Steven & Elizna se feetjie-woud Verlowing Fotosessie

Steven en Elizna beskryf hul verhouding soos ʼn jong somers-liefde wat net nooit ophou nie!  Hulle het albei sprankelende persoonlikhede wat duidelik in hul Feetjie-woud verlowing fotosessie gesien kan word.  Die omgewing wat hul gekies het vir die fotosessie is gevul met digte groenigheid en pragtige blomme –  nes ʼn feetjie-woud.  Steven én Elizna se styl het die tema mooi aangevul en gesorg vir prentjiemooi foto’s.  Die paartjie is trots op hoe mooi en vars hul liefde vir mekaar is, en met dié pragtige fotosessie, sal hul hierdie gelukkige tyd in hul lewens vir altyd kan koester.

Rol af vir ʼn feetjie-woud verlowing fotosessie, perfek vir ʼn sprankelende en unieke paartjie!

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het op ʼn vreemde manier ontmoet – ʼn ontmoeting wat ons bewys het dat as twee mense bedoel is om bymekaar te wees, hulle paaie sal kruis maak nie saak wat nie.  Ek en Steven het mekaar op Tinder raakgesien.  Nie lank daarna nie, nooi ʼn vriendin my na ʼn braai waarna Steven ook toe genooi was.  By die braaivleis vuur het hy by my kom staan en gesels;  Van daar af het ons net gekliek!  Ons het mekaar ʼn paar keer weer gesien, saam uitgegaan en ʼn jaar en half later het ons verloof geraak.

Die groot vraag:


Ons het op vakansie gegaan na Mazeppa Bay en Chinsta in die wilde kus.  Elke oggend het ons half 5 opgestaan om koffie op die stoep te drink en saam die sonsopkoms te kyk.  Die tweede oggend met sonsopkoms het hy ʼn skulpie ring-boksie uitgehaal en op een knie gegaan.  Ek moes hom eers stop om ʼn foto te neem, want dit was net ons twee alleen!

Ons het oor ʼn moontlike verlowing gepraat en die juwelier gaan sien, maar ek het net vir hom my ring ontwerp gegee en gesê die bal is nou in sy hande.  Voor ons op vakansie gegaan het, het my ma net vir my gesê: “my kind doen jou naels.”  Ek het toe geweet hy het my ouers gaan vra.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Ons het mekaar lief want ons kan saam laf wees.  Ons is albei nog kinders in ons harte;  Dis soos ʼn jong somers-liefde wat net nooit ophou nie!

Elizna:

Behalwe vir sy oseaan blou oë en sy aantreklikheid, is hy saggeaard maar tog sterk.  Hy behandel my soos ʼn koningin en sê nooit nee as ek vra vir hulp nie.  Hy kyk na my met soveel liefde.  Steven is nederig en verbeel homself nie hys beter as ander nie.

Steven:

Ek is mal oor hoe ʼn sterk vrou sy is.  Elizna is selfstandig en nooit bang vir harde werk nie.  Sy het ʼn sagte hart, sy gee om en is altyd bedagsaam en vrygewig teenoor ander mense.  Sy is plat op die aarde.

Die verloofring:


Die verloofring het ek self ontwerp en bymekaar gesit.  Ons het saam op ʼn juwelier besluit waarvan ons baie hou – Heathorns.  Hulle is baie tegemoetkomend en hulle werk is uitstekend;  Veral met verstellings na die tyd.  Die ring het 3 dele, waarvan twee nog bykom met die troue.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons het nog nooit professionele foto’s van ons laat neem nie en dis iets spesiaal wat ons graag vir onsself wou hê.  Dis iets om na terug te kyk as ons eendag oud is.  Dit is ook ʼn herinnering van hoe mooi en vars ons liefde vir mekaar is.  Ons sal dit dalk vir die troue gebruik, maar definitief in ons huis eendag gebruik.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons hou albei baie van die natuur en om buite te wees.  Die venue was die perfekte plek, omdat dit so mooi groen is en lyk soos ʼn feetjie-woud met al die bome en pragtige blomme.

Visie vir droomtroue:


Ons will ʼn klein troue hê met net ons naaste vriende en familie.  ʼn Troue waar liefde volgens die Bybel die fokuspunt is.  Ons estetiese visie vir die troue is sprokiesagtige natuur, gevul met blomme, asook baie skitter en glansryke elemente.

Klik hier vir diensverskaffers