Johann & Inge se romantiese troudag

Johann en Inge het die perfekte voorbeeld van ʼn romantiese elegante troue gehad en het elke detail deurdink – van die tafel rangskikkings tot die blomme by die trappe na die seremonie. Die venue het pragtig aangesluit by die sagte tema om dit bietjie meer rustiek te maak deur al die hout elemente wat teenwoordig is daarbinne.

As jy die tipe bruid is wat al van kleintyd droom oor haar eendag om soos ʼn prinses te voel en omring te word deur sagte kleure, blomme en liefde sal hierdie troue definitief aanklank by jou vind. Die kleurskema was sag en vroulik met kleure soos lig pienk en sagte pers wat hoofsaaklik deurgekom het.  Die blomme was ook ʼn mengsel van groenigheid en rose wat byvoeg tot die romanse van die dag.

Lees onder al die paartjie se slim wenke asook hul lekker tye tydens hul wittebrood.

Hoe het julle ontmoet?


Ons eerste ontmoeting was n blinde afspraak by een van my gunsteling Sushi restaurante. Ons het dadelik ‘’geclick”, land en sand gesels en heerlik gekuier totdat die restaurant sy deure wou sluit! Johann se my oë is vir hom pragtig en is ietsie wat vir hom uitgestaan het. Ek het Johann baie aantreklik gevind, met ʼn baie spontane persoonlikheid. Hy was sjarmant, eerlik en vol van respek met ʼn pragtige opregte hart.

Wat was die styl van jul troue?


Ons troue was klassiek en romanties. Die kleurskema was pastel kleure – ek is baie lief vir ligte pienke en perse met groenigheid daarby. Ek wou graag soveel moontlik kerse en sagte rose in die kerkie, sowel as op die tafel-rangskikkings hê. Ons was baie bevoorreg om emmersvol Pennygum blare te kon kry by Johann se tannie, wat woonagtig is op ʼn plaas in Bredasdorp. Inspirasie het ek op Pinterest gevind. 401 Rozendal was ʼn pragtige, rustieke venue met besonderse kandelare wat weer die moderne kant weerspieël van ons troue.  Dit is geleë in Stellenbosch se wynlande op die Polkadraai pad. Die venue het ook perfek in ons begroting gepas.

Was julle weg met wittebrood?


Ek was bevoorreg om as kind saam met my ouers verskeie eilande te besoek, maar Zanzibar was my eerste keer en werklik baie uniek, spesiaal en romanties! Ons het met dolfyne geswem, gesnorkel, ʼn privaat sandbank piekniek geniet en ʼn stadstoer gedoen in die bekende Stown Town!  Zanzibar is slegs ʼn twee uur vlug vanaf Johannesburg wat dit tydgebonde baie die moeite werd maak. Ons sal hopelik binnekort weer daarheen kan gaan met vakansie!

Wat sou jul verander aan die dag as jul kon?


Ons sou niks aan ons troudag wou verander nie. Dit was werklik die beste en spesiaalste dag van ons lewens en onvergeetlik lekker!  Dit was ʼn groot seëning om al ons spesiale vriende en familie daar te kon hê om saam ons liefde vir mekaar te vier!

Wat is julle advies aan paartjies wat hul troue beplan?


Begin vroegtydig met beplanning en kwotasies inwin van diensverskaffers om pryse te vergelyk. Weet ook wat is julle begroting en bly daarby. Maak seker om nie oorboord te gaan met teveel ekstra goedjies wat niemand oplet nie en slegs ʼn ekstra uitgawe is nie. Die bruid kan gerus ʼn Bruid Skou besoek vir trou inspirasie en om verskillende diensverskaffers te ontmoet. Ek was baie gelukkig om in ʼn gelukkige trekking by die ‘Winelands Bridal Show’ in Stellenbosch ʼn geskenkbewys vir hare en grimering op ons troudag te wen!

Wat was julle trou begroting?


R1200 per persoon wat alles insluit, behalwe my trourok.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: