Marno & Jaunmari se industriële troue

Marno en Jaunmari se industriële trou-konsep was gebaseer rondom die idee van ‘n industriële en ontspanne gevoel op hul groot dag.  Die tema het ook deurgespoel na hul dekor-keuses en het gelei tot die keuse van hul venue waar markies gewoonlik gehou word in middel van die middestad in Pretoria.  Marno en Jaunmari paartjie foto’s het ongelooflik mooi gelyk met die kontras tussen hul formele uitrustings en die rustieke geboue.

Die paartjie het ook die meeste van hul fotosessie gemaak deur na die sonsak weer foto’s te gaan neem en sodoende die stad-liggies vasgevang.  Tydens die tyd na die seremonie en voor die onthaal het al die gaste lekker saamgekuier in ‘n buitelug area wat ‘n feestige markie gevoel gehad het en daarna inbeweeg na die onthaal saal wat effe meer formeel was. Wees seker om te sien watter oulike speletjie die paartjie vir hul gaste beskikbaar gestel het in die buitelug area!

In dié  artikel vertel hulle oor hul ontmoeting en hul ongelooflike mooi verlowings-storie wat beslis ‘n moet lees is!  Lees gerus verder om meer van die pragtige foto’s en mooi verhaal te sien.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


Ons het getrou op die 7de April 2018 en Marno was 29 en Jaunmari 25 jaar oud op die dag.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons altwee het op die Puk (Noordwes Universiteit van Potchefstroom) studeer.  Deur die “georganiseerde studentelewe” en sosiale geleenthede van die kampus mekaar ontmoet of van mekaar bewus geword.  Ons het die eerste keer met mekaar gepraat in my koshuis, Heide Dameskoshuis, toe ons ‘n sosiale aksie met sy koshuis, Veritas Manskoshuis, gehad het.  Vir ses maande was ons eers net baie goeie vriende voordat ons begin uitgaan het.  Vyf jaar later noem ons mekaar man en vrou.

Hoe het julle verloof geraak?


Die oploop na die verlowing was baie stresvol, want ek soek ‘n verassing, maar hou nie van verassings nie.  Marno het dit wel baie goed reg gekry om alles weg te steek en ek was baie verras.

Soos Jaunmari sê; wat verrassings betref was sy ietwat moeilik gewees.  Sy wou graag verras word met die verlowing, maar het om elke hoek ek en draai probeer uitsnuffel wanneer dit gaan gebeur en of alles op skedule is.

Ek het besluit om die vraag op die treinbrug by Potchefstroom dam te vra. Die ligging dra baie sentiment omdat dit onder andere is waar ons, ons eerste afspraak gehad het.

Die dag van ons eerste afspraak het my kar vas gesit in die modder, ons Pizza het koud geword terwyl ons probeer het om dit uit te kry en toe ons uiteindelik by die plek kom, was daar ‘n ander paartjie reeds daar.  Boonop die voorgemelde moes ons terug stap na ons koshuise toe want die kar (wat ek nou nog het met moddervlekke aan die binnekant as bewyse) het besluit dat ons nie te vinnig die aand kan afsluit nie.

Ek was besig met kursusse gedurende ons verlowings maand en het ek aan Jaunmari verduidelik dat ek een van die kursusse in Potchefstroom sal moet bywoon.  Ek het haar toe oorreed dat dit sal goed wees as sy saam gaan, want dan kan ons vir haar ouers in Kroonstad gaan kuier.

Soos dit maar Jaunmari se persoonlikheid is, was sy baie agterdogtig en het reeds vermoed dat iets aan die broei was.  Waarmee sy nie rekening gehou het nie was dat ek paar medepligtiges genader het om my plan uit te voer.

Haar ma en haar sussie het kamstig ‘n rusie gehad en was sy onder die indruk dat haar gesin haaks was; so die moontlikheid dat hulle by haar verlowing sou wees was vir haar skraal.

Sy het nietemin optimisties hoop gehad. Sy sou verder my ma en my sussie in Potchefstroom ontmoet het terwyl ek besig was met my “kursus”.  Die ontmoeting was toevallig aanhoudend uitgestel as gevolg van betogings op die Carletonville pad. (Die betogings was nie beplan nie maar die noodlot was aan my kant en het dit die die perfekte milieu geskep in die vorm van ongeduld toe daar teen 4uur daardie dag geen rigting aan die dag was nie en Jaunmari van 9uur die oggend af al alleen in die winkelsentrum moes dwaal.)

Jaunmari was te moeg om te protesteer toe ek voorstel dat ons ‘n draai maak by een van ons gunsteling kuierplekke langs die dam wat onlangs af gebrand het.  Sy het onbehoeds in my strik getrap toe sy vir my die volgende vraag vra: Weet jy waar was ons lanklaas, daai plekkie by die dam waar ons eerste “afspraak” was?

Minwetend dat ons eintlik reeds in daardie rigting op pad was het ek voor gestel dat ons beslis daar sal moet gaan draai en gaan kyk hoe dinge deesdae daar lyk.  Toe ons daar arriveer was dit vir haar ‘n behoorlike verrassing toe sy beide ons gesinne daar kry sowel as haar beste vriendin al die pad van Nelspruit af.

Ons het die aand in ‘n lodge naby Potchefstroom saam die gesinne en vriende spandeer en die verlowing behoorlik saam almal gevier.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


As mense my vra sou ek myself uit gee as ‘n kenner, maar eintlik weet ons nie baie van foto’s en video’s of die “redigering” daarvan nie.  Ons was wel eenstemmig oor die “gevoel” wat ons gesoek het.

Ons het mense gesoek wat die kuns bemeester het om die egte oomblikke raak te sien, tussen die warboel van ‘n troue.  Almal kan stilstaan en glimlag vir ‘n kamera maar nie almal kan die oomblikke voor en na die glimlag uitstekend raak vang nie.

Ons het menigte verskaffers deur gekam tot ons by die regte mense kon kom wat ons begroting pas.  Ons het werklik so ‘n “Gouelokkies ervaring” met hulle gehad.  “Net perfek”.  Die eindproduk weerspieël dit en het hulle ons verwagtinge oortref.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Ek sou voorstel dat paartjies nog voor hulle begin beplan dat hulle eers saam sit en hulle onderskeie verwagtinge bespreek en dalk neerskryf ook.  Mens moet die geleentheid skep om verwagtinge te oortref as mens met redelike sekerheid kan weet wat dit is.  Teleurstelling is die logiese gevolg as die een nie weet of behoort te weet wat die ander een verwag nie en kan dit maklik vermy word deur gereeld te evalueer of elkeen op dieselfde bladsy is.

Vertel ons meer van jul ringe


My ring is gemaak deur Marion Rehwinkel en sy is werklik net fantasties in wat sy doen.  Hy het vir haar die prentjie gewys en sy het haar “betowering” bygevoeg en werklik iets buitengewoon besonders ontwerp.  My ring bestaan uit roosgoud, 24 klein diamante en ‘n morganiet steen in die middel.  Hulle het spesiaal twee diamante aan die onderkant van my ring gesit wat nie noodwendig met die blote oog gesien kan word nie, maar dit maak die ring net soveel meer spesiaal en eg myne.  Ek is versot op hom.

Marno se ring is gemaak deur Titanium Studio.  Hy wou ook iets anders hê, maar tog stylvol.  Hy het gehou van die idee van ‘n hout en bokhoring ring, maar omdat altwee daardie elemente baie sag is, maak dit die ring baie swak.  Ons het toe ‘n middeweg gevind.  So sy ring bestaan uit hout, roosgoud en titanium.  Die titanium is aan die kante om die ring te versterk met die roosgoud en hout in die middel.  Die roosgoud is ook net ‘n baie klein deel om aan te sluit by my ring.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag?


Jaunmari: “Vir my was dit om net vir ‘n oomblik te kon stil staan alles te kon in neem en net te kon sien hoe die gaste alles geniet en gelukkig is om die geleentheid saam met ons te deel.”

Marno: “Dat ons die kans gevat het om bietjie anders te wees as waaraan ons gewoond was en dit perfek uitgewerk het en dat alles so in plek geval met min moeite.”

Wat sou julle verander indien moontlik?


Ek sou niks verander nie.  Dit was die perfekste dag van my lewe.

Hoe het julle die venue gekies?


Toe Marno vir my gesê het ek kan solank begin troue beplan.  Het ons dadelik begin kyk na venues in ons onmiddellike omgewing. Spesifiek vir iets baie natuurlik en met ‘n industriële gevoel.

Daar is nie baie van daardie tipe venues nie en moes ons buite die boks begin dink.  Ek het toe begin kyk na waar hulle elke naweek ‘n mark of iets hou en toe het ek op 012 Central af gekom.  Ons het na die venue gaan kyk en was met die eerste oog opslag verlief.

Die venue het alles en meer gehad as wat ons wou hê.  Dit was groot genoeg en het so baie moontlikhede gebied dat ons die seremonie en onthaal daar kon doen.  In die middestad van Pretoria sonder dat jy weet of besef jy is daar.  Dit was net anders en presies wat ons wou hê.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Die industriële gevoel is waarvan ons hou en dit was maar basies ons inspirasie.  Ons het die venue en ons voorkeure van kleure en teksture ook in ag geneem. Die kleure waarop ons besluit het was roosgoud en grys.  Ons blomme was alles wit en groen.  Die dekor het bestaan uit roosgoud geometriese vorms en glas.  Die tafels was hout en Perspex tiffany stoele om by te dra by die glas op die tafels.  Ons servette was grys.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ek dink almal sal sê dat hulle begrotings beperk is en dit moet ook so wees.  ‘n Troue hoef nie so duur te wees nie.

Ons kon egter dit reg kry om kreatief binne ons begroting te werk.  So het ons intensioneel verskaffers gesoek wat nie verskonings gesoek het vir waarom iets nie kan werk nie.  Eerder met oplossings gekom het wat aanvullend was, indien nie heeltemal beter was as wat ons voor gestel het nie.

As mens geld moet spandeer, moet dit meer spandeer word op die volgende elemente:

– Kos en verversings;
– Goeie musiek;
– Fotograwe en/of videograwe.

Die res van die goed vergeet mense vinnig.  Mens moet mooi dink of jy geld wil spandeer op iets wat nie ‘n hoogtepunt is wanneer mens maande later die herinneringe deel nie

Waarheen was julle vir wittebrood gewees?


Dit was makliker om Jaunmari heeltemal te verras wanneer ons na ‘n plek gaan waarvan sy veel weet nie. Dit het toe daarop neergekom oor hoe goed ek vir Jaunmari ken… Thailand het prentjie mooi strande, met turkooise water, en dis tog waaraan mens dink as jy dink aan ‘n wittebrood.  Jaunmari is lief vir kosmaak en hou baie daarvan om te gaan vir ‘n spa.  Haar voorliefde is egter om te “shop” en Thailand bied al hierdie dinge en meer.

Die gevolg was ‘n behoorlike avontuur.  Ons het ons trommeldik gevreet; Jaunmari het gegaan vir ‘n bekende Thai massering terwyl ek in die swembad gedryf het.  Ek kon Jaunmari aan snorkel blootstel en was ons bevoorreg om paar nagte op die Phi Phi eilande te spandeer waar ons net paar meter van die strand af in die rustige water nuwe wêrelde kon verken.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: