Keegan en Melissa se dromerige troue was ’n pragtige viering van elegansie en tydlose styl. Natuurlike elemente en sagte besonderhede het ’n warm, intieme atmosfeer geskep. Die venue se indrukwekkende argitektuur, groot vensters en welige groenigheid het die perfekte agtergrond gebied.
Melissa het gestraal in haar droom trourok met ’n klassieke A-lyn-silhoeët. Die rok van fyn geplooide tule het pragtige blom- en blaartjie-kant bevat. Die detail het elegant oor die lyfie gevloei. Haar bandjielose halslyn is met romantiese, afneembare skouerstrikkies afgerond. Die vol romp het pragtig beweeg met elke tree.
Keegan het stylvol gelyk in ’n moderne olyfgroen driestukpak. Hy het dit met ’n das met ’n delikate blompatroon gekombineer.
Die troudekor het ’n sagte kleurskema van pastel geel, droomagtige pienk, roomwit, beige en vars groen gevolg. Die tafelversiering het soos ’n kunswerk gelyk. Los blommerangskikkings, sagte tafellopers en kerse in glaselemente het die tafels versier. Die kerse het ’n warm gloed oor die nageregtafel en eet area gewerp.
Die unieke trou-idees het ’n romantiese atmosfeer geskep. Dit sal nog lank as inspirasie vir toekomstige bruide en bruidegomme dien.
Ons nooi julle ook uit om Mooi Troues se aanlyn trougids te besoek. Ontdek van Suid-Afrika se talentvolste troudiensverskaffers en kry inspirasie vir julle eie spesiale dag.

Trourok:
Ek het nog altyd gedroom van ’n sagte, A-lyn-trourok waarin ek kon voel soos ’n prinses uit ’n sprokiesverhaal.
My rok is gemaak van fyn, geplooide tule met die mooiste blom- en blaartjie-kant detail wat sag oor die bodice vloei. Die strapless halslyn met die ekstra, aanknip afskouermoutjies het dit ekstra romanties en vroulik gemaak. Die vol romp het so mooi beweeg met elke tree.

Paartjie se Verlowing:
Ons het op 25 Mei 2024 verloof geraak, na vyf en ’n half jaar saam, presies op die regte tyd. My man, toe nog my kêrel, het my verras met ’n rustige, ontspanne naweek by Magalies Park.
Daardie Saterdag kon ek aanvoel dat iets anders was, want hy was so effens meer senuweeagtig as gewoonlik. Ek het ’n gevoel gehad dat dit dalk sou gebeur, maar wou nie te opgewonde raak nie. Hy het ’n pragtige piekniek gereël bo-op die berg by die 18de putjie van die gholfbaan, met ’n ongelooflike mooi uitsig oor die berge, lekker eetgoedjies en die mooiste bos blomme.
In daardie stil, perfekte oomblik het hy op sy knieë gegaan en die vraag gevra wat my hart nog altyd voor gewag het. Dit was ’n besonderse, intieme oomblik, een wat ek vir altyd sal koester. Die skoenlappers en die oorweldigende vreugde van daardie oomblik sal ek altyd onthou! 🥹


Verloof- en Trouringe:
My verloof- en – trouring is vervaardig uit witgoud, met delikate blaartjie-detail wat sag om die diamant vou en ’n eteriese, natuurlike elegansie skep. Die ontwerp is fyn en vroulik, met ’n tydlose gevoel.
Vandat ek ’n klein dogtertjie was, het ek nog altyd gedroom van ’n unieke ring met blaartjies, romanties en tydloos.
My man het elke detail so perfek laat maak, presies soos ek nog altyd daarvan gedroom het… en selfs nóg mooier!

Trou Dekor en Styl:
Ons kleurskema was sag en romanties, met sagte pienk, roomwit, beige, pastel geel en ’n bietjie sagte groen wat alles mooi saamgebind het. Ek wou hê dit moet lig, vars en amper “dromerig” voel, niks te oorweldigend nie, net die perfekte balans van mooi en tydloos.
Die dekor was baie natuurlik en elegant, met los, blommerangskikkings, sagte materiaal op die tafels en kerse wat so ’n warm, intieme atmosfeer geskep het. Ek was mal oor hoe die sagte pienk en roomkleur saam met die glas elemente gewerk het en die lig van die kerse daarin weerkaats het. Dit het alles sag en baie romanties laat voel.
Ons venue self het ook soveel karakter gehad, met die groot vensters, groen bome en die ongelooflike mooi kapel, so ons het probeer om dit eerder aan te vul as om dit te oorlaai.
Met alles saam het dit net presies gevoel soos ons, eenvoudig, elegant en vol liefde, met ’n sagte sprokiesagtige gevoel deur die hele dag.

Trou Begroting en Beplanning:
Die egpaar het ’n intieme troue vir 100 gaste beplan en het dit oor ’n tydperk van agt maande heeltemal self gereël.

- Fotograaf: Nicolene Meyer Photography | Kontak
- Venue: Lace On Timber | Kontak
- Blomme: Pebble & Lace | Kontak
- Bruidegom-pak: Mario Casas | Kontak
- Dekor: Pebble & Lace | Kontak
- Gaste Geskenke: Oh My Fudge That’s Good | Kontak
- Grimering: Hair & Make-up by Liesl | Kontak
- Hare: Hair & Make-up by Liesl | Kontak
- Huwelik kontrak: Matthys Coetzee Attorneys | Kontak
- Huweliksbevestiger: Ds. Fred Wilson
- Musiek: Event Vision | Kontak
- Platejoggie: Event Vision | Kontak
- Strooijonkers se Dasse: Esta Thomas
- Skryfbehoeftes: Melissa Koegelenberg
- Strooimeisie-rokke: Esta Thomas
- Trourok: Jolache Couture | Kontak
- Bruid se Trouring: Pearl And Diamond Studio | Kontak
- Bruidegom se Trouring: Pearl And Diamond Studio | Kontak
- Troukoek: Miss Cake | Kontak
- Videograaf: Motion Craft Films | Kontak
- Wittebrood Bestemming: Suid-Afrika – Stellenbosch
- Wittebrood Plek: Protea Hotel Stellenbosch

