Carl & Tyra se liefdes-storie in foto’s

Telkemale dink mens terug aan ʼn spesiale tyd in jou lewe en wens jy het foto’s om daardie oomblikke ten volle te onthou.  Die emosies wat jy daardie tyd gevoel het raak vae herinneringe wat slegs terug kan kom indien jy jou oë styf toeknyp en die oomblik probeer herleef.  Carl en Tyra het besluit om hul liefdes-storie in foto’s vas te vang en nié in hierdie strik te trap nie.  Swak kwaliteit en soms vae selfoon foto’s gaan beslis nie hul vreugdevolle verhouding ten volle kan vasvang nie.  Die paartjie is al 12 maande in ʼn gelukkige verhouding en sien uit om nog baie sulke pragtige foto’s saam te neem!

Carl en Tyra is bewys dat jy nie ʼn verskoning nodig het ʼn professionele foto’s te laat neem nie.  As jy gelukkig genoeg is om kosbare liefde te vind, is dit ʼn oorgenoeg rede!

Rol af vir foto’s van Carl en Tyra se vreugdevolle fotosessie en verkry inspirasie om jou eie fotosessie te beplan.

Die eerste ontmoeting:


Ek en Carl se eerste ontmoeting was in ʼn koffiewinkel.  Carl was baie op sy senuwees en was al ʼn uur voor die tyd daar!  Toe ek daar aankom, het hy met sy rug na my toe gesit.  Ek het hom op sy 2de naam genoem, Wynand, omdat ek nie sy naam mooi kon uitspreek nie.  Hy het so groot geskrik vir my!  Ons het vir ure gesels asof ons mekaar al baie lank ken.  Ons eerste amptelike afspraak was twee weke later met ʼn piekniek agter op die bakkie tydens die sonsondergang.  Ek en Carl is nou al ʼn jaar in ʼn verhouding.

Gunsteling eienskappe van mekaar:


Tyra:  My gunsteling eienskap van Carl is dat hy glad nie selfsugtig is nie.  Hy sal altyd probeer help waar hy kan en hy is ʼn baie positiewe mens;  Hy praat my elke liewe dag moed in.  Carl is baie liefdevol, snaaks en lag lekker!

Carl:  My gunsteling eienskap van Tyra is dat sy so plat op die aarde is.  Sy aanvaar my en al my geite en ondersteun my in alles wat ek aanpak.

Drome as paartjie:


Ons droom is om saam die wêreld te sien en net elke dag voluit te leef.  Ons besef dat tyd geleen is.  Dis waarom ons alles aanpak en altyd doenig is met iets.  Ons doelwit is om saam te groei en suksesvol te wees in ons loopbane, asook saam in ʼn huwelik eendag.

Dinge wat die paartjie hou van om saam te doen:


Ons is lief daarvoor om saam plaas toe te gaan of om iewers heen te ry, sushi te eet of tyd saam met ons 2 hasies te spandeer.  Ek gaan altyd saam met Carl as hy motorfiets gaan ry en ons oefen graag saam.

Rede vir die fotosessie:


Ons het besluit om ʼn fotosessie te doen om mooi, spontane foto’s saam te hê.  Hierdie spesiale oomblikke kan nie deur ʼn “selfie” vasgevang word nie.

Inspirasie agter die fotosessie:


Die plek waar ons foto’s geneem het is op ʼn plaas en dit beeld so mooi uit hoe lief ons vir die buitelewe is.  Alles van ons is baie eenvoudig, maar die blomme rok het ʼn bietjie kleur en lewe ingebring en was daardie ‘wow’-faktor.

Visie vir ʼn romantiese afspraak:


Tyra:  Om Clarens toe te gaan is vir my romanties, omdat dit die plek is waar Carl my uitgevra het.  Maar, ons hoef nie altyd ver weg te gaan om dit spesiaal te maak nie.  Tydens die grendeltydperk het ons afsprake by die huis gemaak met liggies, kerse, fondue en wyn.

Carl: Om vir Tyra weg te vat vir ʼn naweek na ʼn plek waar sy nog nie was nie is vir my lekker.  Ek geniet dit om haar spesiaal te laat voel en haar te verras met blomme en ʼn aand uit vir ete.  Maar, enige plek saam met haar is meer as genoeg vir my.

KOVID 19 se uitwerking op jul verhouding:


KOVID-19 het ʼn effek op ons verhouding gehad, maar in ʼn goeie manier.  Carl werk oorsee en weens COVID het hy nie gevlieg nie.  Daarom het ons baie meer tyd saam mekaar spandeer.  Dit was baie goed vir ons.

Klik hier vir diensverskaffers