Trourok Advies: Waarvoor betaal jy?

Janita Toerien skryf gee jou advies oor die pryse van trourokke, waarvoor jy betaal en hoekom jy dit betaal.  Janita se Trourok Advies artikel as volg:

Hier gaan ons dalk nou aan ʼn lekker sensitiewe onderwerp raak:

Die prys van ʼn trourok.  ʼn Mens sien gereeld op forums, blogs en hulplyne dat bruide opsoek is na ʼn goedkoop rok.  Dit moet nie ʼn arm en ʼn been kos nie, dis belaglik hoeveel die winkel/ontwerper my op kwoteer het, ens.  Bruide het so maklik ʼn uitlaatklep vir wat hulle dink ʼn onregverdige prys is.  Met wat vergelyk hulle dit?  Waar is die tweede kant van die storie, van die winkel of ontwerper?

Kom ons begin so:

ʼn Besigheid, klein of groot, het uitgawes.  Goed soos huur, elektrisiteit, lone en salarisse.  Daar is dus ʼn sekere hoeveelheid Rand wat per uur gemaak moet word om die basiese bedryfskostes te betaal.  Dan, wanneer ʼn rok baie detail het en dus baie ure gaan neem om te maak, word die rok duurder. Hoeveelheid ure x R/uur.  Hierdie sal dan die basiese of minimum bedryfskostes dek.

Bo-op dit, moet daar ʼn wins gemaak word.  Sonder wins gaan ʼn besigheid nie groei nie.  Dus, vir ʼn besigheid om te groei, om geld te maak om meer voorraad aan te koop.  Om te kan voorsien dat nog ʼn werker aangestel kan word.  Om voorsiening te maak vir onverwagte kostes, moet daar ʼn bietjie meer Rand per uur gemaak word.  Dit maak tog sin.

Jou verskaffer, of dit nou ʼn winkel, ontwerper, fotograaf of bloemis is, se prys per uur gaan meer word met meer ondervinding agter hulle naam. Dis tog ook logies. In enige ander industrie sou jy met jou baas gaan praat oor ʼn verhoging.  Jy voel jou ervaring dra positief by tot die sukses van die maatskappy.  So wanneer ons in die trou-industrie vir onsself werk, gaan ons waarde per uur toeneem.

Die estetiese waarde

Dan kom die ding in wat almal wil hê en niemand voor wil betaal nie, die estetiese waarde.  Estetiese waarde is hoe mooi iets is vir jou en ja, dit verhoog die prys van ʼn item.  Niemand wil vir iets lelik betaal nie, nê?  Ons wil in ʼn mooier huis bly, maar dis duurder.  Ons wil die Swarovski oorbelle hê, maar dis duurder.  Almal is mal oor die rokkie by Forever New, maar dis duurder as die rokkie by Mr Price.  Hoekom?  Wel, behalwe vir kwaliteit, is dit die estetiese waarde.

Dit is ook baie belangrik om te besef en onthou dat die “mooi” of “wow” van ʼn rok meer waardevol is omdat iemand dit gedink, geskets en gemaak het.  Dus, omdat dit uitgedink is, is daar intellektuele waarde.  Dit is moeilik om ʼn prys op te sit.  Dis iemand se intellektuele eiendom en dit is bitter kosbaar.  Dit is nie iets wat jy kan leer soos biologie nie, jy kan dit nie by Pick ʼn Pay koop nie en jy kan dit nie uit ʼn boks haal en gebruik wanneer jy nodig het nie.  Dis iets waarmee jy gebore is, ʼn talent.  Deur te swot, te werk en jou vaardigheid te verfyn raak jy beter en ʼn meester van jou kuns.

Prys van die lap

So ons het die basiese bedryfskostes, die ervaring en die estetiese waarde wat die prys beinvloed.  Wat van die fisiese, die lap?  As ontwerpers het ons almal ons eie manier van doen en ons eie voorkeure vir waar ons lap koop.  Waar ek wel die meeste teleurstelling sien onder bruide is wanneer hulle ʼn vol kant rok wil hê en hulle besef nie hoe duur kant is nie.  Afhangende van waar jy gaan, sal die prys verskil.  Wanneer jy beaded Chantilly Lace reguit uit Frankryk wil hê gaan dit orals duur wees.  Ja, daar is goedkoper kant.  Daar is selfs kant wat R80/m kos!  Ek kan egter vir jou ʼn brief gee dit gaan nie dieselfde lyk as die Chantilly nie.  Dit gaan soos ʼn goedkoop rok lyk.

Weereens, ontwerpers werk op verskillende maniere en ek kan net praat oor my eie voorkeure. Ek verkies kwaliteit bo kwantiteit. Ek voel ʼn rok lyk mooier met ʼn goeie kwaliteit sy en kant. Hiermee bedoel ek nie ons moet die duurste vir jou gebruik nie, maar ten minste ordentlike kwaliteit. So ek verkies rou sy bo Taffeta, en Duchess satyn bo Bridal satyn. Dit is wat bydra tot my rokke en die kwaliteit daarvan. Dit is dan ook hoekom my trourokke, en ander ontwerpers se trourokke wat dieselfde lappe gebruik, dan duurder gaan wees as ʼn rok wat ingevoer is van China wat net uit Taffeta en ʼn Nylon kant bestaan.

cp_0179

Hoe prys bereken word:

Met ander woorde, veronderstel ʼn besigheid moet R100/m² betaal op ʼn werkperseel van 72m² wat   R7 200/maand kos plus ʼn ateljee/winkel om kliënte te sien teen ʼn ekstra R3 600/maand, dit is R10 800/m vir huur. Plus 1 masjinis teen R1200/week en een voleinder teen R1050/week dit is R2050/week en R8 400 per maand. Plus elektrisiteit teen R2 000/maand (strykysters, lugversorger ens), saam met onderhoud, versekering en vervoer teen R4000/maand kyk ons na R25 200/maand sonder ons eie salaris.

Gee onsself so R15 000 salaris en dit is R40 200 per maand. Ons kyk na 22 werksdae gemiddeld per maand en 8 ure per dag wat daar fisiese werk gedoen word werk dit uit op R228.40/uur.  En, sou jy ʼn rok kies wat 80 ure se werk nodig het sal dit R18 272 kos vir die ure sonder die lap.  Maar, ons mag dalk aan 2, 4 of 10 trourokke op ʼn slag werk wat beteken ons kan minder per uur per rok vra en omdat ons in hierdie scenario 3 mense is wat op ʼn slag aan ʼn rok werk beteken dit ons het meer ure per dag en kan dus minder per uur vra. Hou tog ingedagte dat daar, in hierdie scenario, nog nie geld op bemarking of lap vir nuwe trourokke spandeer is nie.

Let wel, hierdie nommers is skattings, baie van ons werk vanuit ons huise, of het ʼn ateljee op ons erf aangebou of met ʼn kreatiewe manier vorendag gekom om kostes te spaar.  Maar, sou ons minder as ons minimum R/uur vra sal ons nie ons huur kan betaal nie, of ons naaldwerkster nie. Glo my, ons betaal hulle altyd, dis meestal ons wat onsself in die voet skiet en onsself minder betaal.

Wees asseblief realisties:

So my liewe bruid, dis nie lekker om te hoor hoe ons te veel vra nie.  Die boodskap wat ek wil oordra is dat ons nie die geld verdien vir ons harde werk nie.  Dit is elke bruid en bruidegom se reg om te spandeer wat hulle begroting toelaat, maar dit is baie onregverdig om die ontwerper, fotograaf, bloemis of koekbakster die boelie te maak wat “te duur” is.  Daar is niks mee fout om ʼn rok te huur as jou begroting nie toelaat vir ʼn ontwerpers rok nie.  Daar is wel fout daarmee om iemand en hulle werk te probeer verneder en kleineer omdat dit volgens jou begroting en jou opinie te veel kos.

Nog nooit sal een van ons kom na jou en vir jou sê “Ek kan nie glo wat jou salaris is nie, dit is te veel en jy verdien dit nie.” Nooit.  Wat ek vra is om die ontwerper se pryse te respekteer en te verstaan dat daar redes is vir die pryse, dat dit nie net uit die lug kom en terloops geprys word nie.

Ek hoop dit bring ʼn bietjie meer lig op die onderwerp en dat daar ʼn bietjie meer inligting is oor die pryse van trourokke.

Volgende keer kyk ons ʼn bietjie na die onrealistiese verwagtinge van bruide as gevolg van die effekte van Photoshop.

cp_0177

Diensverskaffers: