Hierdie besondere verlowing fotosessie bied pragtige inspirasie vir paartjies wat ʼn liefde vir natuurlike eenvoud en tydlose trou mode het. Rossouw en Carli het gekies om hul liefdesverhaal tussen aard kleurige grasvelde te vier. Die rustige omgewing weerspieël die diep fondasie van hul verhouding.
Vir Rossouw en Carli was die verlowing fotosessie ʼn waardevolle deel van hul troubeplanning. Dit het hulle die geleentheid gebied om voor die groot dag gemaklik voor die kamera te raak. Hulle kon ook ʼn besondere verhouding met hul fotograaf bou. Die resultaat is ʼn versameling onvergeetlike oomblikke wat nie net vir hul trou uitnodigings gebruik kan word nie. Die foto’s sal later ook ʼn permanente plek in hul plaashuis inneem.
Rossouw het Carli met ʼn pasgemaakte verloofring verras. Die ontwerp het hul verwagtinge ver oortref. Met groot sorg het hy ʼn Bybelvers aan die binnekant van die ring laat graveer. Dit dien as ʼn daaglikse herinnering aan die geloof wat die fondament van hul verhouding vorm. Hierdie klein persoonlike detail maak die ring besonder kosbaar en uniek.
Hierdie fotosessie het tussen oop natuur velde plaasgevind. Die kreatiewe visie was gegrond en organies. Die trou fotografie vang die goudkleurige lig van die sonsondergang en die rustige atmosfeer op ʼn besonderse manier vas.
Rossouw en Carli se fotosessie wys dat ’n romantiese viering nie altyd ingewikkeld of buitensporig hoef te wees nie. ’n Natuurlike omgewing en betekenisvolle persoonlike besonderhede kan saamvloei om ’n elegante en tydlose liefdesverhaal te skep. Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids vir meer inspirasie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ek en Rossouw het mekaar vir die eerste keer in Stellenbosch ontmoet. Alhoewel ons mekaar reeds sedert skooldae op sosiale media gevolg het, het ons paaie eers op Valentynsdag van my eerste jaar werklik gekruis. Ek onthou daardie aand baie duidelik! Daar was iets stil en seker in my hart wat my laat besef het dat hierdie ontmoeting betekenisvol is. Asof ek reeds intuïtief geweet het dat hy ʼn besondere rol in my lewe sou speel.
Soos ons mekaar beter leer ken het, het daar ʼn natuurlike gemak tussen ons ontwikkel. Ons verbintenis het nie gevoel as iets wat geforseer moes word nie, maar eerder iets wat organies gegroei het. In een van ons vroeë gesprekke, oor ʼn bottel rooiwyn, het ons opreg begin deel oor ons waardes, geloof en die toekoms wat ons vir onsself hoop om te bou. Dit was in daardie eenvoudige, eerlike oomblik dat ek besef het hoe diep ons perspektiewe met mekaar resoneer.
Ons was ongeveer twee jaar in ʼn verhouding voordat Rossouw my gevra het om sy vrou te word. Vandag kyk ons met groot dankbaarheid terug op ons reis tot dusver. Hierdie reis wat op die regte tyd, op die regte plek, met die regte persoon saamgekom het.

Die groot vraag:
Die verlowing het op 30 Desember 2025 plaasgevind, ʼn dag wat vir ons altyd spesiaal sal bly. As plaasfamilies het ons grootgeword met ʼn tradisie om elke jaar Buffelsbaai toe te gaan vir vakansie, van my ouma tot haar jongste kleinkind. Daardie Desember was veral betekenisvol, aangesien dit die laaste familie-vakansie was voordat my ouma ʼn oumagrootjie sou word. Met ʼn familie so hegte en tradisie-gedrewe, het dit vir my baie beteken om hierdie oomblik met die mense naaste aan my te deel.
Alles was vooraf gereël:
Rossouw het vooraf reeds met my suster, wat ook my beste vriendin is en my niggie gereël om alles glad en onopvallend te laat verloop. Intussen het ek self ʼn naelafspraak gemaak, aangesien ons kort daarna na sy familie op die plaas sou reis en ek altyd beter voel as my naels gedoen is. Ek het daardie dag eenvoudig Knysna toe gegaan in ʼn jean en hemp, sonder enige verwagting van wat voorlê. My suster en niggie het egter gesorg dat ek uiteindelik ʼn rok aanpas en voor ek dit besef het, was ek weer op pad uit sonder die rok en sonder grimering.
’n Romantiese dag in Buffelsbaai:
Op pad het ek vinnig my grimering in die kar gedoen en daarna my naels laat versorg. Rossouw het my toe by die salon kom optel en ons het eers ʼn glasie borrelwyn by Knysna Heads gaan geniet. Toe ons Buffelsbaai inry, het hy rustig voorgestel dat ons eers ʼn klein piekniek saam hou, iets wat heeltemal by sy romantiese aard ingepas het, so dit het nie vir my vreemd gevoel nie.
Ons het op die strand ʼn piekniek geniet met al my gunsteling happies en toe ons saam langs die see stap, het hy op een knie gegaan. Daarna het ons teruggegaan strandhuis toe waar ons deur ons families verras is. Die res van die dag was gevul met vreugde, lag en ʼn onvergeetlike braai saam met almal wat vir ons die meeste beteken.

Hoekom ons mekaar liefhet:
Carli oor Rossouw:
As ek Rossouw in een sin moet beskryf, sal ek sê: Hy is sag sonder om swak te wees en sterk sonder om arrogant te wees. Die eienskap wat ek die meeste bewonder, is sy verhouding met ons Hemelse Vader. Ek weet hy sal ons gesin altyd met wysheid, liefde en volgens God se Woord lei en dit gee my ‘n ongelooflike gevoel van vrede.
Rossouw oor Carli:
My gunsteling eienskap van Carli is dat sy ‘n standvastige, gedrewe vrou van God is. Sy het die besondere vermoë om enige plek soos huis te laat voel. Ek bewonder die manier waarop sy met liefde, warmte en doelgerigtheid deur die lewe stap.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons gaan net minder as ’n jaar verloof wees voordat ons trou. Ek voltooi nog my studies aan die einde van die jaar. Daarom het dit vir ons reg gevoel om eers daardie hoofstuk af te sluit voordat ons aan die volgende een begin.
Ná die troue sien ek baie uit daarna om finaal saam met Rossouw op die plaas te gaan woon. Ons kan dan ons lewe daar saam begin. Ons glo elke seisoen het sy eie tyd. Hierdie tydlyn het van die begin af vir ons net reg gevoel.

Die verloofring:
Ek kan met alle eerlikheid sê dit is die mooiste ring wat ek nog ooit gesien het. Meer as net die ontwerp, is dit vir my ‘n simbool van ons liefde, ons verbintenis en God se getrouheid in ons lewens.
Toe ons oor verloofringe begin gesels het, het ek vir Rossouw ‘n paar inspirasie foto’s en die name van juweliers gestuur waarvan ek gehou het. Van daar af het hy alles self oorgeneem. Saam met ons juwelier het hy my droom ring ontwerp en elke detail met soveel sorg uitgekies. Hy het my heeltemal verras met die eindresultaat.
My gunsteling deel van die ring is egter iets wat niemand van buite kan sien nie. Rossouw het ‘n Bybelvers aan die binnekant laat graveer. ‘n Klein, maar ongelooflik betekenisvolle herinnering aan die fondament waarop ons verhouding gebou is. Dit maak die ring vir my soveel meer kosbaar. Hy het werklik die mooiste werk gedoen.

Rede vir die verlowing fotosessie:
Vir ons was die verlowing fotosessie baie meer as net mooi foto’s. Ons troufotograwe het ook ons verlowingsfoto’s geneem. Dit was vir ons belangrik om hulle voor die troudag beter te leer ken en gemaklik voor hulle kamera te raak. Op jou troudag spandeer jy soveel tyd saam met jou fotograwe, daarom wou ons graag reeds daardie verhouding bou.
Natuurlik was dit ook vir ons wonderlik om herinneringe van hierdie besondere seisoen vas te vang. Ons gaan van die foto’s vir ons trou uitnodigings gebruik. Ons sien ook daarna uit om dit eendag in ons plaashuis op te hang, ‘n mooi herinnering aan die begin van ons lewe saam.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ons het van die begin af ʼn duidelike visie vir ons fotosessie gehad. Saam met ons fotograaf het ons die perfekte ligging gekies wat natuurlik en ongeskonde aanvoel, tussen grasvelde en in die natuur. Ons wou hê die foto’s moes gegrond en aards voel, met ʼn rustige eenvoud wat weerspieël wie ons is.
Die inspirasie agter die styl was om getrou te bly aan ons tema vir die troue, om gegrond te leef en met bewustheid stil te staan by God se prag in die skepping. Daarom het ons gekies vir ʼn natuurlike, organiese styl wat nie oordadig is nie, maar eerder tydloos en opreg.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk:
Ons is nou reeds omtrent halfpad deur ons verlowing tydperk. Terugskouend besef ek hoe maklik mens in die begin net opgewonde en oorweldig kan wees deur die vreugde van die seisoen. Sonder om altyd bewus te wees van die voorbereiding en groei wat dit vir die huwelik verg.
Ek sou nie sê dat ons werklik vrese gehad het vir wat voorlê nie, maar eerder ʼn bewustheid dat ʼn huwelik doelbewuste bouwerk en oorgawe vra. Ons glo ook dat die huwelik iets kosbaar is. Daarom is dit belangrik om ons wortels al hoe dieper in die Here te vestig en op Hom te vertrou in elke stap.
Vir ons is dit belangrik om nie vasgevang te raak in die wêreld se verwagtinge van hoe ʼn verlowingstydperk “behoort” te lyk nie, maar eerder om met vrede en vertroue te leef, wetende dat ons toekoms in Sy hande is en dat alles op die regte tyd sal ontvou.

Visie vir droomtroue:
Vir ons troudag was dit van die begin af belangrik dat die venue meer as net ’n mooi plek moet wees. Dit moes betekenis dra. Ons wou ’n ruimte hê waarheen ons telkens kan terugkeer. Só sal dit ons aan ons belofte voor die Here herinner.
Daar was vir ons geen beter of meer gepaste plek as ons toekomstige kerk nie. Daarom het ons besluit om in die NG Kerk Somerset-Oos te trou. As dit God se wil is, sal ons ook daar saam aanbid. Eendag hoop ons om ons kinders daar groot te maak.
Ons beplan vir ongeveer 120 gaste. Met groot families en hegte vriendskappe kan die getal moontlik effens groter wees. Tog sien ons dit as ’n dag om saam met die mense naaste aan ons harte te vier.
Ons het ook besluit om van ’n troubeplanner gebruik te maak. Die praktiese reëlings word só van ons skouers afgehaal. Ons kan die dag dan werklik beleef sonder om oor klein besonderhede bekommerd te wees.
Ons grootste begeerte is om elke oomblik ten volle teenwoordig te wees. Die betekenis van hierdie besondere dag wil ons diep in ons harte vas hou.

- Fotograaf: Doolhof Photography & Film | Kontak
- Verloofring: Sahvi Jewellery| Kontak

