Johann & Natasha se Elegante Groen Troue in Mpumalanga

Johann en Natasha se elegante groen troue het by die pragtige Smitsfield Wedding Venue in Lothair, Mpumalanga, plaasgevind. Hierdie was die perfekte agtergrond vir hul groot dag. Met ʼn sterk fokus op natuurskoon en moderne trountendense het hul troudag soos iets uit ʼn tydskrif gelyk, pragtig vasgevang deur die lens van RDK Photography.

Natasha se trourok was ʼn ware meesterstuk wat unieke troukonsepte met tydlose troumode gekombineer het. Die rok is met liefde deur haar ma, Belinda, ontwerp en van luukse Milano-satyn gemaak, met fyn handgemaakte pêrel- en diamanté-besonderhede as afwerking. Met ʼn elegante meermin-silhoeët en ʼn ry pêrelknopies wat teen die rug afloop, het dit ʼn tydlose voorkoms gehad. Die veelsydige ontwerp het uit vyf elemente bestaan, waaronder ʼn verwyderbare mantel vir die seremonie, ʼn dramatiese romp, Swarovski-kristalblomme en afhaalbare moue vir hul eerste dans.Later die aand het Natasha haar uitrusting verruil vir ʼn speelse kort rok vir die onthaal. Johann het haar styl perfek aangevul in ʼn treffende groen pak.

Die stylvolle troudekor was ʼn moderne kombinasie van groen, swart en wit. Varings en monstera-blare is in hoë vase uitgestal, terwyl olyfgroen servette, swart eetgerei en beton onderborde kontemporêre tafel dekor geskep het. ʼn Pasgemaakte drapering met vyf sagte bane materiaal, afgewerk met sprankelende feetjieliggies, het die dak van Smitsfield Wedding Venue omskep in ʼn gesofistikeerde hoogtepunt.

Ons nooi ons lesers uit om af te rol en RDK Photography se pragtige foto’s hieronder te bewonder. Besoek ook gerus Mooi Troues se aanlyn trougids om van die beste troudiensverskaffers in jul omgewing te ontdek.

Trourok:


’n Trourok So Uniek Soos Liefde Self

My trourok was niks minder nie as ’n meesterstuk met liefde ontwerp deur my ma, Belinda. Ons het die proses begin deur saam rokke aan te pas om verskillende style en silhoeëtte te verken, al het ek geweet ek is gelukkig genoeg om bykans enige styl te kan dra, was ek nie seker oor watter tipe styl ek soek nie.

Die inspirasie vir my rok het ek op Pinterest gevind, ’n unieke ontwerp wat ek aangepas het volgens my eie smaak.

Die rok met ’n basis van luukse Milano-satyn en ’n delikate, pêrelbedekte laag daaroor, in suiwer wit, met pêrels wat van klein na groter groottes vloei, fyn met die hand aangebring. Dit het uit vyf verskillende elemente bestaan: ʼn delikate pêrel- en diamanté -mantel wat ek in die kerk gedra het en sag saam met my sluier gevloei het; ’n dramatiese, pêrelbedekte romp met ’n lang sleep agter en ’n korter voorkant; en ’n afneembare blomdetail met Swarovski-kristalle wat die voorkoms vir die onthaal heeltemal verander het. Afneembare moue, wat ek tydens ons eerste dans gedra het, het ’n veelsydige en elegante dimensie bygevoeg.

Die silhoeët was ’n elegante mermaid styl, met ’n ry pêrelknopies wat langs my rug afloop. ’n Lang, vloeiende sleep en sluier het elke tree dramaties en sprokiesagtig gemaak.

Vir die onthaal later het ek in ’n kort rok verander (ook deur my ma gemaak) met ’n speelse blomdetail en ’n halternek versier met diamantés en pêrels.

Dit bly, sonder twyfel, vir my die mooiste trourok ooit.

Paartjie se Verlowing:


26 Oktober 2024

Die week van ons verlowing was Johann vol stories. Hy het my laat glo dat hy en sy broer Donderdag vuur geslaan het en dat sy foon per ongeluk gebreek het toe sy broer oor hom ry, daarom kon ons nie video call nie. Vrydag het hy gesê hy braai by vriende en die sein is swak. Ek het hom geglo, niks het vreemd geklink of buite die normale nie.

Die volgende dag is ek en vriende na die Cape Town Country Festival, met ’n “portfolio shoot” later (wat eintlik net ’n dekmantel was). Ek het nie geweet ek sou nie weer stadion toe gaan nie. Aan die einde van die fotosessie vra die fotograaf dat ek met my rug na hom staan want hy wil my rug afneem. Ek hoor Johann se stem, ek wonder toe of ek droom of myself verbeel. Waarna die fotograaf toe vir my sê om, om te draai en daar staan hy op een knie.

Ek was totaal verras, want ons sou mekaar eers die volgende naweek sien. Hy het alles perfek beplan om dit ’n geheim te hou.

P.S. Sy foon was nooit gebreek nie, die braai het nooit gebeur nie, hy was reeds in die Kaap besig met die laaste reëlings.

Verloof- en Trouringe:


’n Ring wat ’n Liefdesverhaal Vertel

Ons reis na die perfekte ring het lank voor die groot vraag begin. Soos baie toekomstige bruide, het ons vroeg reeds begin droom oor style, snitte en die fyn detail wat ’n ring werklik besonders maak. Ek was egter onseker oor presies watter snit my hart sou vasvang en ten spyte van ons soektog, kon ons nie ’n enkele ontwerp vind wat my volkome tevrede gestel het nie.

Dit was toe dat Johann besluit het om die proses persoonliker te maak en het toe die saak in eie hande geneem. Hy het na ’n juwelier wat hy goed ken gegaan, met die visie om ’n unieke ring te skep wat nie net mooi is nie, maar betekenisvol en ’n ware weerspieëling van ons liefde en my styl.

’n Ontwerp Met Betekenis

Ek het self betrokke geraak by die ontwerp en het sketse gemaak, inspirasie versamel en elemente gekies uit ringe waarvan ek gehou het. Elke detail is sorgvuldig oorweeg, elke lyn en vorm met bedoeling gekies. Uiteindelik het alles perfek bymekaar gekom.

Die finale ontwerp was Johann se insette en ek het dit eers gesien die dag toe hy die ring aan my vinger steek. ’n asemrowende kombinasie van elegansie en simboliek met ’n stralende radiant cut-diamant in die middel, geflankeer deur twee delikate marquise-snitte aan weerskante en ʼn solitaire langs die marquise op die band aan weerskante. Kleiner marquise-diamante is subtiel ingewerk aan die onderkant en verteenwoordig engelvlerke, ’n sagte, betekenisvolle detail wat die ring nog meer besonders maak. Die troupante het ’n verfynde ry solitaire-diamante, wat ’n gevoel van tydlose skoonheid skep.

Tydlose Elegansie

Beide my verloofring en troupante is met wit diamante in platinum geset, wat ’n klassieke, luukse afwerking gee en die ontwerp se verfynde karakter beklemtoon. Hierdie ring is meer as net ’n juweel; dit is ’n persoonlike skepping wat ons liefde en unieke storie weerspieël.

Trou Dekor en Styl:


’n Stylvolle Viering van Groen en Elegansie

Vir ons troue het ons doelbewus gekies vir groenigheid bo tradisionele blomme—’n vars, moderne benadering wat ons styl perfek weerspieël het. Varings en monstera-blare is hoog in vase geplaas, terwyl wit kerse in watergevulde silinders ’n sagte, romantiese atmosfeer geskep het.

Die tafel dekor het ons kleurpalet van groen, swart en wit beklemtoon: olyfgroen servette, swart borde en eetgerei en ’n beton-onderbord vir ’n kontemporêre gevoel. ’n Swart mesh-runner het elegant deur die middel van die tafels geloop.

Ons hooftafel het uitgestaan met ’n verskeidenheid wit blomme en ’n groot hoeveelheid drywende kerse in glas-silinders. Die strooimeisies het diep groen rokke gedra, terwyl die strooijonkers in roomkleurige pakke met bypassende dasse hul opwagting gemaak het. Gaste het ook die kleurskema gevolg met skakerings van groen, room, swart, sjampanje en bruin.

’n Besonderse hoogtepunt was die dak: ’n pasgemaakte drapering—die eerste van sy soort vir die dekor span—met vyf sagte bane materiaal wat in die middel afgevloei het, afgewerk met fairy lights wat ’n warm, betowerende gevoel geskep het.

Die dekor was doelbewus eenvoudig, maar verfynd met ’n balans tussen klassiek en modern, met ’n unieke aanslag. Die eenvoudige, elegante dekor het die natuurskoon omhels en ons liefde op ’n egte manier weerspieël. Groenigheid, varings en monstera-blare het die natuurskoon omhels en die gevoel geskep dat ons liefde deel is van iets groter, iets natuurliks en tydloos.

Trou Begroting en Beplanning:


Hulle het 143 gaste onthaal, met ’n trou-begroting van R500 000 en het ongeveer 10 maande aan die beplanning van hul groot dag spandeer.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: