Mooi Troues se lesers kan ons 12-stap trou beplanning advies reeks maandeliks volg. Elke artikel fokus op spesifieke take wat julle daardie maand kan afhandel. Deur die trou beplanning op te breek in kleiner stappe raak die hele proses baie meer hanteerbaar en heelwat minder oorweldigend.
Om ʼn troue te beplan kan stresvol wees, veral as julle ʼn selfdoen troue aanpak. Mooi Troues help julle om die proses eenvoudiger en meer bekostigbaar te maak met hierdie opvolg reeks. Klik hier vir nog trou beplanning advies artikels.
In ons vorige artikel het ons die tiende stap van die reeks gedeel. Teen hierdie tyd behoort die meeste van julle besprekings afgehandel te wees. Julle kan nou begin fokus op die fyner besonderhede wat die gaste-ervaring en die vloei van julle troudag nog beter sal maak.
As julle nog nie al die punte uit die vorige artikels voltooi het nie, moenie stres nie. Werk rustig teen julle eie pas. Hierdie reeks dien as ʼn riglyn om julle trou beplanning oor twaalf maande te versprei. Elke paartjie se tydlyn lyk anders en dit is heeltemal reg so.
Vir ons elfde artikel van die 12-stap trou beplanning advies reeks, rol af.

Wat jul teen die tyd moes gedoen het:
As julle nog nie begin beplan het aan jul troue nie, moet nie stres nie. Daar is altyd genoeg tyd. Dit beteken net julle sal meer take oor ʼn korter tydperk moet afhandel. Dit is beslis moontlik met goeie beplanning.
Onder is ʼn riglyn van wat julle teen hierdie tyd reeds behoort af te handel indien julle ons 12-stap trou beplanning reeks volg.
- Die begroting gefinaliseer.
- Trou datum bevestig.
- Trou venue bespreek.
- Belangrike trou diensverskaffers bespreek.
- Fotograaf en videograaf bespreek.
- Dekor styl gekies.
- Trou versekering gereël.
- Gastelys gefinaliseer.
- Trourok gekies.
- Bruidegom se pak gefinaliseer.
- Seremonie besonderhede bespreek.
- Ontmoeting met jul huweliksbevestiger.
- Platejoggie en klank bespreek.
- Verblyf opsies gereël.
- Dekor huur lys opgestel.
- Troukoek gefinaliseer.
- Wittebrood bespreek.
- Repetisie aandete begin beplan.
- Trou skryfbehoefte ontwerpe gefinaliseer.
- Save the Date kaartjies uitgestuur.
- Grimering en hare bespreek.
- Aktiwiteite vir buitelandse gaste beplan.
- Verlowing fotosessie bevestig.
- Vervoer vir gaste bespreek.
- Dansklasse bygewoon.
- Musiek lys voorberei.
- Spyseniering gefinaliseer.
- Paspoorte en visas gereël indien nodig.
- Troukoek bestel.
- Diensverskaffers databasis opgedateer.
- Bruid se bykomstighede gekoop.
- Troupante gereed.
- Gaste geskenke beplan.
- Geskenk register opgestel.
- Trou uitnodigings uitgestuur.
- Dekor elemente gefinaliseer.
- Trourok weer aangepas.
- Trou skoene gekoop.
- Strooimeisies se rokke gefinaliseer.
- Selfdoen projekte gevorder.
- Diensverskaffers weer bevestig.
- Geskenke vir ouers gekoop.
- Finale diensverskaffer veranderinge afgehandel.
- Jul notas hersien.
- Tydlyn vir die troudag opgestel.

Finale Trourok aanpassing:
Teen hierdie tyd behoort jou trourok amper gereed te wees. Gaan vir jou laaste aanpassing sodat enige klein veranderinge betyds afgehandel kan word. Selfs klein aanpassings aan die lengte, moue of middellyf kan ʼn groot verskil maak aan hoe gemaklik die rok op jou troudag sit.
Maak seker jy gaan haal jou rok minstens ʼn week voor die troue. Só is daar nog genoeg tyd indien iets onverwags aandag benodig. Dit gee ook vir jou gemoedsrus dat alles gereed is vir die groot dag.

Gesels met jou bruidsmeisies:
Maak weer kontak met al jou bruidsmeisies. Bevestig dat almal hulle rokke ontvang het en dat enige verstellings reeds afgehandel is. Vra ook of hulle skoene, bykomstighede en ander benodigdhede gereed is.
Hierdie is ook ʼn goeie geleentheid om weer deur die troudag se beplanning te gesels. Maak seker elkeen weet waar hulle moet wees, hoe laat hulle moet opdaag en watter verantwoordelikhede hulle het. Goeie kommunikasie help om onnodige stres op die troudag te verminder.

Ontwerp jul trou program:
In die vorige artikel het ons gesels oor die tydlyn van julle troudag. Nou is dit tyd om die trou program vir julle gaste saam te stel.
Die program hoef nie ingewikkeld te wees nie. Sluit die belangrikste tye in soos die seremonie, onthaal, toesprake, eerste dans en enige ander spesiale oomblikke. Maak ook duidelik waar elke deel van die dag plaasvind sodat gaste maklik kan volg.
ʼn Mooi ontwerpte trou program help gaste om meer ontspanne te voel en dra by tot ʼn beter gaste-ervaring.

Finaliseer jul gastelys:
Teen hierdie tyd behoort julle die meeste van julle R.S.V.P.’s terug te ontvang het. Indien daar nog gaste is wat nie gereageer het nie, kontak hulle persoonlik om finale bevestiging te kry.
Wanneer julle presiese syfers het, kan julle die gastelys afsluit. Hierdie lys word gebruik deur julle venue, spysenier, dekor verskaffers en ander diensverskaffers. Hoe vinniger almal oor die finale syfers beskik, hoe makliker verloop die res van die beplanning.

Allokeer gaste by tafels:
Noudat julle gastelys gefinaliseer is, kan julle begin met die tafelplasing. Groepeer familie, vriende en ander gaste op ʼn manier wat natuurlike gesprekke aanmoedig.
Hou ook rekening met ouer gaste, jong kinders en mense wat mekaar reeds goed ken. ʼn Goed deurdagte sitplekreëling dra baie by tot ʼn ontspanne atmosfeer tydens die onthaal.
Wanneer julle klaar is, kan julle hierdie inligting aan julle trou skryfbehoefte ontwerper stuur om die sitplekkaart, naamkaartjies en tafelnommers te ontwerp.

Gee finale musiek lys aan jul platejoggie:
Stuur julle finale liedjie lys ongeveer twee tot drie weke voor die troue aan julle platejoggie. Dit gee genoeg tyd om alles voor te berei en seker te maak die nodige weergawes van elke liedjie is beskikbaar.
Onthou om musiek te kies vir die belangrikste dele van die dag soos:
- Inkoms by die onthaal.
- Eerste dans.
- Agtergrondmusiek tydens etes.
- Toesprake.
- Opening van die dansvloer.
ʼn Goeie musieklys help om die regte atmosfeer te skep vanaf die begin van die dag tot die laaste liedjie.

Maak ʼn foto lys vir jul fotograaf:
As daar spesifieke familiefoto’s, groepfoto’s of ander belangrike oomblikke is wat julle graag wil vasvang, maak nou ʼn volledige lys daarvan.
Stuur hierdie lys minstens een tot twee weke voor die troue aan julle trou fotograaf en videograaf. Hulle ken nie julle familie of vriende nie. Vra daarom iemand wat die meeste gaste ken om op die dag te help om mense vinnig bymekaar te kry.
ʼn Duidelike foto lys help dat geen belangrike herinneringe per ongeluk misgeloop word nie.

- Foto’s: Pexels
- Artikel: Mooi Troues
