Hoe om jou troudag se tydlyn te beplan

Indien jou beplanning nie reg gedoen word nie, of as jy alles los vir die laaste minuut kan trou beplanning kan stresvol wees.  Moenie bekommerd wees nie!  Hierdie artikel is om seker te maak dat alles op die dag van jou troue glad verloop, sonder dat jy op die dag van jou troue hoef te stres oor tyd en wat wanneer moet gebeur.

‘n Skedule sal verseker dat jou diensverskaffers ook almal ingelig is van wat wanneer gebeur sodat al die dinge vlot verloop op jou troudag.  Die belangrikste is om ook tyd saam met familie en vriende te spandeer, sonder om rond te hardloop.  Hierdie artikel is meer gefokus op paartjies wat hulle troue self wil beplan.  As jy gebruik maak van ʼn koördineerder is die onderste slegs ʼn riglyn.  Meeste koördineerders het hulle eie skedules en maniere hoe hulle jou troudag se tydlyn uitlê.

Foto: Cara Faye Weddings

DAG TROUES:

Dag troues is die perfekte opsie vir ‘n kleiner en buite troue.  Indien jy ‘n dag troue het, sal gaste gewoonlik so teen 10vm of 11vm begin arriveer.

Die grootste kommer is vir die fotograaf is sonlig, omdat die lig in die voormiddag en middag baie hard is.  Maak seker jy vra jou fotograaf voor die tyd of hulle in harder lig kan skiet of waar hy/sy die fotosessie sal doen vir die beste resultate.  Ons beveel dus aan dat jy jou fotosessie aan die einde van jou troudag, gedurende skemer doen.  Jy sal steeds daardie mooi, sagte en romantiese foto’s kan kry, soos paartjies wat aand troues hou.

Onthou ook dat daar ʼn moontlikheid kan wees dat dit warm op die dag gaan wees.  Jy moet seker maak dat daar genoeg skaduwee vir jou gaste is.  As jy kos in ʼn buffet-styl wil bedien, of soetigheid het soos ʼn koektafel of vingerhappie tafel, maak seker dat jy ʼn mooi net het om oor dit te plaas.  Die laaste ding wat jy wil hê is dat vlieë op jou gaste se kos sit terwyl hulle opskep.

ʼn Ander oulike idee is om gratis SPF aan jou gaste te spuit wanneer hulle arriveer en ʼn lou warm waslappie te gee om hulle hande daarna af te was.  Jy kan dit weer herhaal voor die onthaal.  Só weet jy al jou gaste is gemaklik en sal nie die volgende dag gebrand wees nie.

Belangrik:  Onthou om in te reken hoe ver jy moet reis vanaf waar jy regmaak tot by jou seremonie area; Of vanaf jou seremonie area na jou onthaal area.

Foto: Cara Faye Weddings
Sien onder ʼn rowwe skedule met min of meer tye van hoe lank verskeie geleenthede duur.
  1. Grimering en hare:  3 tot 4 ure
  2. Aantrek:  20 minute
  3. Kerkdiens:  1 uur
  4. Familie foto’s:  20 minute
  5. Onthaal:  3 tot 4 ure
  6. Fotosessie:  1 tot 1 ½ ure
Sien onder ʼn rowwe skedule met min of meer hoe ʼn dag troue se tye sal verloop.
  1. 07:00  Begin Grimering en hare
  2. 10:30   Begin Aantrek
  3. 11:00   Kerkdiens
  4. 12:30   Familie foto’s
  5. 13:00   Onthaal
  6. 17:00   Fotosessie
Foto: Danielle Olivier

AAND TROUES:

Aand troues is gewoonlik troues waar daar meer gaste is.  Daar word gedans, musiek gemaak en die gaste is baie sosiaal.  Dít is ook jou meer tradisionele troues, waarmee meeste mense bekend is.  Nét soos die dag troues, is ʼn skedule van jou dag baie belangrik om seker te maak dat jy het ʼn stresvrye troudag het.

Foto: Danielle Olivier
Sien onder ʼn rowwe skedule met min of meer tye van hoe lank verskeie geleenthede duur.
  1. Grimering en hare:  3 tot 4 ure
  2. Aantrek:  20 minute
  3. Kerkdiens:  1 uur
  4. Familie foto’s:  20 minute
  5. Fotosessie:  1 tot 1 ½ ure
  6. Onthaal:  3 ure +
Sien onder ʼn rowwe skedule met min of meer hoe ʼn aand troue se tye sal verloop.
  1. 11:00    Begin Grimering en hare
  2. 15:15    Begin Aantrek
  3. 16:00   Kerkdiens
  4. 17:00   Familie foto’s
  5. 17:30    Fotosessie (vroeër in Winter of later in die Somer.  Gaan kyk op die sonsopkoms en sonsondergang berekening deur hier te klik om jou dag daarvolgens te beplan)
  6. 19:00   Onthaal
Foto: Danielle Olivier

ANDER RAAD:

  • Vir jou fotosessie klik hier om te sien wanneer die son in jou area sak.  Maak seker jy beplan jou fotosessie so ʼn uur tot uur en ʼn half voor jou onthaal vir aand troues.  Die sonlig is dan die beste vir romantiese foto’s.  Vra jou fotograaf wat hom/haar die beste sal pas vir die beste foto’s.
  • Maak ʼn lys van groepe familielede wat jy afgeneem wil hê tydens jou familie fotosessie direk ná die kerkdiens.  Dít verseker dat al jou familie, wat jy bymekaar afgeneem wil hê, deel is van die lys.  Die res wat nie op die lys is nie moet gedurende die onthaal ʼn kans afknyp vir vinnige informele foto’s.
  • Maak seker dat jy ʼn behoorlike troutydlyn opstel en dat al jou diensverskaffers tenminste twee weke voor jou troue die skedule ontvang, sodat almal in gelig is oor wat gebeur.
  • As jy tafelfoto’s wil neem, kies ʼn spesifieke area daarvoor.  Foto’s by ʼn vol tafel met glase en versiering lyk nie baie netjies nie en jy kan skaars die mense om die tafel sien.
Foto: Danielle Olivier

Artikel Krediet: