Trou Beplanning Advies Stap 3 van 12

Mooi Troues se lesers kan ons 12-stap trou beplanning advies reeks van artikels volg wat maandeliks op Mooi Troues gepubliseer sal word.  In hierdie advies artikels gee ons vir jou elke maand ʼn lys van items waaraan jy moet aandag gee.  Ons het die trou beplanning opgebreek in kleiner stukkies, sodat dit nie só oorweldigend is om alles op eenslag te lees nie.

Om ʼn troue te beplan is baie stresvol, veral as jy ʼn selfdoen troue wil hou.  Mooi Troues help jou om dit maklik en stresvry te doen met ons reeks opvolgende advies artikels. Klik hier vir meer advies artikels.

Ons het die vorige keer die tweede van ons twaalf maande trou beplanning aftiklys gedeel.  Teen die tyd sal jul nou al ʼn beter idee hê van julle begroting en hoeveel julle op wat wil spandeer.  Maak seker jy kyk net na trou diensverskaffers binne julle begroting, sodat julle nie julself depressief maak nie.

As julle nog nie die punte in ons vorige artikels gedoen het nie, moet nie stres nie, jul kan dit doen teen jul eie spoed.  Hierdie artikels is slegs ʼn riglyn vir jou om te gebruik om jou troue minder stresvol te maak deur ʼn jaar voor die tyd al met die beplanning proses te begin.  Daar is paartjies wat daarvan hou om hulle troue in korter tydperke te doen, met bietjie meer stres. Daar is niks fout daarmee nie.

Vir ons derde artikel van ons 12-stap trou stap trou beplanning advies reeks, rol af.

Visie Bord:


As julle nog nie ʼn visie bord gemaak het nie, is dit nóú die tyd om vir julle een te maak.  Dit is net makliker om al julle idees visueel te sien.  As julle met trou diensverskaffers gesels kan julle ook die visie bord met hul deel, sodat hulle jul visie kan verstaan.  Daar is baie oulike programme wat jy kan gebruik vir ‘n visie bord, een van dit is Pinterest.  Mooi Troues se Pinterest profiel is propvol oulike trou inspirasie vir julle om te gebruik vir jul eie troudag.

Indien julle in Suid-Afrika trou, probeer jul Pinterest bord so plaaslik moontlik te hou.  Daar is soveel pragtige trou idees van regoor die wêreld, maar wat jy moontlik nie sal vind in Suid-Afrika nie.  Veral wanneer dit kom by seker dekor items.  As julle die begroting het om goed van oorsee af in te vlieg, dan kan julle maar daardie internasionale borde enige tyd op jul kortlys sit.

Die visie bord is daar vir inspirasie doeleindes en julle troue hoef nie presies dieselfde te lyk nie.

Wat moes ons teen die tyd al gedoen het?


As julle nog nie begin beplan het nie, moet nie stres nie. Daar is altyd genoeg tyd.  Dit beteken net dat julle meer moet doen oor ʼn korter tydperk. Dit is nie onmoontlik nie, julle sal net meer moet fokus en aandag gee aan julle trou beplanning proses.

Onder is ‘n riglyn van min of meer wat jul teen nou al moes gedoen het as julle ons 12 stap reeks volg:
  • Die Begroting moet nou al gefinaliseer wees, sodat jy weet waarop jy wat kan spandeer.
  • Trou Datum van julle troue.  Dit moet definitief al gefinaliseer wees.  Sonder ʼn datum kan julle niks bespreek nie.
  • Venue vir jul troue moet teen die tyd al gefinaliseer wees.  Onthou om jou deposito te betaal en ook die kontrak baie noukeurig deur te lees voordat julle dit teken.
  • Bekende Trou Diensverskaffers ontmoet het en begin boek het.  Bekende diensverskaffers is lank voor die tyd bespreek, so om seker te maak julle kry hulle vir jul troue, sal julle hulle spoedig moontlik moet boek.
  • Fotograwe en Videograwe ontmoet het ons gekyk het na webtuistes of werk in persoon.  Begin dink om een te bespreek as julle nog nie iemand bespreek het nie.
  • Besluit het of dit ʼn Selfdoen Troue gaan wees en of julle ʼn Trou Koördineerder gaan huur.  Dit is nou die tyd om dit definitief te finaliseer.  Trou Koördineerders kort ook tyd om troues te beplan.  Julle sal nie hulle enigste kliënt wees nie, so bespreek een so gou moontlik.
  • ʼn Idee hê van die dekor styl waarvan julle hou, asook die algehele styl van die troue.
  • Begin dink het aan trou diensverskaffers wat jul moontlik wil gebruik.

Kry versekering vir julle troue:


Jy lees reg ja!  Daar is trou versekering vir julle troudag wat julle sal dek in omstandighede buiten julle beheer.  Dit is ʼn redelike nuwe konsep in Suid-Afrika, maar word al lankal in die buiteland gedoen.  Dit is ʼn fantastiese manier om julself ʼn stres vrye trou beplanning proses te hê.  Verseker julle troue met I Do Insure™️Klik hier om meer te lees oor verskillende versekering opsies vir julle troue.

Finaliseer die gastelys van buitelandse gaste:


Buitelandse gaste van buite Suid-Afrika moet reis planne maak om jul troue by te woon.  Maak seker julle finaliseer jul gastelys van buitelandse gaste só spoedig moontlik.  Buitelandse gaste moet moet langer verlof insit om na julle troudag te reis.  Hulle moet vlugte en verblyf bespreek.  Dan is daar ook nog ander dinge soos Visa afsprake, reis versekering en al daardie details wat gedoen moet word.  ʼn Goeie tydlyn om jul buitelandse gaste te laat weet sou so ses maande wees, maar drie maande voor die tyd is ook nog aanvaarbaar.

Wil julle dalk buite Suid-Afrika trou?


As julle daaraan dink om ʼn bestemming troue hê buitekant Suid-Afrika dan moet julle die gaste vroegtydig inlig.  Of julle nou wil trou op ʼn eiland in Mauritius of ‘n stedelike troue in New York, gaste moet vooruit beplan daarvoor.  Indien julle nie die gaste se reis kostes en verblyf betaal nie, sal hulle moontlik moet spaar daarvoor.  ʼn Goeie tydlyn om jul trou gaste te laat weet van jul buitelandse troue sou so ses maande voor die troudatum wees, maar drie maande voor die tyd is ook nog aanvaarbaar.

Die bruid se trourok:


Toekomstige bruide, begin solank dink aan jou trourok.  Om ‘n trourok te kies hoef nie ʼn stresvolle ervaring te wees nie.

Hier is ‘n paar dinge wat jy ingedagte moet hou:
  • Wil jy ʼn trourok laat ontwerp, ʼn trourok koop of ʼn trourok huur by ʼn bruids boetiek?
  • Maak ʼn kortlys van die tipe trourokke waarvan jy hou?
  • Watter materiaal trourok wil jy hê?
  • Snit en styl van die trourok?
  • Kleur van die trourok?

Artikel Krediet: