In hierdie advies artikel bespreek ons alles wat julle moet weet voordat julle ’n trou fotograaf vir julle groot dag bespreek. Om die regte trou fotograaf te vind, is geen kinderspeletjies nie. Dit is ’n groot belegging wat deeglike navorsing en oorweging verg. Dit is belangrik om ’n fotograaf te kies wat nie net by julle persoonlikhede en styl as paartjie pas nie, maar ook julle mooiste oomblikke op ’n professionele en kreatiewe manier kan vasvang.
Julle trou fotograaf is een van die belangrikste diensverskaffers op julle troudag. Ná die troue bly julle foto’s as kosbare herinneringe oor. Dit is een van die min tasbare herinneringe wat julle vir altyd sal koester. Daarom is dit belangrik om die regte trou fotograaf te kies. Julle kry immers nie ’n tweede kans om daardie spesiale oomblikke vas te vang nie.
Klik hier om ons trougids te besoek, waar julle betroubare trou fotograwe sal vind wat ons met graagte aanbeveel.
Daar is ’n groot verskil tussen ’n professionele fotograaf en iemand wat bloot ’n professionele kamera besit. Selfs die beste kameras en duurste lense waarborg nie uitsonderlike foto’s nie. Dit mag aanloklik wees om ’n familielid se aanbod te aanvaar om julle troue as geskenk af te neem. Dink egter mooi hieroor voordat julle besluit.
Kies iemand met die nodige ervaring en vaardighede. Kreatiwiteit is ook belangrik om troufoto’s van hoogstaande gehalte te verseker. Julle verdien immers pragtige, professionele foto’s wat julle vir die res van julle lewe met trots kan koester.
Wat kan julle van hierdie artikel verwag?
Hierdie is ’n omvattende artikel propvol praktiese raad en waardevolle inligting om julle te help om die regte trou fotograaf te kies. Ons het dit in drie hoofdele verdeel:
- Die keuringsproses: Hoe om die regte trou fotograaf te vind en waarop julle moet let voordat julle ’n finale besluit neem.
- Nadat julle ’n fotograaf gekies het: Die belangrike stappe wat volg nadat julle jul trou fotograaf bespreek het.
- Op julle troudag: Wat julle kan doen om te verseker dat alles vlot verloop en julle fotograaf die mooiste oomblikke kan vasvang.
Geniet die artikel en deel dit gerus met julle familie en vriende, veral as julle iemand ken wat tans op soek is na die perfekte trou fotograaf!

Waar om te begin?
Maak ’n kortlys van trou fotograwe:
Die heel eerste stap is om potensiële trou fotograwe te vind. Maar waar begin ’n mens soek?
Daar is verskeie plekke waar julle professionele trou fotograwe kan vind. Klik hier om Mooi Troues se Trougids te besoek, waar ons professionele trou fotograwe van regoor Suid-Afrika lys.
Nog ’n goeie manier is om vriende en familie wat reeds getroud is, vir aanbevelings te vra. Julle kan ook op sosiale media rondkyk om trou fotograwe te ontdek wie se werk en fotografiestyl by julle aanklank vind.
Sodra julle ’n paar trou fotograwe gevind het van wie julle hou, stel ’n kortlys saam. Hierdie lys sal julle help om die fotograwe te kontak, hul beskikbaarheid na te gaan en meer inligting oor hul pakkette en pryse te bekom.
Lees resensies en doen deeglike aanlyn navorsing:
Hierdie is een van die belangrikste stappe in die hele proses. Ongelukkig is daar ook swendelaars in die troubedryf. Doen dus deeglike navorsing voordat julle geld oorbetaal of ’n bespreking bevestig.
Soek die trou fotograaf se besigheidsnaam op sosiale media, Google en ander resensieplatforms. Gaan ’n stap verder en soek ook die fotograaf se persoonlike naam en van. Dit gee julle ’n beter beeld van die persoon en hul professionele reputasie.
Hou in gedagte dat ’n bekroonde trou fotograaf nie noodwendig die regte keuse vir julle is nie. Dieselfde geld vir iemand wat as een van die beste in die bedryf beskryf word. Julle moet iemand kies wat by julle behoeftes en verwagtinge pas.
Lees beide positiewe en negatiewe resensies. Let veral op na ander paartjies se ervarings. Kyk ook hoe die fotograaf met kliënte kommunikeer. Let op vir enige klagtes wat herhaaldelik voorkom.
Julle troufoto’s is ’n groot belegging. Soos met enige belegging wil julle seker maak dat julle geld in betroubare hande is.
Het die trou fotograaf talle negatiewe resensies? Is daar waarskuwingstekens van moontlike bedrog? Vermy eerder daardie persoon en oorweeg die volgende opsie op julle kortlys.
Begin met die keuringsproses:
Noudat julle die eerste twee stappe voltooi het, behoort julle ’n kortlys van potensiële trou fotograwe te hê oor wie julle reeds navorsing gedoen het.
Die volgende stap is om hierdie fotograwe deeglik te evalueer voordat julle ’n finale besluit neem.
Hieronder verduidelik ons die keuringsproses stap vir stap, sodat julle met selfvertroue die regte trou fotograaf vir julle groot dag kan kies.
Die keuring proses:
Portefeulje:
Begin deur die trou fotograaf se aanlyn portefeulje te bestudeer. Indien julle van die fotograaf se fotografiestyl en die gehalte van hul werk hou en die fotograaf binne julle begroting val, maak gerus ’n afspraak om verder te gesels. Ons bespreek die begroting in meer besonderhede hieronder.
Indien die fotograaf ’n gedrukte portefeulje het, vra om dit ook te sien. Dit help immers nie hul werk lyk ongelooflik aanlyn, maar die gehalte van die gedrukte foto’s en albums voldoen nie aan dieselfde standaard nie.
Ons verstaan dat tye verander het en dat die meeste trou fotograwe deesdae hoofsaaklik aanlyn portefeuljes het.
Vra om ’n paar volledige troues te sien.
Dit is belangrik om nie net na die hoogtepunte op ’n fotograaf se webtuiste of sosiale media te kyk nie. Vra eerder vir voorbeelde van ’n paar volledige troues, van die voorbereidings tot die onthaal.
Dit sal julle ’n baie beter idee gee van die fotograaf se algehele styl, konsekwentheid en vermoë om verskillende omstandighede te hanteer.
Dit help byvoorbeeld nie die natuurlike paartjiefoto’s wat buite in perfekte sonlig geneem is, lyk pragtig, maar die foto’s wat in ’n donker onthaalsaal geneem is, voldoen glad nie aan dieselfde standaard nie.
Elke fotograaf het ook ’n unieke fotografie- en redigeringstyl. Maak seker dat die persoon wat julle kies se styl werklik by julle voorkeure pas.
Selfs al val ’n fotograaf perfek binne julle begroting, beteken dit nie noodwendig dat hulle die regte keuse is indien julle nie van hul fotografie- of redigeringstyl hou nie.
Begroting:
Professionele trou fotografie is nie goedkoop nie, maar dit is ’n belegging in herinneringe wat julle vir die res van julle lewe sal koester.
Ons beveel aan dat julle tussen R16 000 en R50 000 vir ’n goeie trou fotograaf begroot. Ervare en gesogte trou fotograwe kan selfs R120 000 vra, afhangend van hul ervaring en die dienste wat hulle aanbied.
Trou fotograwe se pryse verskil volgens hul ervaring, vaardighede en diensgehalte. Net soos ’n luukse motor meer kos as ’n intreevlakmodel, betaal julle ook vir die waarde en kundigheid wat ’n professionele fotograaf bied.
Daar is boonop heelwat besigheidsuitgawes, waaronder kameras, lense, beligting, rekenaars, redigeringsagteware, digitale berging, webtuistes, bemarking, personeel, reis en versekering. Toerusting moet ook gereeld onderhou en vervang word.
Baie mense wonder hoe ’n trou fotograaf oënskynlik drie maande se salaris op een dag kan verdien. Die werklikheid is dat die troudag slegs ’n klein gedeelte van die werk behels.
Daar is ook konsultasies, beplanning, die sortering en redigering van foto’s en die finale aflewering. Baie trou fotograwe werk as vryskutters en het nie ’n gewaarborgde maandelikse inkomste nie.
Wanneer julle ’n professionele trou fotograaf bespreek, betaal julle dus nie net vir die ure wat hulle op julle troudag werk nie. Julle betaal ook vir hul ervaring, toerusting, voorbereiding en die tyd wat nodig is om julle kosbare herinneringe vas te vang en af te lewer.
Ondervinding:
Maak seker dat die trou fotograaf wat julle oorweeg, oor voldoende ervaring beskik en reeds genoeg troues as hooffotograaf afgeneem het.
Om ’n troue af te neem, is beslis nie kinderspeletjies nie!
Dit verg tegniese kennis, praktiese ervaring, kreatiwiteit en die vermoë om vinnig onder druk op te tree. ’n Troudag kan nie oorgedoen word nie en daarom moet julle fotograaf voorbereid wees om elke belangrike oomblik vas te vang, ongeag die omstandighede.
Wanneer julle begroting beperk is, sal julle moontlik fotograwe met minder ervaring moet oorweeg. Dit beteken nie noodwendig dat hulle swak werk lewer nie, maar dit is belangrik om die moontlike risiko’s te verstaan en deeglik na hul vorige werk te kyk.
’n Ervare professionele fotograaf sal gewoonlik ook oor rugsteuntoerusting beskik indien iets onverwags op julle troudag gebeur.
Wat gebeur byvoorbeeld as ’n kamera val, ’n lens breek of ’n geheuekaart probleme gee? Julle wil die gemoedsrus hê dat die fotograaf voorbereid is en steeds hul werk kan voortsit.
Vrae wat julle die fotograaf kan vra:
- Hoe lank is jy reeds in die troubedryf werksaam?
- Hoeveel troues het jy al as hooffotograaf afgeneem?
- Kan jy voorbeelde van jou vroeëre werk wys wat jou ervaring in die bedryf bevestig?
- Het jy kliënteresensies en volledige trougalerye waarna ons kan kyk?
- Kan jy verwysings van vorige kliënte verskaf wat ingestem het om gekontak te word?
- Het jy rugsteunkameras, lense en ander noodsaaklike toerusting indien iets op ons troudag verkeerd loop?
- Indien die fotograaf se portefeulje nie heeltemal ooreenstem met die ervaring wat hulle beweer hulle het nie, vra gerus om ouer troues te sien.
Fotograaf se kontrak:
Dit is uiters belangrik dat julle die inhoud van die trou fotograaf se kontrak deeglik lees en verstaan voordat julle enigiets onderteken of ’n betaling maak.
Indien daar enige bepalings of klousules is waaroor julle onseker is, vra die fotograaf om dit per e-pos te verduidelik.
Ons beveel aan dat julle alle kontrakverwante vrae en belangrike ooreenkomste skriftelik hanteer, eerder as om slegs telefonies daaroor te gesels. Só het beide partye ’n rekord van wat bespreek en ooreengekom is.
Gee veral aandag aan die volgende:
Kopiereg: Lees die fotograaf se kopieregklousule deeglik. Maak seker julle verstaan wie die kopiereg op die foto’s besit en watter gebruiksregte aan julle as kliënte toegestaan word.
Besprekingsfooi of deposito: Verstaan presies hoeveel julle moet betaal om die datum te bevestig, wanneer verdere betalings verskuldig is en watter bepalings geld indien julle die bespreking moet kanselleer of uitstel.
Wie neem julle troue af? Bevestig dat die fotograaf wie se werk julle bespreek, wel self julle troue gaan afneem en nie sonder julle medewete iemand anders in hul plek stuur nie.
Indien die fotograaf nie ’n kontrak het nie, vra dat ’n skriftelike ooreenkoms opgestel word.
’n Duidelike kontrak beskerm beide julle en die fotograaf en help om moontlike misverstande later te voorkom.
Verstaan waarvoor julle betaal:
Voordat julle ’n trou fotograaf bespreek, moet julle presies verstaan wat by die gekose pakket ingesluit is.
Lees die pakketbeskrywing deeglik deur. Indien enigiets onduidelik is, vra die fotograaf om dit per e-pos te verduidelik sodat julle die besonderhede op skrif het.
Hier is ’n paar belangrike vrae om te vra:
- Hoeveel ure se fotografiediens sluit die pakket in?
- Werk die fotograaf alleen of saam met ’n assistent?
- Sluit die pakket een of twee fotograwe in?
- Indien daar twee fotograwe is, wie is die tweede fotograaf en watter gedeeltes van die troue sal hulle afneem?
- Hoeveel geredigeerde foto’s kan julle verwag?
- Hoe en wanneer sal julle die finale foto’s ontvang?
- Wat is die bykomende koste indien die fotograaf langer op julle troudag moet bly?
- Kan julle op die troudag self versoek dat die fotograaf langer bly, of moet dit vooraf gereël word?
- Hoeveel reiskoste is reeds by die pakket ingesluit?
- Hoe word enige bykomende reis- en verblyfkoste bereken?
- Moenie bloot aanvaar dat iets by ’n pakket ingesluit is omdat ’n ander fotograaf dit aanbied nie. Elke trou fotograaf se pakkette en bepalings verskil.
- Dit is altyd beter om vooraf vrae te vra as om ná die troue met onverwagte kostes of teleurstellings gekonfronteer te word.
Julle moet gemaklik voel met julle trou fotograaf:
Julle trou fotograaf is waarskynlik een van die mense saam met wie julle die meeste tyd op julle troudag gaan deurbring.
Dit is dus ongelooflik belangrik dat julle gemaklik voel in die fotograaf se teenwoordigheid en dat julle goed met mekaar oor die weg kom.
Maak seker dat julle gemaklik met die fotograaf kan gesels en dat daar goeie kommunikasie tussen julle is.
Vermy ’n houding van “ek is die baas en jy moet net luister”. Alhoewel julle die kliënte is, is dit belangrik om die fotograaf met respek te behandel en ruimte te gee om hul professionele kennis en kreatiwiteit te gebruik.
Wees eerlik en wees julleself tydens die eerste ontmoeting. Dit gee beide julle en die fotograaf die geleentheid om te bepaal of julle persoonlikhede en verwagtinge by mekaar pas.
Onthou, julle gaan ’n groot gedeelte van julle troudag saam met hierdie persoon deurbring. Buiten julle lewensmaat, is die fotograaf moontlik die persoon wat vir die grootste deel van die dag aan julle sy gaan wees!
Kies dus iemand wie se geselskap julle geniet en by wie julle ontspanne kan wees.
Wanneer julle gemaklik voel met julle fotograaf, sal dit ook baie makliker wees om natuurlik voor die kamera op te tree. Daardie gemak en vertroue kan uiteindelik ’n groot verskil aan julle troufoto’s maak.

Nadat julle besluit het op ʼn fotograaf:
Stuur ’n lys van spesifieke foto’s wat julle benodig:
Trou fotograwe waardeer dit wanneer hulle vooraf weet watter groepe mense julle graag op julle troudag afgeneem wil hê. Stel dus ’n lys saam van al die groepfoto’s wat julle wil hê en stuur dit vooraf aan julle fotograaf.
Maak ook seker dat julle iemand aanwys wat al die mense op die lys ken en op die dag verantwoordelik sal wees om almal bymekaar te kry wanneer dit tyd is vir die groepfoto’s.
Onthou, julle fotograaf ken nie noodwendig al julle gaste nie. Dit is ook nie die fotograaf se verantwoordelikheid om julle gaste te organiseer of op te spoor nie. Deur iemand aan te wys om hiermee te help, kan julle baie tyd bespaar en verseker dat die fotosessie vlot verloop.
Lig julle fotograaf onmiddellik in indien enigiets verander:
Indien daar enige veranderinge aan julle troudag se reëlings is, is dit belangrik om julle fotograaf so gou moontlik daarvan in kennis te stel.
Dit sluit veranderinge aan die tydlyn, die venue, die onthaalplek of die plek waar julle aantrek in.
Selfs klein veranderinge kan ’n invloed op die fotograaf se beplanning en skedule hê. Hoe vroeër julle die fotograaf in kennis stel, hoe makliker is dit om die nodige aanpassings te maak en seker te maak dat al die belangrike oomblikke steeds afgeneem kan word.
Stuur alle adresse en telefoonnommers aan julle fotograaf:
Dit is baie belangrik dat julle fotograaf julle op julle troudag in die hande kan kry indien dit nodig is.
Stuur vooraf al die relevante adresse aan die fotograaf, insluitend die plek waar julle aantrek, die seremonielokaal en die onthaalvenue.
Gee ook die telefoonnommers van belangrike kontakpersone wat op die dag by julle sal wees. Indien die fotograaf julle nie direk in die hande kan kry nie, sal daar iemand anders wees met wie hulle kan kommunikeer.
Dit help om onnodige verwarring en vertragings te voorkom.
Vra julle fotograaf se advies voordat julle die tydlyn met ander diensverskaffers bevestig:
Julle trou fotograaf weet watter lig toestande die beste resultate vir verskillende soorte foto’s lewer. Daarom is dit ’n goeie idee om die fotograaf van die begin af by julle tydlyn beplanning te betrek.
Die beskikbare natuurlike lig speel ’n belangrike rol in trou fotografie. Die tyd waarop julle paartjie foto’s neem, kan byvoorbeeld ’n groot verskil aan die eindresultaat maak.
Julle fotograaf kan julle adviseer oor die beste tyd vir die fotosessie en waarsku indien die sonlig te skerp is of daar moontlik te min lig beskikbaar sal wees.
Deur die fotograaf se advies in ag te neem voordat julle die tydlyn met ander diensverskaffers finaliseer, kan julle help verseker dat daar genoeg tyd vir die belangrikste foto’s beskikbaar is.
Stuur die finale tydlyn aan julle fotograaf:
Sodra julle die trou tydlyn gefinaliseer het, moet julle dit aan julle fotograaf stuur.
Tydsberekening is ’n baie belangrike deel van trou fotografie. Julle fotograaf moet weet waar hulle op watter tye moet wees sodat hulle betyds kan voorberei en geen belangrike oomblikke misloop nie.
Maak seker dat die finale tydlyn al die belangrike tye en liggings insluit, van die voorbereidings en die seremonie tot die groepfoto’s, paartjie foto’s en onthaal.
Indien daar enige veranderinge aan die tydlyn is, moet julle die opgedateerde weergawe ook aan die fotograaf stuur.
Goeie kommunikasie en deeglike beplanning help om julle troudag so glad moontlik te laat verloop.

Op julle troudag:
Vra gaste om die fotograaf genoeg ruimte te gee:
Vra die priester of dominee om aan die begin van die seremonie, nog voordat die bruid instap, die gaste vriendelik te versoek om hul selfone, iPads en ander kameras uit die fotograaf se pad te hou.
Dit beteken geen gaste wat in die paadjie staan om foto’s te neem terwyl die bruid instap nie!
Dit mag dalk na ’n klein versoek klink, maar gaste wat met hul selfone of kameras in die paadjie staan, kan die fotograaf se uitsig versper en van julle kosbaarste oomblikke bederf.
Julle het ’n professionele fotograaf bespreek om hierdie spesiale oomblikke vas te vang. Gee hulle dus die ruimte om hul werk behoorlik te doen.
Reël kos vir die fotograaf:
Probeer om die fotograaf en hul assistent se kos vroeg tydens die onthaal te laat bedien. Indien moontlik, laat hulle eet voordat die toesprake en danse begin. Dit sal help voorkom dat die fotograaf nog besig is om te eet wanneer belangrike oomblikke plaasvind.
Maak ook seker dat die fotograaf en hul assistent by ’n tafel in die onthaallokaal kan sit. Moenie hulle in ’n donker gang of op ’n plek laat sit waar hulle nie kan sien wat aangaan nie.
Vra asseblief die venue om dieselfde kos vir julle fotograaf en hul assistent voor te berei as vir julle ander gaste.
Dit gaan oor respek vir die mense wat julle gehuur het om deel van julle troudag te wees. Julle fotograaf kan nie sommer vinnig na ’n restaurant vertrek om iets te gaan koop nie. Hulle is daar om julle troue af te neem en moet dus naby genoeg wees om belangrike oomblikke betyds vas te vang.
Vermaak julle gaste terwyl julle paartjiefoto’s neem:
Beplan iets vir julle gaste om te doen terwyl julle besig is met julle paartjiefotosessie.
Gaste kan maklik moeg en geïrriteerd raak wanneer hulle vir lang tye moet wag sonder dat daar iets gebeur. Reël byvoorbeeld verversings, agtergrondmusiek of ’n gemaklike kuiergeleentheid sodat almal die tyd kan geniet.
Gee ook vir julle fotograaf genoeg tyd om die nodige foto’s te neem. Moenie hulle aanjaag omdat julle bekommerd is oor die tyd nie. Dit kan onnodige stres veroorsaak en die fotosessie haastig laat voel.
Met goeie beplanning kan julle genoeg tyd vir die fotosessie inruim sonder dat julle gaste verveeld raak.
Reël iemand om julle handsak en ander persoonlike besittings vas te hou:
Gedurende julle fotosessie sal daar waarskynlik iemand nodig wees om julle handsak, grimering, skoene, sonbrille en ander persoonlike besittings te dra.
Moenie aanvaar dat die fotograaf se assistent hierdie verantwoordelikheid sal oorneem nie. Die assistent is daar om die fotograaf met fotografieverwante take te help en nie om as die bruidspaar se persoonlike assistent op te tree nie.
Wys eerder vooraf ’n betroubare vriend of familielid aan om julle met hierdie klein maar belangrike take te help.
Dit sal die fotosessie baie makliker laat verloop en verseker dat julle fotograaf en hul assistent op hul werk kan fokus.
Maak seker dat die onthaal genoeg lig het:
Kerse skep ’n pragtige en romantiese atmosfeer, maar hulle verskaf nie noodwendig genoeg lig vir goeie troufoto’s nie.
Hoewel ’n vertrek met kerslig baie mooi kan lyk, is dit belangrik om ook aan die fotograaf se beligtingsbehoeftes te dink.
Maak seker dat daar genoeg lig in die onthaallokaal is sodat die fotograaf natuurlike en mooi beligte foto’s kan neem sonder om uitsluitlik op kameraflits staat te maak.
Goeie beligting help die fotograaf om die atmosfeer van julle onthaal vas te vang en foto’s te lewer wat by die styl van julle troue pas.
Bespreek julle beligtingsplan vooraf met die fotograaf en die venue. Só kan julle steeds die romantiese atmosfeer van kerse geniet terwyl daar genoeg lig is om julle spesiale oomblikke mooi vas te vang.

In Kort:
Om hierdie advies kortliks op te som:
- Begin deur ’n kortlys van trou fotograwe saam te stel.
- Lees resensies en doen deeglike aanlyn navorsing oor die trou fotograwe wat julle oorweeg.
- Volg die keuringsproses wat vroeër in hierdie artikel bespreek is voordat julle ’n finale besluit neem.
’n Professionele trou fotograaf is een van die groter uitgawes in julle trou begroting. Dit is daarom belangrik om seker te maak dat julle die regte besluit neem.
Julle troufoto’s is kosbare herinneringe aan julle troudag wat julle vir die res van julle lewe sal koester. Neem dus julle tyd, doen deeglike navorsing en kies ’n trou fotograaf wie se werk en styl by julle as paartjie pas.
Boekmerk hierdie artikel sodat julle dit enige tyd weer kan besoek wanneer julle raad of leiding nodig het tydens die beplanning van julle troue.

Artikel Krediet:
- Artikel: Mooi Troues
- Fotografie: Pexels

