Kyle en Janha se verlowing fotosessie langs die Vaalrivier was ’n mooi kombinasie van eenvoud, romantiek en ’n bietjie luuksheid. Met die rivier as agtergrond het elke oomblik rustig en natuurlik gevoel.
Die bootrit het iets besonders aan die fotosessie gegee. Terwyl hulle op die water gevaar het, kon die paartjie die rustige omgewing geniet en is daar pragtige, spontane oomblikke tussen hulle vasgevang. Dit het die fotosessie ’n lekker afwisseling gegee van die gewone foto’s op land.
Janha het pragtig gelyk in haar sagte, neutrale rok met die besonderse plooie- en kruisontwerp. Die nagemaakte-bontbaadjie het ’n ekstra laag bygevoeg en mooi by die rustige kleure van die dag ingepas. Haar natuurlike voorkoms het die hele uitrusting mooi afgerond.
Rol af vir ’n kykie na hierdie besondere verlowing fotosessie en ’n bietjie inspirasie vir paartjies wat iets anders vir hul eie foto’s wil doen.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ek en Kyle ken mekaar van ons universiteit dae af. Ons het albei na universiteit oor see gaan werk maar steeds in kontak gebly deur Instagram.
Na ń paar jaar oorsee, het ons albei terug gekeur Suid -Afrika toe. Dis toe Kyle my op Instagram met my verjaarsdag gelukgewens het en ons het toe besluit om saam te gaan uiteet, en van daar af is dit geskiedenis.
Ons het vir twee jaar uitgegaan voordat ons verloof geraak het.

Die groot vraag:
Ons het saam besluit dat ons graag eendag met mekaar wil trou.
Op 11 Desember 2025 het Kyle my toe langs die Vaalrivier by ECO Coffee, die restaurant waar ons ons eerste afspraak gehad het, gevra om met hom te trou. Hy het my vertel dat die eienaar, wat ook ’n vriend van ons is, ons genooi het om die nuwe spyskaart te kom proe. Ek was natuurlik super opgewonde oor die tasting en het seker gemaak dat ek die hele dag omtrent niks eet nie. Ek was dus teen etenstyd absoluut uitgehonger en gereed om alles op die spyskaart te bestel.
Die oggend van die verlowing het ek egter iets baie vreemd opgemerk, Kyle het skielik ’n obsessie met die weer ontwikkel. Ek het gedink dit is seker maar iets wat gebeur soos ’n mens ouer word: jy begin skielik baie belangstel in die weer en voëlkyk.
Die groot vraag langs die Vaalrivier
Ons het by die restaurant aangekom en ek was, soos genoem, honger genoeg om ’n perd te eet. Ons het ons drankies bestel en toe besluit Kyle skielik dat ons moet rivier toe gaan. Dit het vir my absoluut geen sin gemaak nie, want ons het letterlik langs die rivier gesit. Nietemin, ons stap toe langs die rivier en ek begin agterkom dat Kyle aanhoudend iets in sy sak soek. Ek het gedink hy is dalk jeukerig en vra toe vir hom wat fout is. Hy sê toe vir my dat hy dink hy is dalk allergies vir die nuwe wasmiddel wat ons gebruik. Ek onthou dat ek vir hom gesê het dat ek dink ek is dalk ook allergies daarvoor.
Toe ek omdraai om vir hom te wys waar ek jeuk, gaan hy op een knie. En van daar af was alles net ’n gelukkige, emosionele blur van trane, vreugde en ongeloof.
En toe het alles uiteindelik sin gemaak, die vreemde obsessie met die weer daardie oggend was natuurlik nie omdat Kyle skielik in ’n afgetrede oom verander het nie. Hy moes net seker maak die weer is perfek vir die groot vraag!

Hoekom ons mekaar liefhet:
Janha:
“Vir my is dit hoe Kyle altyd die kalmte bring wanneer ek oor dinge stres. Ek is mal daaroor dat hy ’n sagte reus met ’n ongelooflik groot hart is. Ek hou daarvan dat hy so lief is vir diere en dat hy baie omgee vir mense en diere wat hulp nodig het. Hy is nie net slim nie, maar ook baie snaaks!”
Kyle:
“Ek is mal daaroor dat Janha vir my vrede bring. Sy is baie goedhartig en gee baie om vir ander. Haar liefde vir alle klein diertjies en wesens is een van die dinge wat ek so van haar waardeer. Sy is snaaks en ’n bietjie wierd, maar op die beste moontlike manier.”

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons het reeds ons troudatum vasgemaak en sal op 24 April 2027 trou.
Met die troubeplanning reeds goed aan die gang, geniet ons elke oomblik van hierdie spesiale seisoen terwyl ons uitsien na die begin van ons lewe saam as man en vrou.

Die verloofring:
Ons het begin kyk na watter tipe ring ek graag sou wou hê.
Janha het na inspirasie gesoek, terwyl Kyle na ring ontwerpers begin kyk het. Hy het nog altyd die werk van Yolandi Mae Breed van Lamae Jewellery bewonder.
Hy was mal daaroor dat elke ring wat sy maak uniek vir daardie spesifieke persoon ontwerp word. Yolandi het ’n paar sketse ontwerp, waarna Janha haar gunsteling ontwerp gekies het. Daarna het Kyle en Yolandi saam die diamante en die finale ontwerp gekies.
Die ring is ’n dromerige kombinasie van witgoud, sprankelende wit diamante en pienk diamante. Die inspirasie agter die ontwerp was dié van ’n feëprinses – romanties, sag en ’n bietjie magies.

Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons het besluit om ’n verlowingsfotosessie te doen wat ons vir ons trou-uitnodigings kan gebruik, asook om ons huis mee te versier.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Die inspirasie was hoofsaaklik gebaseer op die Vaalrivier, omdat Kyle my langs die rivier gevra het om met hom te trou.
Ons wou die tema van die rivier behou en het daarom besluit om die fotosessie by Pont de Val te doen. Die venue is absoluut pragtig en het presies die gevoel gehad waarna ons gesoek het- ‘n Franse Riviera-voorkoms, kompleet met ’n luukse bootrit.
Ons het een van Dragonfly Luxury se bote gebruik om die hele voorkoms en gevoel te voltooi. Ons wonderlike fotograaf, Stephanie van Stephanie Grace Photography, het elke oomblik so mooi vasgevang.
Die grimering, hare en uitrustings het alles bymekaar gekom sodra ons op die tema besluit het.
Ek het ’n Lena Lisa-rok gedra, terwyl Jessica en Pauline van Belle Beauty my hare en grimering gedoen het.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk:
Ons grootste verwagting is om hierdie nuwe hoofstuk van ons lewens te geniet — om verloof te wees en saam ons nuwe lewe as man en vrou te beplan.
Ons grootste vrees is dat die troubeplanning ons lewens oorneem. Dit is waar ons weer onsself daaraan moet herinner dat die einddoel nie net die troue is nie, maar om saam ’n nuwe lewe as getroude paartjie te begin.
Wat ook al gebeur, solank ons mekaar het, weet ons dat ons enigiets saam kan aanpak.

Visie vir droomtroue:
Ons droomtroue sal een wees wat ons en ons persoonlikhede weerspieël. ’n Troue waar ons onsself kan wees en waar elke detail ’n bietjie van ons as paartjie weerspieël.
Dit sal ook ’n dag wees waar al ons naaste vriende en familie saam met ons kan wees terwyl ons hierdie nuwe hoofstuk van ons lewe as man en vrou begin.
Ons droomtroue sal ’n klein en intieme geleentheid wees, gevul met die mense vir wie ons die liefste is, baie liefde, lag en natuurlik ’n hele paar spesiale herinneringe wat ons vir altyd sal koester.

- Fotograaf: Stephanie Grace Photography | Kontak
- Fotosessie Ligging: Pont de Val | Kontak
- Grimering: Belle Beauty by Jenine| Kontak
- Hare: Bellebeautyhairsalon| Kontak
- Verloofring: La Mae Jewellery| Kontak
