Christo & Ela se plaastroue

Vandag deel ons Christo en Ela se plaastroue by een van Mooi Troues se adverteerders, Bon Cap Guestfarm & Wedding Venue.  Hulle beslis ʼn trou venue om te oorweeg indien jy opsoek is na ʼn een-stop oplossing vir jou groot dag.  Die venue bied alle dienste van spyseniering tot dekor en beplanning en is ook geleë in die prentjie mooi wynlande van die Robertson distrik.  Hierdie is ook een van die groot redes waarom die paartjie besluit het om die venue te kies.

Hulle vertel onder ook meer oor presies hoe baie die venue bestuurder, Michelle, se hulp vir hulle beteken het asook al die administratiewe reëlings wat sy getref het sodat hulle die dag kon geniet en oor niks bekommerd hoef te gewees het nie.  Die paartjie gee slim raad vir toekomstige paartjies wat prakties geïmplementeer kan word by die beplannings proses.  Wees ook seker om te sien hoe hulle die kinder-tafel omskep het om heel aand die kleuters besig te hou en seker te maak dat alle gaste die aand kan geniet.

Wat was jul trou datum en hoe oud was julle op dié dag?


On stroue was op die 31ste Maart 2018 gewees.  Ela was 25 en Christo 29 op die dag. 

Hoe het julle ontmoet?


Ons het mekaar ontmoet by ʼn rugby wedstryd by Nuweland in die kroeg… Ek het toe vir Christo gevra vir sy nommer en het eers na ʼn paar maande hom gekontak toe ek weer afkom op sy naam en nommer op my foon. Hy het toe weer kom kuier vir my in die Kaap en na die eerste afspraak het ons altwee geweet.

Hoe het julle verloof geraak?


Christo het my verras deur ons altwee se familie by mekaar te kry en in Hermanus se ou hawe op die rotse gevra.

Hoe het julle die venue gekies?


Ons het baie venues op Google gesoek en ander ook opgesoek voordat ons gery het en gaan kyk het in persoon. Ek het toevallig op Michelle en Boncap afgekom op TV/Via en kon die naam onthou.  Ek het toe besluit om haar te kontak. Die hoof rede hoekom ons haar gekies het, was omdat dit bekostigbaar was. Baie trou venues is belaglik met hul pryse. Nie te min het ons verder gesoek en het ʼn paar gehad, maar toe ons haar ontmoet was die atmosfeer en die vriendelikheid van haar en haar span so wonderlik ons het nie eers vêrder gaan kyk nie.

Die groot ding wat ons laat besluit het, was Michelle.  Michelle sê reguit wat werk en wat werk nie. Sy het baie, baie goeie raad gegee. Nog ʼn groot rede was dat sy en haar span alles kon doen vir ons. Blomme, kos, koek, dekor en dit help baie. Sy het ook ʼn wonderlik lys gegee van fotograwe en videograwe en ander verskaffers wat ons werk en beplanning so maklik gemaak het. Mens kon sien sy is ʼn professionele mens met soveel ondervinding. 

Omdat my familie van die Oos-Kaap af kom was dit ook ʼn groot deel van ons besluit. Michelle hulle het slaapplek vir 36 mense op die gasteplaas en het ons familie almal by die venue se akkommodasie geslaap, dit help sodat mens nie hoef te bestuur nie.

Wat was jul inspirasie vir die dekor?


Ek en Christo is doodgewone mense en wou nie te veel goed op die tafels hê nie.  Ons het besluit om Proteas te gebruik, want dit is groot en staan uit.  Baie tyd is  op Pinterest spandeer!  Met Michelle van Bon Cap se hulp het ons gekyk wat werk en wat nie.  Ons wou beslis nie ʼn plaas-tema hê nie, al is Christo en al ons familie en vriende omtrent boere.  Ons het gevoel die rustieke plaas-styl was al te veel gedoen.

Hoe het julle die ontwerp van jul ringe gekies?


Christo het ʼn pragtige ring laat maak vir my by Viljoen Juweliers in Worcester.  Met drie diamant stene en klein steentjies langs die kant. Ek het vir hom drie fotos gewys met ringe waarvan ek hou en hy het so goed beplan dat hulle al drie ontwerpe kon gebruik om een ring te maak. Ons het toe later twee punte laat byvoeg aan die kante. Vas aan die ring. Die ring is ʼn platinum ring en vir iemand wie baie besig is op die plaas is dit perfek want hy bly silwer en blink en krap baie min. Hy is ook wel duurder as die ander. Christo het ʼn titanium ring gevat met een silwer lyn in die middel.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag?


Die lekkerste deel van ons aand was om te sien hoe baie mense hulself geniet en ons was een van die min paartjies wat toegelaat het om kinders by ons troue te hê en dit was iets wat ook ons aand verryk het. Mense het hoeveel keer gesê dis so oulik dat ons ʼn kinder-tafel gehad het en om hulle te sien die aand net so geniet soos ons.

Wie was jul fotograaf en videograaf gewees?


Elana van Zyl was van dag een af ons eerste keuse as fotograaf en seker ook die hoogtepunt van ons dag.  Omdat sy so spontaan is en ʼn wonderlike persoonlikheid het, het ons dadelik ontspan en ons foto’s so geniet.  Sy het ons so gemaklik voel, veral omdat ons plaas mense is en nie regtig weet wat om voor ʼn kamera te doen nie.  Elana leer ʼn mens ken, sodat jy op die dag van die troue nie voel asof jy met ʼn vreemdeling werk nie.  Toe ons foto’s neem waar ek aantrek, het sy heeltyd vir my gesê “Ela ons is op tyd.”  Dit het my laat ontspan. 

Ons het lekker saam gegrap en gelag en dit het het regtig ons aand spesiaal gemaak. Dit was vir ons belangrik om ʼn professionele en goeie fotograaf te kry wat die oomblik kon afneem en die mense se emosies in die oomblik vasvang.  Elana het dit 110% gedoen.  Ons kan nie genoeg dankie sê nie!

Ons het Breede Photography gebruik as ons videograaf.  Hulle was ook fantasties.  Hulle was stil en het heeltyd hul kameras aan gehad in die agtergrond; Niemand ooit gepla nie.

Wat sou jul verander as jul kon?


Ons troue was perfek en ek dink nie ons sou iets wou verander nie. Ek wens ons kon langer kuier en by almal kuier, want mens kan nie by almal lank genoeg kuier nie.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat hul troue beplan?


ʼn Mens Pinterest ʼn ding simpel as jy trou en jy wil altyd hê wat jy op die fotos sien, maar soos ʼn mens nader aan die troue kom, begin al daardie klein goedjies vinnig geld kos.  As jy byvoorbeeld iets wil laat laser sny of spesiale geskenkies wil gee ens.  sou ek aanbeveel jy moet maar elke maand ietsie doen en daarvoor betaal.  Dit het ons baie gehelp.

Ek sou ook sê, moet nie te veel vir mense sê wat jy doen nie, want almal het altyd hul eie opinie en dit raak aan ʼn mens as jy voel ander hou nie van jou idee nie ens. Dis jou troue!

As dit kom by venue, fotograwe en videograwe, is dit nie te sê dat omdat hulle mal pryse vrae dat hulle die beste opsie is nie.  Daar is so baie verskaffers, doen eers jou huiswerk.

As jy op wittebrood gaan, boek-in sommer die Vrydag voor jou troue, om vlugte te mis op jou eerste dag van Wittebrood is niks lekker nie, veral as jy net 2 ure geslaap het.

Hoe nader mens aan die troue kom hoe meer sê jy nee vir daardie klein goedjies bv. Ek wou vir die mans kouse laat druk ens. ʼn Mens gee al so baie geld uit dat jy die klein dingetjies, nog iets was kruisbande, ek wou leer kruisbande gehad het en 3 strooijonkers vir R400 elk was net nie die moeite werd nie, so vra maar jouself voor jy iets koop, (gaan hulle dit weer na die troue gebruik?)

Die laaste sal wees die tafels met gaste. Glo my dit was my moeilikste deel van ons troue. Om almal gelukkig te hou en seker te maak hulle sit by mense wie hulle ken. Ons het tafels van 12 gehad en raad wat ek by my skoonsuster gekry het, was maak altyd seker 2 paartjies by die tafels ken mekaar.  Dit het gemaak dat die hele atmosfeer by die troue so lekker was, want jy het nooit gesien dat mense verveeld of stil is nie.

Laaste, kry ‘n goeie platejoggie!  Mense het heel aand gedans en dit was een van ons hoogte punte.

Wat was julle begroting vir jul troue?


Ons begroting was R100 000 by die venue en Michelle breek dit op in dele vir julle as paartjie. Byvoorbeeld sy vra vir jou hoeveel wil jy op blomme spandeer en dekor, ens.  Dit het baie gehelp.  Haar sisteem en manier van doen was uitstekend.  Sy gee vir jou ʼn “bridal planner” en is altyd beskikbaar.

Was julle met wittebrood gewees?


Ek het heel aand vir almal vertel hoe ons na ʼn eiland by Mosambiek toe gaan, maar toe ons by die lughawe kom die Sondag oggend, toe laat weet Christo my, dis eintlik Mauritius. As gevolg van vliegtuig wat stukkend was in die Kaap het ons, ons vlug gemis uit Johannesburg uit. Ons het darem in ʼn lekker hotel geslaap en hulle het ons toe eerste klas gevlieg. Dit was baie baie lekker en daar was soveel wat ʼn mens kon doen.  Niemand ken jou nie en na ʼn week moes ons terug kom.

Nog advies vir iemand wie se man lank is. Betaal maar die ekstra vir eerste klas. Ons het ses ure op ʼn vliegtuig gesit in ekonomiese klas en Christo was nie gelukkig nie.  Sy bene was te lank en sy skouers te breed. Vat ook baie sakgeld en ons het ook besluit om geskenkies net vir onsself te koop niemand anders nie. Die wittebrood was net oor ons.


    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: