Alrich en Lorinda se intieme troue by Chapman’s Peak het die perfekte agtergrond gevorm vir hul spesiale dag. Met die see as getuie en aanskouers van regoor die wêreld wat saggies die troumars gesing het, het hierdie klein liefdesviering soos ’n groot, warm omhelsing gevoel. Dit is ’n treffende voorbeeld van hoe unieke troukonsepte onvergeetlike oomblikke kan skep sonder oorbodige reëlings.
Lorinda se pragtige trourok was ’n droom in tydlose trou mode. Die ontwerp het gespog met ’n lae rug, ’n subtiele skeur en fyn kralewerk wat besonder mooi vertoon het in die sonsondergang foto’s. Alhoewel ’n trourok nie noodwendig vir stap en klouter tussen die rotse gemaak is nie, het sy die uitdaging met absolute grasie aangepak terwyl hulle teen die rotse afgeklim het vir die klassieke seremonie.
Die paartjie het op ’n unieke piekniek-styl vir hul intieme onthaal besluit. Hulle het op eenvoudige, aardse kleure met ’n skoon, wit dekor-styl gefokus. Hier het hulle saam met hul naaste familie aangesit vir ’n eenvoudige maaltyd, hul eerste dans geniet en die troukoek gesny. Hierdie bekostigbare trou opsies wys dat stylvolle troudekor dikwels in eenvoud opgesluit lê.
As ’n skouspelagtige afsluiting het die bruid en bruidegom die aand in Kaapstad se strate deurgebring vir ’n onbeplande finale fotosessie in Langstraat. Die kuierplekke het vir ’n warm, sielvolle atmosfeer gesorg wat bygedra het tot kreatiewe trou fotografie en moderne trou neigings. Kyk na Lorinda en Alrich se foto’s vir hierdie unieke trou idees, ’n ryk bron van trou inspirasie vir dinamiese bruide.
Mooi Troues se aanlyn trougids spog met talentvolle diensverskaffers in die Kaap wat julle troudag ook onvergeetlik kan maak.

Trourok:
Ek moes baie vinnig spring! Meeste rokke vat ses weke op bestelling, maar omdat ek net agt weke gehad het moes ek iets vat wat beskikbaar was in die winkel. Gelukkig het ek ʼn rok gekry by Olivelli in North Cliff, JBH, wat perfek gepas het en wat slegs ʼn paar verstellings nodig gehad het. My rok was perfek. Lae rug, nie te ʼn hoë slit nie en baie fyn kraletjie-detail. Dit het ongelooflik vertoon op die sonsondergang foto’s.

Paartjie se Verlowing:
ʼn Goeie tyd om walvisse te sien in die Kaap is onderandere elke jaar in Augustus. Alrich weet dat dit iets is wat ek nog altyd wou sien. So reël hy sonder my wete vir my verlof by die skool waar ek werk en ons is sonder dat ek ʼn idee het wat kom op ʼn Donderdagmiddag hier weg. Alrich het selfs my tasse vir my gepak met klere vir elke moontlike weervoorspelling. Met ons aankoms by OR Thambo het ek steeds nie geweet wat op pad is nie, maar toe ek besef dat Hermanus ons bestemming is het ek geweet ons gaan uiteindelik walvisse kyk!
Min het ek geweet dat ek op ʼn koue, reënerige Vrydagaand op die strand verloof sou raak aan my beste maatjie. ʼn Fotograaf het alles vanuit ʼn bos teen die sandduine afgeneem en Alrich moes mooi keer toe ek hom as n moontlike “oortreder” aanskou met sy skielike verskyning. Dit was onwerklik en as dit nie vir die fotograaf was nie, sou ek baie min daarvan kon herroep. Die oomblik was net te groot!

Trou Dekor en Styl:
Ons wou dit regtig eenvoudig hou. Alrich het ʼn gesegte wat hy altyd sal gebruik wanneer ek dinge oorkompliseer: “Just keep is simple, Stupid”. Ek het myself gereeld daaraan herinner en op die manier het die mooiste troue sonder “te veel” moeite bymekaar gekom. Ons wou baie graag by die uitkykpunt by Chapman’s Peak trou, met die see as die agtergrond. Ons was egter skepties omdat die weer in die Kaap so onvoorspelbaar is. Gelukkig het dit alles mooi uitgewerk en ons fotograaf en die Dominee was bereid om saam met ons daar af te klouter.
Daar was mense van reg oor die wêreld wat saggies die troumars geneurie het en alhoewel ek dit klein en intiem wou hou, was dit asof ek skielik honderde gaste op my troue het. Die beste gedeelte daarvan, baie gaste maar geen verpligting teenoor enige een nie. Ek het in die weke na ons troue steeds foto’s en boodskappe gekry vanuit ander lande waar mense skryf hoe besonders dit was. Maklik was dit beslis nie, ʼn trourok is nie gemaak vir hiking nie!
Ons het na die verloop van die troue aangesit vir ʼn eenvoudige maaltyd by ʼn pekniek wat opgestel is vir ons twee, my ma en tannie. Daar het ons ons eerste dans gehad en ook die koek gesny. Ons het vir eenvoudige, aardse kleure gegaan. Net “clean and white”.
’n Onbeplande fotosessie in Long Street
Sonder enige verdere beplanning het ons die aand afgesluit in Long Street, Kaapstad, met ons finale fotosessie. Ons het foto’s geneem in die kuierarea’s wat gesorg het vir n warm, smokey tipe foto. Dit het gevoel soos iets uit The Vampire Diaries. Die hele oomblik was heeltemal onbeplan en die mense het so mooi saamgespeel, iets wat natuurlik gehelp het om die perfekte atmosfeer te skep. Uiteindelik was dit ’n ongelooflike ervaring en dalk net my gunsteling gedeelte van die hele dag!

Verloof- en Trouringe:
Ons altwee se ringe is gekoop by Browns, Brooklyn. Ek het nie enige spesiale voorkeur gehad nie, ek wou net graag n goue ring hê. Alrich het self die ring gekies en dit volgens sy spesifikasies laat maak. Dis n pragtige halo-tipe ring met die mooiste bypassende troupand.
Hy het ʼn signet ring gekies wat dieselfde afwerking as myne het. Aan die binnekant is die woord “True North” gegraveer, omdat dit al vir baie jare ons slagspreuk vir ons verhouding is, ʼn duidelike baken van veiligheid. Die rigting huistoe.

Trou Begroting en Beplanning:
Met slegs vier gaste, ek, my man, my ma en my tannie, was ons troue ’n intieme selfdoen-troue waarvoor ons nie ’n presiese begroting gehad het nie. Omdat die troue so klein was, kon ons die geld tot ons beskikking op onsself spandeer. Alles ingesluit van die rok, pak en ringe tot verblyf, die wittebrood en sakgeld het ongeveer R250 000 gekos. Alhoewel ons al van jongs af met ons harte aan ons troue beplan het, het alles baie vinnig in plek geval toe dit amptelik geword het. Ons het in Augustus verloof geraak en is reeds in Desember getroud.

- Fotograaf: Ever Ever Photography | Kontak
- Venue: Chapmans Peak Drive
- Blomme: Caroline Fine Flowers in V&A Waterfront | Kontak
- Bruidegom-pak: Your Pal Mens Boutique | Kontak
- Dekor: Cultivate Picnics | Kontak
- Grimering: Swoon Make up Artistry | Kontak
- Hare: Swoon Make up Artistry | Kontak
- Huwelik kontrak: Wildflower Weddings | Kontak
- Huweliksbevestiger: Wildflower Weddings | Kontak
- Juweliersware: Browns Brooklyn Mall | Kontak
- Paartjie se verblyf: The Sky Cabin in Misty Cliffs
- SSkoene: Fynbos Pretoria | Kontak
- Spyseniering: Cultivate Picnics | Kontak
- Trourok: Olivelli, JHB | Kontak
- Bruid se Trouring: Browns Brooklyn Mall | Kontak
- Bruidegom se Trouring: Browns Brooklyn Mall | Kontak
- Troukoek: Cultivate Picnics | Kontak
- Wittebrood Bestemming: Suid-Afrika – Vanaf Misty Cliffs het ons die hele Weskus getoer vir twee weke. Geen verblyf is vooraf bespreek nie. Ons het elke dag tydens aandete besluit waar ons daardie aand wil slaap. Geen beplanning, geen stres of verwagtinge. Heerlik!
- Wittebrood Plek: Verskeie gastehuise, Airbnb’s, hotelle.
