Henry & Christine se Kleurvolle Troue in Clocolan, Vrystaat

Hierdie kleurvolle troudag in Clocolan, Vrystaat, bied volop trou inspirasie vir paartjies wat droom van ’n troue wat werklik uitstaan. Henry en Christine het wegbeweeg van die tradisionele boksies om ’n unieke trou konsep te skep wat oorgeloop het van kleur, lig en opregte vreugde.

Christine se pragtige trourok was ’n ware meesterstuk van moderniteit en dramatiese flair. Die asimmetriese silhoeët, uitbundige mou en sprankelende sequins het die bruid behoorlik laat skitter. Haar trouring het die voorkoms perfek afgerond. Die driedelige ring kombineer geelgoud, witgoud en swart diamante vir ’n besonderse én tydlose voorkoms. Henry het die kleurvolle styl van hul troue ook in sy uitrusting weerspieël deur ’n helder das en sakdoek-vierkant saam met sy klassieke swart troupak te dra.

Die stylvolle trou dekor en tafelversiering is pragtig aangevul deur die venue se ligte agtergrond, wat onder ’n dak vol flikkerliggies gegloei het. Die trou dekor spesialis se kreatiewe visie het helder skakerings van pienk, blou, groen, geel en oranje op ’n natuurlike manier saam geweef. Blommerangskikkings op verskillende hoogtes, tesame met kerse op die tafels, het dinamiese diepte geskep. Die blou servette het as die perfekte afronding gedien en die verskillende elemente van die tafelversiering visueel met mekaar verbind.

Rol af en geniet die foto’s van Henry en Christine se kleurvolle troudag. Ons hoop dit inspireer julle om ook buite die tradisionele boksies te dink wanneer julle jul eie droomtroue beplan. Moet asseblief nie vergeet om ook na Mooi Troues se aanlyn trougids te gaan kyk vir van die beste trou diensverskaffers nie.

Trourok:


ʼn Droom in wit deur EL Heathcote

Elke bruid droom van daardie een rok wat asem wegslaan en vir my was dit Elizmarie se skepping van EL Heathcote. ’n A‑simmetriese, noupassende silhoeët wat moderniteit en dramatiese flair perfek balanseer.

Aan die bo‑kant het die rok ’n unieke spel van kontraste: een lang, verfynde mou en een uitbundige, “extravagant” mou wat soos ’n kunswerk uitstaan. Die materiaal self was ’n meesterstuk — nie fyn nie, nie grof nie, net ’n volmaakte tekstuur wat nie in woorde vasgevang kan word nie. Verskillende wit sequins, sorgvuldig gerangskik, het die stof laat glinster.

Vir die kerkdiens het ek ’n elegante overskirt gedra wat die rok ’n koninklike dimensie gegee het, en later afgehaal vir ’n ligter, feestelike voorkoms. Die lang mou kon ook verwyder word, maar ek was só verlief op die rok dat ek dit die hele aand aangehou het.

Sy het van die eerste oomblik af saam my gedroom oor my perfekte rok, en met elke aanpas-sessie het haar idees gevloei en het my rok net mooier geword as wat ek ooit kon droom.

 

Verloof- en Trouringe:


Ek wou graag net een ring hê, baie spesifiek met swart diamante.

My ring is spesiaal ontwerp deur Riaan Pieterse van Jewel Craft in Bloemfontein.

Die ring bestaan uit 3 dele, die middelste pant, met is geelgoud gemaak vir die pant en die diamant is geset in ʼn ronde witgoud met fyn detail.

Die twee buitenste pante is van witgoud gemaak met swart diamante.

Al die pante was reeds met die verlowing vas aan mekaar.

Die ring gee ʼn gevoel van tydloos, styl en iets anders as die gewone tipiese verloofringe.

Paartjie se Verlowing:


Twee dae voor Valentynsdag het ʼn gespanne Henry en ʼn fotograaf vir Christine in die bosse van Woodland Hills (Bloemfontein) gewag. Langs die dam, was die mooiste set-up met blomme, sjampanje, lekkernye en ʼn driehoek raamwerk wat Henry self gebou het. Die woorde trou met my was in hout uitgesny.

Ek was so dankbaar na die tyd dat die fotograaf elke emosie op kamera kon vasvang.

Toe ek daar aankom het hy vir my met die mooiste ring gewag.

Dit was die begin van ons beplanning van ons droomtroue.

Trou Dekor en Styl:


Vir my en Henry was ’n “standaard troue” nooit ’n opsie nie. Ons wou ’n viering hê wat ons unieke gees weerspieël. ʼn Dag wat nie in boksies pas nie, maar eerder ’n kunswerk van kleur, lig en liefde.

Die palet was gewaagd en vrolik: “cherish” pienk, “peacock” blou, “emerald” groen, mosterd geel, “burnt orange” en ’n bietjie pers vir balans. Hierdie kleure het nie net die saal versier nie, maar ’n atmosfeer geskep wat warm, lewendig en onvergeetlik was.

Hoog en laag gerangskikte blomme het die ruimte met diepte en beweging gevul, terwyl kerse en kleurvolle rangskikkings die pienk, oranje, pers en groen skakerings lewendig laat uitstaan het. As ’n subtiele bindende element het die blou servette die verskillende kleure en dekor mooi bymekaargebring. Met sy ligte cream-kleurige agtergrond en stoele het die saal ’n sagte doek gevorm waarteen die helder kleure pragtig kon uitstaan. Bo‑oor het ’n dak vol liggies die hele toneel in ’n warm gloed gehul.

Selfs die blommemeisies het die palet lewendig gemaak elkeen in ’n rok wat een van die trou kleure verteenwoordig het. Die strooimeisies met hulle helder patroon rokke en effe kleur skoene het perfek gepas by die mans in swart pakke en effe dasse.

Ulrich, het saam met my gedroom en nooit gedink my idees is verspot of belaglik nie, maar hy het saam met my gedroom en met sy kreatiewe hand agter die dekor, het dit perfek reggekry om helder en lig saam te weef.

Die resultaat? ’n Troue wat nie net ’n dag was nie, maar ’n viering van kleur, lig en liefde, ’n herinnering wat soos ’n kunsstuk in die geheue bly leef.

Trou Begroting en Beplanning:


Henry en Christine het 120 gaste met ’n trou begroting van R300 000 verwelkom. Hulle het van Maart tot Desember, oftewel ongeveer 10 maande, aan hul groot dag beplan. Christine het saam met haar ma die meeste van die beplanning self behartig en van Ulrich Venter van Bowtie Evolution se dienste gebruik gemaak vir die huur van dekor items en blomme.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: