskenke het ek geteken. Die bruid en strooimeisies se oorbelle het ek en my Ma gemaak. Dit is sommer net ’n paar voorbeelde en ek kan nog ’n paar noem. Baie komponente van die troue was selfdoen. Só kosbaar!

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


Dit is moeilik om uitsondering te tref omdat elke deel van die troue sy eie uniekheid het en daarom spesiaal is. As ek moet uitsondering tref sal dit die seremonie wees.  Dit is tog die rede vir die troue – die TROU gedeelte.  Die seremonie was uiters spesiaal en is baie na aan ons harte. Ons seremonie het 14:30 begin. Ek en my hoof strooimeisie het saam met my Pa in die trou kar gery tot by die begin van die bloekombos laning waarin ons seremonie plaasgevind het.

Ons het uitgeklim, die musiek het begin speel en ons het ingestap en so het die wonderlike verrigtinge afgeskop. Die wind het deur die blare van die bloekombos gesuis, en in ons harte het ons geweet dis die Here se teenwoordigheid – Hy was daar! Hooglied 8: 6&7 is oor ons gebid wat lees: “Gee my die enigste plek in jou hart. Dra my binne-in jou soos ’n mens ’n seëlring aan jou arms dra. Liefde is sterker as die dood en die liefdes drang sterker as die doderyk. Die gloed van warm liefde gloei soos ’n groot vuur.” Ons is in die eg verbind, waarna die bruidegom sy bruid kon soen – YEAH!

My Pa het ook ʼn seën gebed oor ons gebid en daarna het die mense verdaag, ons het die register geteken en uit die bloekombos gestap op die liedjie van Imke “Oud word saam met jou.” En so begin ons vir altyd saam.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Feasts and Flowers wat verantwoordelik was vir die blomme en kos.

Die gaste was in ekstase oor die fantastiese kos. “Dit is iets om oor huis toe te skryf” het van die gaste gesê. Voorgereg was ʼn harvest table met vars brode, roosterkoek met botter en konfyt, kerrievis, gebraaide snoek en lekker sweet & sticky ribs. Al ons gunstelinge. Hofgereg is basseer op oudtydse kookkos met ʼn moderne twist. Skaapskenkels, gebraaide beesfillet en hoender stukke in ʼn kerrie sous. Bykosse sluit natuurlik in: pampoenkoekies, geroosterde groente, Griekse slaai en rys. Laaste, maar nie die minste nie, nagereg tafel gevul met die lekkerste koeke en soetgoed. Die nagereg tafel was ook ʼn fokuspunt by die onthaal gedeelte met mooi blomme tafeldoek en versameling liggies wat bo-oor die tafel hang in verskillende hoogtes.

En die foto’s spreek self van die blomme; daaroor hoef ek nie eers uit te brei nie.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Die beste raad wat ek kan gee vir paartjies is:

  1. Geniet elke oomblik, maak die trou reëlings pret. Gaan op ʼn date spesifiek met die doel om oor die troue te gesels.
  2. Betrek die gevolg indien jy gevolg het. Dit was vir my die lekkerste om my strooimeisies en ma saam te vat om trourokke te pas. Ek en my strooimeisies het ook so paar keer voor die troue bymekaar gekom en lekker saam gekuier sodat hulle mekaar ook kon leer ken.
  3. Pinterest kan baie oorweldigend raak. My raad is: kies ʼn kleurskema, tipe blomme, dekor elemente en maak ʼn mood/vision board oor die elemente. Hierdie dokument kan jy dan vir diensverskaffers stuur wat wil weet wat is die gevoel/tema van die troue.

Trou Venue:


Ons het nie op ʼn amptelike trou venue getrou nie, maar eerder die plaas waar ek grootgeword het in die Vrystaat.  Buite ʼn klein dorpie genaamd Viljoenskroon.

Gedurende COVID het ek weer die voorreg gehad om kosbare tyd op die plaas te spandeer. Ek het baie middae saam met my Pa op die plaas gaan rondry. Gedurende ʼn rit een middag in die veld met die Nguni beeste in die agtergrond met groen gras onder hulle hoewe; het ek die gevoel/idee gekry dat dit só spesiaal sal wees om op die plaas te trou.

Ek het dit met my ouers gedeel en daar was geen twyfel aan hulle kant nie; aangesien my pa dit so verkies omdat dit spesiale waarde het. Ek en Niel het ook daaroor gesels en hy was ook opgewonde oor die idee om eendag op die plaas te trou.

Met ons verlowing gedurende November 2022, was ons weer Desember 2022 op die plaas vir die Feesseisoen en het ons finaal besluit dis die plek waar ons getrou aan mekaar wil beloof.

Trou Dekor en Styl:


Kleurskema:

Viva Magenta, Pers, Lewende Koraal, Gloeiende Pienk, Spookasem, en Wit.

Dekor:

Minimalisties, baie blomme in verskillende kleure. Nguni velle in die paadjie tydens die seremonie (om die plaas element in te bring). Tydens die onthaal het ons slegs een lang tafel gehad. Dit het vir my spesiale betekenis omdat ʼn etenstafel altyd die plek is waar diep gesprekke tussen familie/vriende plaasvind.

Hierdie is die plek waar ons lekker saam kuier en eet. Dit is ʼn plek waar mense bymekaar kom en waar ons vir ʼn oomblik van alles vergeet en in die oomblik leef.

Algehele styl:

Minimalisties met WOW-elemente, elegant, tydloos met moderne elemente asook plaas-elemente.

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het in totaal 120 trou gaste gehad en ʼn trou begroting van min of meer R 2,083 per persoon.  Hulle het die troue self beplan in ʼn 4 maande periode.

Eerste Dans:


Perfect Symphony – Ed Sheeran & Andrea Borcelli

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: