Philip & Michelle se New York Tema Dak Troue

Ons is baie opgewonde om Philip en Michelle se New York tema dak troue in Pretoria met jou te deel op Mooi Troues.  Hulle het ʼn baie interessante, donker trou tema gehad vir hul troue wat onmiddellik jou aandag trek.

Michelle het ʼn pragtige swart trourok aangehad wat perfek ingepas het by die hele atmosfeer van die troue. Philip het ook ʼn swart troupak aangehad en ʼn blomme patroon das wat ʼn pret element tot die uitrusting bygevoeg het.  Michelle se strooimeisies het pragtig gelyk in hulle smaraggroen rokke.

Michelle se pragtige trouring was ontwerp deur Your Diamonds.  Dit is belangrik om ʼn juwelier te kies wat tonne ervaring het en waarmee jy gemaklik is.  Your Diamonds is ʼn fantastiese juwelier wat alle juweliersware ontwerp vir enige geleedheid regoor Suid-Afrika.

Hulle trou kleure was swart en smaraggroen, twee kleure wat perfek bymekaar pas.  Die paartjie se trou dekor was simplisties.  Hulle het gefokus op hul tema en hier en daar ʼn tikseltjie wit, rooi en pers blomme gehad.  Swart blom potte en kerse het ook deel gevorm van die tafel dekor.  Alles het so mooi uitgestaan op die rou hout tafels.

Om ʼn unieke troue te beplan is altyd opwindend, veral as jy ʼn groep fantastiese diensverskaffers het wat alles moontlik maak.  As jy besig is om jou troue te beplan, besoek Mooi Troue se Trougids vir professionele trou diensverskaffers vir jou troue.  Jou troubeplanning hoef nie stresvol te wees nie.  Geniet elke oomblik en jou tyd saam met jou familie en vriende op jou troudag, net soos Michelle en Philip.

Rol af om meer te sien van Philip en Michelle se New York tema dak troue en om hul oulike liefdesreis te lees.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek was my tweeling sussie, Monique en haar kêrel se 3de wiel saam oppad na ʼn braai.  Philip was daar en ons was die enigste enkellopendes.  Ons was natuurlik tussen almal heeltyd langs mekaar gesit en het later die aand lekker begin dans daar in die lapa.  Ek wou niks weet van die liefde nie en wou net fokus op my graad, maar Philip het ander idees gehad.  Hy het my opgespoor op Facebook en so het ons begin gesels weer.

My ma het by my sussie hulle gehoor van die kêrel wat my wil uitvat en het vir my gesê uit ordentlikheid sal ek op een afspraak gaan met hom.  Wel, eks ewig dankbaar, want ons eerste week het ons op die afsprake gegaan.

Ons het besluit ons harte en ons is reg vir trou hier by die 3 jaar merk.  Ons toe begin spaar en kyk na verblyf – ons glo nie in saambly voor die huwelik nie en ook nie seks voor die huwelik nie.  So ek het nog in die huis gebly en Philip in sy eie woonstel (hy is van Tzaneen Af).   Einde 2019 was ons geseën om ʼn huis te kan koop.  Eendag het ons op die stoep gesit en besluit waarvoor wag ons? Ons harte is reg, ons weet ons wil trou.

Ons ‘elopement’ troue

So toe bel ons, ons pastor by Doxa Deo Moot- Japie, en gaan sien hom. Ons gesels altyd en is betrokke by die kerk.  Toe trou hy ons by die kerk, net hy, ons, 2 baie goeie vriende en die Here se teenwoordigheid.  Geen ringe, geen rok of pak nie.  Beste besluit nog.  Mens het nie alles nodig vir ʼn perfekte oomblik nie.  Ons het toe gespaar en aanhou beplan aan ons droom feesviering van die liefde troue.  O-en ons het nooit iemand anderste ingelig ons is getroud nie.  Op ons een jaar huweliks herdenking gaan eet ons uit en daar verras Philip my met die mooiste ring, op ʼn dak, met die hele Pretoria se liggies om ons.  Maklikste JA weer in my lewe gewees.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was 1 jaar en 1 maand verloof voor ons “weer” getrou het op 12 Desember 2021.  Ons het meestal van die troue self betaal, so moes dus baie mooi met ons geld werk.  Alles het ons self beplan. Ek is baie perfeksionisties en Philip is baie kreatief.  So ons het geskik met ʼn ‘Powerpoint’.  Alles van die venue, kos, tema, kleurskema was daarop gesit.  As mens heeltyd na ander idees gaan kyk en Pinterest veral – gaan jy mal word en later nie weet wat jy soek eintlik nie.

Trou Begroting:


R150 000-00 en later R180 000- R200 000.

Ons het ʼn Excel sigblad gehad met tabelle vir die volgende: Moet hê, Miskien, Buite begroting/ Ekstra, Onderhandelbaar.  Ons het geld geallokeer vir alles en soos ons alles betaal het wat jy moet hê soos venue, fotograwe, rok en pak, kan ons aanbeweeg.  So kon ons sien hoeveel spaar ons en waar gaan ons oor en moet iewers aanpas. Ons het op die einde gesien ons harde werk het baie gehelp en ons was geseën met ekstra geldjies om alles wat ons wou hê te kon bekostig.

Daar was 100 gaste by ons troue.

Ons sal beslis ander paartjies aanraai om altyd die nie-onderhandelbaar en moet hê klaar te betaal voor enige iets anders.  Dit help om vooraf saam te besluit die is ons opsies 1/2/3/ en dis al waaruit jy kies.  As daar ʼn ekstra geldjie is fantasties!  Gaan vir daai ietsie ekstra, maar maak vrede met wat jy kan bekostig en waarmee jy gelukkig sal wees as jy nou nie die duurste kan kry nie.

Merkwaardigste Oomblikke:


Michelle:

Ons het vooraf besluit om ons fotos te neem voor die seremonie en voor ons by almal is.  Dit was so spesiaal en intiem vir my.  Daai skelm tyd vooraf net vir ons om mekaar te kan waardeer voor die dag begin en almal met jou wil gesels.  Dit was baie spesiaal.

Philip:

Toe ek my vrou vir die eerste keer sien op ons troudag in haar trourok.  Sy is vir my die mooiste mens en daardie dag het sy bo als uitgeblink.  Ek is die gelukkigste man wat daar is op die aarde.

Spesiale Tradisies:


Ons het net mekaar se voete gewas as ʼn teken dat ons mekaar altyd sal eer en in ag neem.  Altyd daar wees en jou help met alles.  Ons hoop dis ʼn tradisie wat ons kinders sal doen eendag ook.  Ook met die seël ring, dat dit met ons seuns sal voortgaan.

Die Besluitnemingsproses:


Ons kon elkeen self besluit wat ons gevolg moes dra.  Maar ons het van ons vooraf bespreekte PowerPoint afgewerk.  Ons het gehou by ons troue en ons droom.  Ons het op mense se tone getrap en mense nie noodwendig gelukkig gehou nie. Maar dis wat ons gelukkig gemaak het.

Ons het wel ʼn hele paar gesprekke en oproepe gehad van almal wat so verbaas was oor hoe ons troue uitgekom het.  Mens dink nie altyd swart is klassiek en stylvol vir ʼn troue nie.  Maar ons het gehou by wat ons gelukkig gemaak het.

Paartjie se styl:


Philip het vir my die mooiste witgoud trouring laat maak, wat gebaseer is op ʼn sonneblom.  My ring het 16 diamante om die 1.07c Cognac diamant wat vasgehou word deur ʼn roosgoud buis instelling.  Daarby het ek ʼn half ewigheid roosgoud troupant.

Ek het Philip verras op ons troue met ʼn ring wat hy self ontwerp het maar eers te duur was.  Nader aan die troue kon ek dit bekostig en sy droom trouring te gee vir hom. D is ʼn witgoud seël ring met die letter R gegraveer daarop bo op ʼn swart agtergrond.

Ons wou ʼn klassieke en modern troue hê.  Ons het albei self besluit wat ons wil dra.  Ek het wel geweet van Philp se swart pak en hy het net geweet my trourok is uniek.  Philip hy sy swart uitrusting opgehelder met ʼn blomme motief das en ek het soos die yskoningin gevoel in my trourok en kroon van kristalle met bypassende oorbelle.

Vermaak:


Christiaan Baartman en sy orkes het opgetree heeltyd vir ons van voor die seremonie, kerk, onthaal oral het hulle ons vermaak.  Absoluut beste diens!  Soveel passie en vriendelike mense.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ons het heeltemal vergeet van ons gaste “boekie”.  Ons het ʼn ‘canvas’ gekry en blokkies opgetrek om almal se vingerafdrukke te versamel en dan later die blokkies uit te vee en dan ons kunsstuk te raam.  Nou versamel ons die vinger afdrukke met braaie. Iets kleins, maar dit gebeur.

Venue & Dekor:


Toe ons “elope” het in 2019, het ons net ʼn paartjie fotosessie gedoen by Moonshot Café en toe al besluit die plek is perfek vir ons.  Ons sê ook altyd vir mekaar “Love you to the moon and back”.  So dit as simbolies vir ons daar, die venue was presies ons “New York Rooftop” tema wat ons wou hê.  Die venue het ook ons toegelaat om te kon rondspeel met kosse.  So ons het ʼn ‘icecream bar’ gehad, koek tafel, lang tafel met verskeidenheid van pizza’s, sliders, sosaties, jalapeno poppers ens, wat heelaand bedien was.  So almal kon lekker kuier en iets van alles eet heelaand soos jy honger geword het.

Ons hoof kleur was swart met smaraggroen , wyn rooi, wit en goud.  Helder blomme,  meeste dekor was swart, swart kerse.  Alles was baseer op modern, New York styl troue wat ons venue ook die mooiste gaan laat lyk.  Ons het ook borde laat maak vir die pastei verwarmers met oulike sê goed wat hulle kon hou.  Klein goed kan nogal ʼn groot verskil maak.

Gunsteling Diensverskaffers:


Mariette en haar span by Moonshot Café wat die kos en reëlings daar hanteer het was net die beste.  Hulle moes soveel goed maak en was net ʼn plesier.  Ek troue enige dag weer daar om van hulle gebruik te maak.

Christiaan Baartman en sy orkes se musiek van voor die seremonie tot op die einde was WOW!  Hy het die mense gelees, regte atmosfeer, klank, alles was perfek.  Hy sing ook só mooi!  Was elke sent werd en ons sal hom aanbeveel vir almal.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Michelle:

Hou by jou trourok idee, wat jy gemaklik in voel en wil hê.  Jy ken jou lyf en jouself beter as enige iemand anders.  Jy moet gelukkig wees met jou troue en jou rok.  Niemand anders nie en onthou, dis jou amper man se dag ook.  Hy mag besluite neem en ook kies.  Hy is net so belangrik.

Philip:

Julle moet net onthou die dag gaan oor julle en julle alleen.  So maak dit vir jul self lekker en as julle familie en vriende julle goed ken sal hulle dit ook geniet, want hulle weet dit is wie julle is.

Wittebrood:


Desember is ongelukkig baie duur vir wittebrood en dit is piek seisoen.  Ons het met die Kovid golf 4 getrou so wou net bietjie weg gaan.

Ons het op OneDayOnly se Travel Tuesdays gesien dat The Honeyguides Tented Ranger Camp het ʼn baie goeie aanbod gehad.  3 Aande, 4 dae se ontbyt, happies vir die wildritte, drinkgoed, aandetes was alles ingesluit, met twee 3 uur wildritte daagliks vir die 2 van ons was omtrent R5600. Beste waarde vir geld, skaars 2 ure buite Pretoria.

Minimale sein so jy skakel af en geniet mekaar en waardeer die ontspanning.  Kyk na spesiale aanbiedinge.  Gaan weg vir ʼn middel van die week of gee jouself 1 of 2 dae by die huis net om rustig te pak en te rus na die troue.  Daai 2 dae af help baie!

Eerste Dans:


Ons is albei baie lief vir dans en was voorheen vir danslesse vir die lekkerte.  Toe ons troue beplan het ons Tasché se Baby, ek bly gekies as ons eerste dans liedjie en ʼn paar keer op hom gedans om net ʼn gevoel te kry vir hom en so het ons troue gaan hou.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: