Gerhard & Heloise se moderne troudag

In  die antwoorde van Gerhard en Heloise lees ons hoe hulle besluit het op hul venue vir hul troue en hoe die keuse van die venue hul trou dekor beïnvloed het.  Dit is vir ons by Mooi Troues ‘n goeie idee dat paartjies eerder na die trou venue moet kyk as ‘n leë doek en sodoende besluit oor die dekor wat hul wil gebruik, bv:  Dié venue waar Gerhard en Heloise getrou het is ultra modern en dus sal ‘n Vintage tema nie so goed saam die venue werk nie.

Mooi Troues se lesers kan nou op hul eie tyd deur die paartjie se foto’s hieronder boekrol en baie geïnspireer word deur hul moderne troudag.

Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?


3 November 2018; Bruid 24 en Bruidegom 29

Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?


Ons het deur ʼn gemeenskaplike vriend ontmoet in 2011.  Gerhard het Heloise gevra in Oktober 2017 na haar nagraadse studies voltooi was, op hul familieplaas in Sutherland.

Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?


Ek, my ma, suster en een vriendin het vroeg al begin om na verskeie bruidswinkels en ontwerpers te gaan.  Dit was die regte ding om te doen, want elke plek het iets mooi opgelewer, maar algaande het my keuse vir hoe die rok moet lyk verander.  Toe ons by Callegra op my rok afkom, het ek geweet dis wat ek soek.  Die ontwerper, Kobus Dippenaar, was gaaf genoeg om dit net effe aan te pas totdat ek 100% tevrede was.  Callegra se diens was ook die beste.

Vertel ons meer van jul ringe.


Gerhard het baie moeite met my verloofring gemaak. Die ring is in Pretoria gemaak (Beaudell Jewellery), maar die diamant is in Kaapstad gekoop (Cape Diamonds).  My ma het die diamant saam met haar opvlieg (terwyl hy nie kon verseker word as los diamant nie),  tydens ʼn kuier aan my ouma.  Sy was natuurlik baie versigtig gewees om dit nie te verloor nie en het dit in haar stewels wat sy aangehad het opgevlieg! Die trouring het ek en my ma ontwerp en laat maak in die Kaap, weer by Cape Diamonds.

Gerhard se ring is ook by Beaudell Jewellery gekoop, waar ons my verloofring laat maak het.  Dit was gelukkig ʼn baie makliker storie, hulle het dit net laat koerier na ons toe.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Ons fotograaf, Michelle du Toit, was saam met Gerhard op skool, wat vir ons daardie ekstra ‘persoonlike kontak’ aan die sessie gegee het.  Die videograaf was Karina van SALT Productions.  Ons wou aanvanklik nie ʼn video laat maak nie en het op nommer 99 daarop besluit en 3 kwotasies aangevra.  Ons was so gelukkig dat Karina – ons eerste keuse- ons naweek in die maand nog beskikbaar gehad het.  Albei Michelle en Karina het al troues by ons venue gedek, so alles het seepglad verloop.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?


Toe ek die eerste keer sien hoe mooi my vrou lyk in haar trourok.  Dink ons Videograaf het dit perfek saamgevat in ons trouvideo.

Sou minder gestres het oor die beplanning en op die dag.  Op die einde werk alles uit soos dit moet

Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?


Die jaar vantevore het ons by Bosjes se restaurant gaan eet en dadelik verlief geraak op die plek.  Ons het na verskeie ander venues gaan kyk, maar Bosjes het vir ons ingepas by ons persoonlikhede en so het ons dit uiteindelik geboek vir ʼn datum wat ons pas. Vir dekor het ek baie van die internet gebruik gemaak vir idees.  Die onthaalsaal het natuurlik ook ʼn rol gespeel omdat dit op sigself so mooi is dat daar min dekor nodig was.

Vertel ons meer oor jul eerste dans


Die eerste dans was op ‘If I ever saw heaven’ van Roan Ash.  Gerhard het die liedjie die week van die troue ontdek en daarop besluit … Ek het gedink dit som persies op hoe ek oor Heloise voel.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Bali was ons bestemming vir ons wittebrood … Dit was my man se eerste keer oorsee en ons wou graag hulle kultuur gaan beleef het.  Dit het ook gelukkig in ons begroting ingepas.  Ons het daar ʼn bromponie gehuur en die plek platgery en elke oomblik geniet.  Ons het in Kuta & Nusa Dua gebly, maar die hele Bali plat gereis.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?


Ons het nie ‘n vaste begroting gehad nie, maar natuurlik het elkeen sy voorkeure oor hoeveel geld hy of sy op wat wil spandeer.  Daar was gefokus op wat vir ons belangrik is, soos bv. die kos en wyn. Baie graag wou ons, ons 100 gaste bederf en tyd spandeer saam met die mense wat vir ons die meeste beteken in die lewe.  Terselfdertyd was die dekor baie maklik, omdat Bosjes so pragtige plek is – ons kom wegkom met minder blomme maar meer eksotiese soorte, soos Orgidee en Anthuriums.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Bruid: Beplan die dag soos julle dit wil hê, jou troudag moet ʼn refleksie wees van wie julle is.  So spandeer geld op wat vir julle belangrik is. Maak gebruik van ʼn tou koördineerder, dan kan jy die dag van jou troue op jouself fokus.

Bruidegom: Dit kan nie genoeg gesê word nie, maar probeer elke oomblik geniet , want dis in n oogwink verby.  Wat ookal julle besluit , maak seker dis wat julle wil hê.


    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: