Die natuurlike skoonheid van die winter graslande het die perfekte agtergrond gebied vir De Waal en Danielle se intieme verlowing fotosessie. Met ’n skilderagtige berg uitsig en die oop veld rondom hulle, weerspieël elke foto die opregte warmte en diep konneksie wat hierdie paartjie deel.
Die spesiale sessie was vir die paartjie van groot betekenis. Dit was ’n geleentheid om herinneringe aan hierdie unieke hoofstuk in hul lewens vas te lê, asook om die foto’s op hul trou-webtuiste te gebruik. Hulle uitrustings het perfek by die koeler seisoen ingeskakel. Danielle het gekies vir ’n stylvolle wit gebreide rok met ’n sprokiesagtige skouerlyn, terwyl De Waal ’n donkergroen winter hemp gedra het wat pragtig teen die natuurlike omgewing afgespeel het.
Een van die mees betowerende elemente van hul verhaal is Danielle se asemrowende verloofring. Sy het reeds jare gelede haar droom tipe ring in gedagte gehad en vroeër vanjaar het die paartjie die opsies begin verfyn voordat hulle uiteindelik op ’n pragstuk met ’n radiant-cut diamant besluit het. De Waal het die finale ontwerp hanteer, wat die ring se uiteindelike voorkoms vir Danielle ’n besonderse verrassing gemaak het.
Hierdie foto’s bied nie net ’n kykie in De Waal en Danielle se liefdesverhaal nie, maar dien ook as inspirasie vir paartjies wat droom van ’n natuurlike, tydlose styl vir hul eie verlowing fotosessie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ek en De Waal het mekaar ontmoet toe my gesin van die Paarl na ons plaas buite Carnarvon verhuis het en ek in Beaufort-Wes skool begin het. Ek was in graad 6 en hy in graad 9. Van die eerste dag af was daar iets spesiaals tussen ons. Hy het selfs vir my ’n briefie in studietyd geskryf en vir my aangestuur. Drie jaar later het ons begin uitgaan en ná 12 spesiale jare saam het ons verloof geraak. Ons is dankbaar dat ’n skoolliefde gegroei het tot ’n liefde vir ’n leeftyd.

Die groot vraag:
De Waal het my gevra by een van ons gunsteling plekke op sy plaas, bo op Rhenosterkop berg waar ons gereeld saam sundowners gaan geniet. Dit was tydens die Beaufort-Wes Skou-naweek, toe ons saam met ons beste skoolvriende die naweek deurgebring het, net soos in ons hoërskooldae. Ek het glad nie vermoed dat hy my gaan vra nie.
Die Saterdagmiddag het ons besluit om plaas toe te ry en die sonsondergang op die berg te gaan kyk. Toe ons bo aankom, was alles soos altyd, niks opgestel nie so ek het sommer by myself gedink: “Vandag gaan dit beslis nie gebeur nie.” Maar dit is presies wie De Waal is, eenvoudig, opreg en sonder groot vertoon.
Terwyl ons rustig ons drankies geniet en foto’s neem, het ek omgedraai en hom op een knie gekry. Die snaakse ding is dat hy die verloofring sommer netso los in sy broeksak gesit en op tot bo die berg gery sonder die ringboksie! Tipies De Waal 😂 Met die Karoo-son wat agter die berge sak en ons naaste vriende langs ons was dit net eenvoudig, eg en perfek.

Hoekom ons mekaar liefhet:
My gunsteling eienskap van De Waal is sy ongelooflike groot hart. Hy laat elke persoon wat hy ontmoet welkom, waardeer en gesien voel. Hy het nooit ’n slegte woord oor iemand te sê nie en behandel almal met vriendelikheid en respek. De Waal is ongelooflik geduldig en sal enige tyd sy eie planne opsy skuif om iemand anders te help. Hy is ʼn ware grapjas en blink uit in alles wat hy aanpak. Vir my is De Waal die hardwerkendste persoon wat ek ken.
My gunsteling eienskappe van Danielle is haar liefde vir die plaas en die plaas diere. Sy het ‘n baie sagte hart en gee baie om vir mense rondom haar. Daar sal geen kleingeld in die bakkie rondlê nie, want sy het dit klaar vir die mense op straat gegee. Sy het ‘n oog vir mooi dekor en versier ons huis beter as enige ander vrou. Danielle het ook definitief ‘n paar groen vingers. As sy in die grond grawe kan jy maar weet daar gaan mooi plantjies of blomme groei. Sy het ‘n liefde vir mooi tuin maak. Danielle is baie lojaal en altyd bereid om my te help.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons trou nou die 16de Januarie 2027. 🙂
Ons het in Maart verloof geraak, so dis 9 maande verloof.

Die verloofring:
Ek het al jare terug gekies watter tipe steun ek wou hê, so De Waal het ‘n idee gehad. Ons het in Januarie hierdie jaar gaan ringe aanpas by Viljoen Juweliers en die radiant cut diamant gekies. Verder het De Waal alles hanteer so dit was n verassing hoe die ring op die ou einde sou lyk.

Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons wou graag die verlowings fotosessie doen vir die herinneringe van hierdie tyd in ons lewens en ook vir ons trou webtuiste.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Ons wou graag in graslande foto’s neem. Aangesien die fotosessie in die winter geneem, is het ek gegaan met gebreide rok en De Waal met meer ʼn donker winters hemp.

Visie vir droomtroue:
Ons idee van ons droom troue was nog altyd om op my verloofde se karoo plaas te trou. Ons bly in ‘n baie mooi ou Cape Dutch huis wat in die 1800’s gebou is. Daarom het ons toe besluit dat ons ʼn buitelig troue agter ons huis op die grasperk gaan hou met die gevoel van ʼn Italiaanse tuintroue. Dit sal verewig vir ons so spesiaal wees om te kan sê dat ons by ons eie huis kon trou. Ons is so dankbaar dat ons die voorreg het om op die plaas te kan trou.
Ons wou nog altyd ‘n groot troue gehad het met almal wat ons lief het om die dag saam met ons te deel. Ek beplan ons troue self wat nie vir sussies is nie, maar ek geniet dit vreeslik baie op dieselfde tyd. Ons troudag moet net een groot kuier wees saam met ons geliefdes.

- Fotograaf: Klawer Fotografie | Kontak
- Fotosessie Ligging: George |
- Verloofring: Viljoen Juweliers| Kontak
