Mooi Troues se lesers kon die afgelope jaar ons 12-stap trou beplanning advies reeks volg. Elke maand het ons op ʼn kleiner deel van die trou beplanning gefokus sodat die proses meer hanteerbaar en minder oorweldigend voel.
Om ʼn troue te beplan bly een van die grootste projekte wat ʼn paartjie saam aanpak. Daarom het ons hierdie reeks geskep om julle stap vir stap deur die proses te begelei. Van die eerste begroting en venue besprekings tot die laaste besonderhede voor die groot dag. Klik hier vir nog trou beplanning advies artikels.
In ons vorige artikel het ons gefokus op die laaste voorbereiding voor die troudag. Teen hierdie tyd behoort feitlik al julle beplanning afgehandel te wees. Julle behoort nou net die laaste klein besonderhede af te rond voordat julle uiteindelik “Ja” vir mekaar sê.
Ons hoop hierdie 12-stap trou beplanning advies reeks het julle gehelp om met meer selfvertroue en minder stres julle droomtroue te beplan. Elke paartjie se reis lyk anders. Daarom was hierdie reeks nog altyd bedoel as ʼn riglyn wat julle volgens julle eie tydlyn kon aanpas.
Vir ons laaste artikel van die 12-stap trou beplanning advies reeks, rol af.

Wat jul teen die tyd moes gedoen het:
As julle ons reeks van begin tot einde gevolg het, behoort die grootste deel van julle trou beplanning nou afgehandel te wees. Julle behoort reeds al die belangrikste besluite geneem te hê. Nou is dit tyd om die laaste besonderhede te bevestig en die troudag met gemoedsrus tegemoet te gaan.
Onder is ʼn opsomming van alles wat reeds afgehandel behoort te wees:
- Begroting gefinaliseer.
- Troudatum bevestig.
- Venue bespreek.
- Trou diensverskaffers bespreek.
- Fotograaf en videograaf bespreek.
- Dekor styl gekies.
- Trou versekering gereël.
- Gastelys gefinaliseer.
- Trourok gekies.
- Bruidegom se pak gereed.
- Seremonie beplan.
- Huweliksbevestiger ontmoet.
- Platejoggie bespreek.
- Verblyf gereël.
- Dekor huur bevestig.
- Troukoek bestel.
- Wittebrood bespreek.
- Repetisie aandete gereël.
- Trou skryfbehoeftes voltooi.
- Spaar die datum kaartjies uitgestuur.
- Trou uitnodigings gestuur.
- Grimering en hare bevestig.
- Verlowing fotosessie afgehandel.
- Vervoer gereël.
- Dansklasse voltooi.
- Musiek lys gefinaliseer.
- Spyseniering bevestig.
- Paspoorte en visas gereël indien nodig.
- Diensverskaffers databasis opgedateer.
- Bruid se bykomstighede gekoop.
- Troupante gereed.
- Gaste geskenke gereël.
- Geskenk register opgestel.
- Dekor gefinaliseer.
- Trourok aangepas.
- Trou skoene gekoop.
- Strooimeisies se rokke gereed.
- Selfdoen projekte voltooi.
- Finale diensverskaffer bevestigings.
- Geskenke vir ouers gekoop.
- Tydlyn vir die troudag voltooi.
- Trou program ontwerp.
- Sitplekreëling afgehandel.
- Liedjie lys aan die platejoggie gestuur.
- Foto lys aan die fotograaf gestuur.

Bevestig alles met jul diensverskaffers:
Die dag voor julle troue is dit ʼn goeie idee om elke trou diensverskaffer vinnig telefonies te kontak. Julle hoef nie lang gesprekke te voer nie. Bevestig bloot die aankomstyd, ligging en kontakpersoon vir die dag.
Maak seker almal het die jongste weergawe van julle troudag se tydlyn. Hierdie klein opvolg gee vir almal gemoedsrus en help om misverstande op die dag te voorkom.

Neem tyd om te rus:
Die laaste dag voor julle troue is nie die tyd om nog groot projekte aan te pak nie. Julle het die afgelope maande hard gewerk. Gun vir julleself kans om asem te skep.
Gaan drink koffie saam. Besoek ʼn spa. Lees ʼn boek. Spandeer tyd saam met familie of vriende. Doen iets wat julle laat ontspan. Julle gaan die ekstra energie op die troudag waardeer.
Pak vir julle wittebrood:
As julle direk ná die troue vertrek, pak julle wittebrood tasse betyds. Wag nie tot die laaste aand nie.
Kontroleer dat julle paspoorte, vlugbesonderhede, besprekings, medikasie, laaiers en enige ander belangrike dokumente reeds ingepak is. Só begin julle wittebrood sonder onnodige stres.

Lees weer ons advies oor die laaste week:
Daar is ʼn paar dinge wat julle eerder moet vermy gedurende die laaste paar dae voor die troue. Klik hier om ons artikel te lees oor wat om te vermy voor julle troudag. Dit sal julle help om meer ontspanne en voorbereid by die groot dag aan te kom.

Laastens…
As julle hierdie reeks van Stap 1 tot Stap 12 gevolg het, het julle reeds ongelooflik baie bereik. Julle het saam besluite geneem, uitdagings oorkom en stap vir stap gewerk aan een van die belangrikste dae van julle lewe.
Wanneer die troudag uiteindelik aanbreek, probeer om nie vas te kyk teen klein goed wat moontlik verkeerd loop nie. Fokus eerder op mekaar. Kyk om julle rond. Neem die oomblikke in. Gesels met julle familie en vriende. Lag saam. Huil as julle wil. Dans. Vier julle liefde.

Artikel Krediet:
- Artikel: Mooi Troues
- Foto’s: Pexels

