FC & Bianca se Lewendige Pienk & Oranje Troue buite Pretoria

FC en Bianca se lewendige pienk en oranje troue buite Pretoria was ʼn ware viering van liefde, gevul met vreugde, warmte en onvergeetlike oomblikke. Om hul droomtroue vanuit die Kaap net buite Pretoria te beplan, was verrassend maklik danksy hul venue se alles-insluitende pakket. Die toegewyde span het die hele proses moeiteloos laat verloop en self na al die blomme en dekor omgesien, wat vir die paartjie gemoedsrus gegee het.

Bianca het asemrowend gelyk in ʼn klassieke A-lyn trourok van swaar wit satyn. Die ontwerp is afgerond met ʼn asimmetriese skouer en ʼn elegante riffel-detail wat ʼn tikkie drama bygevoeg het. Sagte plooie het vanaf die skouer tot by die middellyf gevloei, terwyl die indrukwekkende sleep vasgemaak kon word sodat sy die dansvloer sonder moeite kon geniet. Haar voorkoms is voltooi met ʼn sluier wat met fyn wit pêrels versier is. FC het stylvol langs haar gestaan in ʼn sandkleurige baadjie en ʼn bruin das wat sy voorkoms perfek afgerond het.

Die troudekor het met sy lewendige kleure behoorlik uitgestaan. Helder pienk en oranje kleurpalet het die dag met energie en opgewondenheid gevul en ʼn vrolike atmosfeer geskep. Van uitbundige blommerangskikkings tot die opvallende “BEST DAY EVER”-bord, het elke hoekie van die venue vreugde en persoonlikheid uitgestraal. Hierdie kreatiewe trou idees het ʼn pragtige gaste-ervaring geskep waar moderne trou neigings en hartlike gasvryheid mekaar perfek aangevul het.

Is julle besig om julle troue te beplan en droom julle ook van iets uniek? Rol af en geniet die foto’s van FC en Bianca se besonderse troudag. Besoek ook Mooi Troues se aanlyn trougids om talentvolle diensverskaffers te ontdek wat kan help om al julle trou drome ʼn werklikheid te maak.

Trourok:


My trourok was ʼn klassieke A-lyn silhoeët met ʼn asimmetriese skouer detail. Sagte plooie het vanaf die skouer tot by die middellyf gevloei, terwyl ʼn elegante ruffle ʼn tikkie drama tot die ontwerp bygevoeg het.

Die rok is van swaar wit satyn gemaak en het ʼn indrukwekkende sleep gehad. Vir ekstra gerief kon die sleep met ʼn knopie vasgemaak word, wat dit baie makliker gemaak het om die dansvloer te geniet.

My sluier is ontwerp om perfek by my haarstyl in te haak en was versier met fyn wit pêrels wat oraloor versprei was, wat die voorkoms op ʼn elegante wyse afgerond het.

Paartjie se Verlowing:


Ek (Bianca) is gedurende die laaste week van Januarie ’25 by die werk gepromoveer, so ons het afgespreek om die geleentheid die Vrydagaand te vier. FC het alles gereël; ek het net in die kar geklim en ons het gery – tot my verbasing het ons by Groot Constantia-wynplaas gestop. Ek was baie opgewonde en ons het na Jonkershuis gestap vir ete.

Die res van die aand was “normaal”. Ons het lekker geëet, ’n glasie wyn gedrink en dit was baie gesellig. FC het nie anders opgetree nie, so ek het niks vermoed nie.

Na ete het hy voorgestel dat ons bietjie rondstap. Daar is verskeie paadjies om te stap en ons stop by ʼn trappie wat oor die wingerde uitkyk. Die stad se liggies het begin verhelder soos die son besig was om te sak, die see was ver in die agtergrond. Na ’n paar minute het die gedagte by my opgekom dat dit die perfekte oomblik sou wees om die groot vraag te vra maar ek het die idee vinnig afgeskiet.

Die Vraag Waarvoor Ek Gewag Het

Toe ek na FC draai en vra of hy reg is om te gaan, het hy nie geantwoord nie. Hy het my hand gevat en gesê hy moet my eers iets vra. In daardie oomblik het hy in sy sak begin vroetel en ’n ringboksie uitgehaal – my hart wou bars. Dit was die oomblik waarop ek gewag het.

Ek het nooit geweet ’n mens se hart kan so vol liefde voel nie. Nie ek of FC kan presies onthou wat hy gesê het nie, maar ons weet dit was mooi; hy het selfs ’n tissue in sy broeksak reg gehou! Hy het op een knie gegaan en die groot vraag gevra.

Dit was al skemer, so ek kon nie die ring mooi sien nie, maar ek was so gelukkig dat ek selfs met ’n draadring sou “ja” sê. Toe ons in die lig kom en ek die ring sien, het ek weer gehuil. Dit was presies wat ek wou hê!

FC het my enigste vereiste – om verras te wees – na ’n hele nuwe vlak geneem, en ek is ewig dankbaar vir die moeite wat hy gedoen het om die aand so spesiaal te maak.

Verloof- en Trouringe:


My verloof ring wou ek klassiek gehou het met ʼn ovaal diamant wat omring is met is met wit goud.

Vir die troupand was ons bevoorreg om my oorlede ouma se goud te kon smelt en dit gebruik om en my en my man se trou ring te maak.
My trou pand bestaan uit 5 kleiner diamante wat omring is met goud en is los van die verlowing pant.

FC was bietjie meer kreatief met sy ring. Hy het besluit om sy eie embleem ring te ontwerp. Die embleem bestaan uit 3 letters( B,F en C) met ʼn kruis in die middel wat verwys na ons geloof.

Trou Dekor en Styl:


Ek wou graag iets hê wat nie ander vriendinne al reeds gebruik het in hulle troues nie en eendag het ek op ʼn helder pienk en oranje Pinterest foto afgekom en ek het net geweet dit is die kleurskema wat my laat warm voel aan die binne kant.

Die algehele styl was dat jy moet opgewonde en gelukkig wees wanneer jy die kleure sien. Dit moet jou energie gee – en ons venue (Meulstroom) doen al die blomme en dekor self so elke dekor wat pienk of oranje kon wees het hulle vir ons gedoen.

Aangesien dit die Beste dag van mens se lewens is wou ek graag ʼn teken maak met groot letters wat sê “BEST DAY EVER” en dit het net perfek by die helder dekor en tema gepas.

Trou Begroting en Beplanning:


FC en Bianca se troue, met 90 gaste en ʼn begroting van ongeveer R300 000, is oor 10 maande beplan met die hulp van ʼn professionele troukoördineerder.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: