Robert John & Denise se Troue in die Riebeek-Vallei

Met baie opgewondenheid deel ons Robert John en Denise se troue in Riebeek-Vallei met julle op Mooi Troues.  Riebeek-Vallei is bekend vir sy pragtige natuurskoon en rustige lewenstyl.   Die paartjie se troudag was só mooi gewees.

Die paartjie het by die pragtige trou venue, Groenrivier Function Centre getrou.  Geleë in Riebeek-Wes, ʼn populêre bestemming vir troues.  Groenrivier Function Centre is die ideale plek vir ʼn pragtige troue in die Swartland.  ʼn Pragtige trou venue wat jy heeltemal kan versier soos jy wil, want dit is simplisties en ʼn groot skoon wit spasie.  Die plaas bied baie meer as net ʼn trou venue.  ʼn Paar opsies vir die seremonie as ook oulike verblyf opsies op die plaas.  Dit is ʼn juweel in die Riebeek Vallei wat jy nie moet mis nie.

Wanneer dit kom by die paartjie se trou dekor het hulle dinge simplisties gehou.  Die rou hout tafels met die wit stoele het so mooi uitgestaan teen die spierwit vloere en die wit dalk balke van die trou venue.  Met fyn liggies wat vanuit die dak hang bo die tafels, het dit ʼn interessante en romantiese gevoel gegee aan die trou venue.   Dekor elemente op die tafel het ingesluit ʼn paar enkel Protea blomme, groenigheid, glase en dun kerse.

Denise het beeldskoon gelyk in haar eenvoudige, maar baie stylvolle trourok.  Robert John het ʼn donkerblou troupak aangehad wat so mooi uitgestaan het teen Denise se pragtige trourok.  

Dit was ʼn gesellige kuier gewees en ʼn lekker makietie!  Rol af om meer te lees oor Robert John & Denise se liefdesreis en hulle troue in Riebeek Vallei.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Robert John het mekaar ontmoet einde 2013 en vroeg 2014 vas begin uitgaan.  Ons het ontmoet deur ʼn vriend wat ons ingemeen het.  Ivan (die vriend) was op daardie stadium saam met my in die musiek bedryf en ons het saam musiek gemaak en hy het ter selfde tyd saam met Robert John studeer.  Ivan het een aand terwyl hy saam met ʼn paar pelle gekuier het, foto’s gedeel en ek het dadelik gevra wie die ou in die rooi hemp in die foto’s was.  Dit was toe Robert John.

Ek het vir Ivan genoem dat ek dink hy is baie aantreklik.  Ivan het genoem dat ek hom moet bevriend op Facebook.  Ek was die jagter en het hom ʼn vriendskap versoek gestuur.   Ek het die eerste boodskap gestuur en sy nommer later gevra.  Maand van gesels het verby gegaan, en toe gaan ons op ons eerste afspraak.  Ek was kop oor heuwels, maar ek was nie sy tipe nie.

Ook, hy het sopas Kaapstad toe getrek na jare in die buiteland.  Sy Afrikaans was baie sleg en my Engels was glad nie goed nie.  Kom ons sê dat ons het nie veel verstaan het wat die ander een gesê het nie.  Na ons derde afspraak het ek sy hart oorwin en ons het amptelik begin uitgaan in Januarie 2014.  Oukersaand van 2020 het hy die groot vraag gevra voor familie.  Ek is ʼn baie nuuskierige mens maar ek het dit glad nie vermoed of verwag nie.  Dit was perfek.

Hy wou ietsie meer opwindend reël, maar hy was so bang dat KOVID-19 se regulasies weer sal strenger raak en dat ons dan nie êrens heen kan gaan vir die spesiale oomblik nie.  Nogtans nie, ek was baie gelukkig!  Na 6 jaar was ek amptelik sy verloofde!

Die Verlowing Tydperk:


Ons het verloof geword op 24 Desember 2020, en het 26 Maart 2022 getrou.  Ek wou nie dit waag om in 2021 te trou met die KOVID-19 regulasies wat nog in plek was nie.

Dit was ʼn self beplan troue van begin tot einde.  Ek is ʼn minimalistiese mens en wou nie baie dingetjies gehad het nie.  Daar was ook ʼn paar selfdoen goedjies om dit ʼn spesiale gevoel te gee.  Dit was maar moeilik aangesien ek voltyds werk en studeer aan my BCom graad en Robert John werk baie kere weg van die huis af, of vir baie lang ure aaneen, so ek kon nie regtig sy hulp vra nie. Gelukkig het my Ma baie gehelp.

Trou Begroting:


Die begroting was R 150,000 tot R 180,000.  Ons het daar by gehou deur rond te vra vir die beste winskopies en ook ʼn paar goedjies self gedoen.  Soos genoem is ek ʼn minimalis, so ek het nie baie spandeer op dinge soos blomme of tafel dekor wat mense nie rerig gaan onthou nie.  Ons het meer gespandeer op goed soos trou fotograaf en trou videograaf, asook die kos en drank.  Ek voel ook die trou venue was reeds so mooi dat ek nie veel nodig gehad het om dit mooier te maak nie.  Daar was altesaam 70 gaste.

My advies sal wees om nie onnodig te spandeer op tierlantyntjies wat niemand gaan onthou nie.  Spandeer julle begroting op wat saak maak en wat almal oor gaan praat na die tyd.  Mense soek lekker kos, goeie musiek en jy soek mooi foto’s en herinneringe.

Merkwaardigste Oomblikke:


Denise:

My merkwaardigste oomblik was ons eerstens toe ek vir my Pa staan en wag om my te kry.  Tweedens was die voorreg dat my Ma my kon help aantrek, en natuurlik toe ek afstap in daai padjie en my toekomstige man sien.  Natuurlik sy geloftes was absoluut pragtig. Hy wen definitief daai ene.

Robert John:

Toe sy deur die deur loop.  Ek kon nie my emosies inhou nie.  Ek was so emosioneel en opgewonde om haar as my vrou te hê.

Die Besluitnemingsproses:


Robert John het nie veel gehelp tot aan die einde nie.  Ek en my Ma het maar als sover moontlik beplan.  My hoof strooimeisie – Robert se suster, Amber – het baie gehelp – emosioneel en fisies. Robert John weet ek hou maar ʼn bietjie daarvan om in beheer te wees, so al was hy baie keer nie daar om te help nie het hy geweet ek verkies dit eintlik.  Ek dink hy was redelik verras toe hy die dag by die saal in stap.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Aan die bruide:

Dit is die een dag wat jy bietjie selfsugtig mag wees.  Dink eerste aan jouself.  Moet nie te veel stres oor klein dingetjies nie.  Weet dat ding tien teen een nie 100% gaan verloop nie, maar weet jy het mense wat daar sal wees om dit reg te maak.  Geniet net die hele proses van beplan en die dag van die troue.  Dit gaan rerig so gou verby.

Aan die bruidegomme:

Neem elke oomblik in.  Die dag gaan so gou verby.  Geniet net elke oomblik.

Paartjie se styl:


Ek het nog altyd gedroom oor my tipe trourok, maar ek het heeltemal iets anders gekies en gedra die dag.  Omdat ek hou van simplisiteit het ek gegaan vir ʼn eenvoudige ivoor-kleur trourok met klein vars water pêrels.  Glo dit of nie, maar ek het die trourok tweedehands op Facebook Market Place gekoop en dit bietjie laat verander en ek het nog nooit in my lewe so mooi gevoel nie.

Robert John het ʼn mooi blas vel en vlootblou lyk altyd so mooi by hom.  Daarom het ons besluit op vlootblou pakke vir die mans.  Hy lief ʼn mooi leer effek en het toe besluit op leer dasse en strikdasse vir die mans.  Dit het só mooi gewerk saam die sage groen strooimeisie rokke.

Gunsteling Diensverskaffers:


Definitief ons trou fotograaf!  Goeie aarde, Petronella was uitstekend!  Sy het elke persoon so gemaklik laat voel voor die kamera.  Sy het ons twee se lawwe persoonlikhede vasgevang.  Ek sal haar vir enige iemand aanbeveel. Sy is briljant.

Venue & Dekor:


Ons venue was Groenrivier Function Centre in Riebeek-Wes.  Ek het jare terug gereeld by die trou venue gesing en dit is hoe ek die eienaars en plek ken.  Ek is versot op dié plek.  Elegant, pragtig en só ʼn mooi uitsig.

Ek het eers na ʼn klomp ander trou venues geloer, maar in die agterkant van my kop het ʼn stemmetjie heeltyd gesê Groenrivier.  Toe ek die trou venue weer gaan kyk het ek geweet dit is dié een!

Dekor was gedoen deur DecorMe. Weereens, baie simplisties.  Ek wou speel met die rou hout tafels, die sage groen servette en eukaliptus blare en wit blomme. Dit is vir my so ʼn skoon simplistiese kleurskema wat altyd ʼn treffer sal wees.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Ek dink die enigste ding wat verkeerd geloop het was dat direk na die eerste dans moes die musiek in gaan in die Pa en Dogter dans, maar dit het nie.  Die platejoggie het begin met dans musiek en almal het begin dans.  Ek het nie veel gestres nie en het net gewag tot na die liedjie en toe my dans gehad saam my Pa.  Dit was nie die einde van die wêreld nie.

Die dag was perfek, en ek sal niks wou verander nie.  Al het daar dalk dinge verkeerd gegaan waarvan ek nie eers weet nie.

Wittebrood:


Ongelukkig kon ons nog nie op wittebrood gaan nie, oor ons voltyds werk en ek studeer en moet gereeld eksamen skryf.  Ons beplan om in Desember 2022 op ʼn wittebrood te gaan.  Zanzibar of Thailand is ons opsies.   Ons wil net ʼn rustige eiland ervaring hê en ontspan na die rowwe jaar.

Eerste Dans:


Omdat ons ‘n lawwe paartjie is wou ons ietsie meer opgewek kies.  Albei van ons was nog altyd mal oor Michael Buble en het toe besluit op “Everything” van hom.  Ons het 1 keer, 2 dae voor die troue vinnig ʼn tipe van ʼn dans roetine probeer doen, maar ons het net ons self geniet die aand van die troue.  Dit was perfek.  Met die draaie en swaaie was dit die beste dans nog saam met hom.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: