Rian & Marissa se Bon Cap viering

Rian en Marissa het mekaar ontmoet op ‘n hedendaagse manier.  Al kon Marissa nie dadelik die gevoel binne haar beskryf nie, het hulle gou besef dat hulle iets meer as ‘n vriendskap beet het  Die twee het hul viering by Bon Cap guestfarm and wedding venue gehou omdat hulle graag hul groot dag in die wynlande wou vier.  Die paartjie het ‘n klein en intieme troue gehad.  Dit laat die hele geleentheid meer spesiaal voel, aangesien jy genoeg tyd het om met elke gas tyd te spandeer.

Bon Cap Guestfarm and Wedding Venue het ook verskeie elemente van die troue behartig.  Dit het die beplanning stresvry en sonder probleme laat verloop.  Die paartjie het selfs tydens die seremonie ‘n prettige Afrika-element bygevoeg deur ‘n Afrika halssnoer en kopband te dra.  Dit is beslis ‘n oulike idee om iets tradisioneel en eie aan Afrika tot jou dag te voeg!

Lees onder meer oor hoekom die paartjie Bon Cap Guestfarm and Wedding Venue aanbeveel vir jou troudag.  Hulle gee slim raad oor die elemente wat hulle graag sou wou verander op hul groot dag.

Wat was jul troudatum en hoe oud was julle albei op dié dag?


Ons troue was gehou op die 14de April 2018. Rian was 27 en Marissa 26 jaar oud.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ek het April 2013 vanaf Pretoria terug na P.E getrek.  Rian en sy gesin het ‘n paar jaar vroeër in 2008 van Benoni na P.E getrek. Ons het ‘n paar dae na my aankoms in P.E op ‘n gesels platform, 2go, begin klets en sommer dadelik besluit om kort daarna te ontmoet.  Op ons eerste ontmoeting was ons see toe, ons het op die strand gestap en Rian wou dadelik hande vashou, ek (Marissa) hou nie van fisiese aanraking nie, so dit was vir my ‘n groot storie.

Op dieselfde dag het hy my na sy ouerhuis gevat om my aan sy ma voor te stel, dit was vir my ook “bietjie teveel te vinnig”. Maar ek is huistoe daardie middag en het ‘n anderste gevoel gehad wat ek nog nie kan beskryf nie. Hy was net anders, wanneer ek saam met hom was, was ek net anders, alles het anders gevoel.

Hoe het julle verloof geraak?


Rian het vir ons in die hartjie van Winter 2016 na Hogsback gevat vir ‘n naweek wegbreuk. Ons was besig met trek reëlings en het ‘n helse klomp goed gehad om te organiseer voor die groot trek Kaap toe. Ek het gewonder hoekom nou juis op vakansie gaan terwyl ons so besig is, so ek het vermoed hier is iets aan die gebeur. Rian het gereeld na werk by my ouers gaan kuier terwyl hy wag vir spitsverkeer om te bedaar, so dit was nooit vir my vreemd om te hoor hy is daar nie. Gedurende een van die vinnige kuiers het hy my Pa gevra of ons kan trou.

By Hogsback het ons die Saterdag oggend die Camelot Fairy Meander gaan besoek. Ek het agter gekom Rian is onrustig soos ‘n hen wat wil nes-skrop. Daarna is ons na die Arboretum watervalle, toe ons heelbo by die waterval kom het Rian gebuk en gemaak of hy iets uit die stroom optel, dit was my ring… Die res is Geskiedenis…

Hoe het julle jul ringe gekies?


Ons trouringe het ons by dieselfde juwelier laat maak wat destyds my (Marissa) se verloofring ontwerp het.  Hy is geleë in Port Elizabeth.  Ons het begin 2018 die pad P.E toe aangedurf en sou Jan, die juwelier, die middag sien om aan my trouring te beplan.  Met al die padwerke op pad het ons toe baie laat die middag eers gearriveer en ons afspraak gemis.  Ons het toe sommer oor die foon bespreek wat ek in gedagte het.  Ek het foto’s gestuur met idees, ek wou dieselfde styl as op die prentjies gehad het, maar ek wou ook verras word met iets anders as op die foto’s.

My ring is ‘n antieke styl wit goud met ‘n ovaal diamant, fillergree en klein diamantjies rondom.  Rian het ‘n wit goud band met ‘n olyfhout strook in die middel.

Wie was jul fotograaf en videograaf gewees?


Ons het nie ‘n videograaf gehad nie, maar wel gebruik gemaak van Breede photography vir foto’s.  Morné, die fotograaf, word hoogs aanbeveel in die area en het al menige kere by Bon Cap guestfarm and wedding venue troufoto’s geneem, dus het gevoel hy sal presies weet hoe ons die beste foto’s in en om die venue kon kry.  Ons bly ‘n paar ure van Robertson af, so daar was nie tyd vir ontmoet, vooraf fotosessies ensovoorts nie, maar Morné se werk is goed en die foto’s lyk pragtig.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Ons sou graag baie meer van die dag se elemente self wou behartig het.  Ons sou ook graag meer foto’s en ‘n groter verskeidenheid foto’s van ons as bruidspaar wou gehad het.

Hoe het julle die venue gekies?


Ek en Rian het net na ons verlowing in 2016 Kaap toe getrek en het dadelik daarna besluit dat ons graag op ‘n wynplaas wou trou.  Ons het vinnig besef die pryse in die Wes-Kaap is buitensporig duur teenoor die Oos -Kaap. Ons moes ‘n spelplan kry.  Begin 2017 het ons besluit om te begin kyk na venues wat naby ons geleë is.  Ons het begin soek in Durbanville, Brackenfell, Stellenbosch, Paarl, Suidelike Voorstede ensovoorts en het beplan om naweke al hoe verder en verder uit te ry na die wynlande toe, in Robertson se rigting.  Ons het een van die trou expo’s bygewoon in Durbanville en het Michelle daar ontmoet.  Die expo was chaos, maar Michelle en haar uitstalling het uitgestaan.  Daar was ‘n paar mense om ons wat ook belang gestel het, maar haar fokus was deurgaans op ons en haar passie vir troues was onmisbaar.  Die venue self het ‘n pragtige “Vat kamer” met baie karakter, die omliggende area is oop vlaktes met wingerde wat die ideale atmosfeer geskep het.

Wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ons wou graag gehad het die dekor moes ons alledaagse leefstyl weerspieël, simplisties en eenvoudig. Min detail en tierlantyntjies.  Bon Cap guestfarm and wedding venue se span het regtig die spyker op die kop geslaan; dit was glansryk en elegant, maar steeds eenvoudig.

Die troudag self was vir ons ‘n groot stap in ons lewenspad saam, alhoewel ons dinge eenvoudig wou gehou het, wou ons graag gehad het die gaste moes instap en dadelik voel hulle nou by ‘n troue is en woon ‘n baie spesiale geleentheid by.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Die mooiste deel vir ons albei was die seremonie in die Vat Kamer.  Om Marissa te sien afstap by die paadjie na die kansel en om haar vir die eerste keer in haar trourok te sien.  Ons albei was vol emosie en dit was ‘n groot verligting om te weet ons gaan nou uiteindelik trou, die beplanning is verby. Dan natuurlik die groot belofte wat ons aanmekaar gemaak het dat ons siele verewig saam sal dans.

Ons “na partytjie” was ook ‘n groot hoogtepunt,die feesvieringe het nie om middernag opgehou nie.  Ons het tot vroeë oggendure nog saam met van ons gaste partytjie gehou.           

    Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Beplan lank voor die tyd en moenie alles afjaag ‘n paar maande voor die groot dag nie.  Stel ‘n  begroting op en besluit hoeveel julle kan bekostig.  Neem ook verlof sodat julle rustig die week  voor die troue die laaste goedjies gedoen kan kry.  Moenie terug haas werk toe na die troue  nie, geniet eers ‘n blaaskans saam as getroude paartjie. En vir die bruide, maak jou toekomstige  man betrokke met al die besluite, moenie alleen beplan nie.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Die oorspronklik begroting was R60 000.  Troues is egter besonders duur!  Ons het nooit werklik gaan sit en besluit hoeveel ons vir elke element van die troue kan bekostig nie.  Ons het definitief nie by hierdie bedrag gehou nie en het meer by R100 000 gaan draai.  In ‘n ideale wêreld trou mens slegs eenkeer.  Ons wou dit graag ordentlik doen en nie eendag terug kyk en wens dat ons meer moeite gedoen het nie.  Ons was bevoorreg om groot finansiële hulp van Rian se ouers te ontvang.

Was julle met wittebrood gewees?


Die wittebrood was gevier op die plaasdorpie Tulbagh.  Rian het vir ons ingeboek vir ‘n paar  aande by die Bergsicht Plaas Kothuise.  Ek en Rian kon die pragtige plaas landskap elke aand waardeer, in die gemak van ‘n houtvuur verhitte swembadjie op die kothuis se stoep.  Die paar dae in Tylbagh is ten volle benut!  Ons was by ‘n vol-dag spa, in die plaas se boorde, wynplase en dorp besoek en die dorpie se erfenis verken.  Ons is ook natuurlik met heelwat wyn huistoe!

Diensverskaffers