Alhoewel alle reëlings reeds getref was vir Lourence en Carlo-Mari se woud-geïnspireerde troue op 2 Mei 2020, het hul slegs 4 weke gehad om hul spesiale stoep troue op hul plaas net buite Bredasdorp te reël. Die paartjie gee beslis nuwe betekenis aan die gesegde ‘die beste van ‘n slegte saak maak.’ Met 17 Oktober wat stadig maar seker naderkom, het Lourence en Carlo-Mari besluit om hierdie taak ten volle aan te pak. Hulle het idees vanaf Mooi Troues se webblad gekry, die beste troue-beplanner in hul area gekontak en op ‘n nuwe tema vir hul groot dag besluit. Dié paartjie het elke aspek van hul groot dag vereenvoudig om by hul spesifieke styl en persoonlikhede te pas. Lourence en Carlo-Mari het pragtige meubels, ‘n kroeg, ‘n dansbaan, ‘n platejoggie én heerlike kos stalletjies alles op hul voorstoep ingepas!
Lourence en Carlo-Mari se spesiale stoep-troue was ‘n opregte feesviering van hul liefde vir mekaar en vir die spesiale mense in hul lewens. Rol af om meer oor dié troue uit te vind.
Inspirasie van Mooi Troues gekry
Mooi Troues se fotos/webblad is definitief ʼn hoof bron van idees wanneer ons beplan het.
Paartjie se Liefdesreis:
Ons het in 2013 in Darling ontmoet en was vir lank net goeie vriende. Dinge het einde 2014 ontwikkel in iets meer as net vriendskap. In 2015 word Lourence verplaas na Bredasdorp en sedertdien het ons ʼn lang afstand verhouding moeiteloos gedoen. Na amper 5 jaar se duisende kilometers op die pad en Sondae middae groet het Lourence besluit om die groot vraag te vra.
Lourence het die verlowing gereël toe ek in die Visrivier gaan stap het sonder opvangs. Met die aankoms by my ouer-huis, roep my pa my na buite. Liggies hang en daar is musiek in die agtergrond – ek dink nogal watter partytjie is hier aan die gang! Toe ek om die draai stap het Lourence op sy knie met die mooiste ring gestaan – aan ʼn hoender se poot! Lang storie kort, Lourence het ʼn hoender boerdery as ʼn stokperdjie. Op ʼn dag het hy vir my gesê ek moet nie net verby die hoenders loop nie, ek moet mooi kyk – dalk blink daar iets aan een van hul se pote. My antwoord op dit was, wie vra nou vir sy meisie om te trou met ʼn ring aan ʼn hoender se poot! Toe is ek nou die gelukkige meisie wat met hoender en al gevra word om te trou!
Dit was ʼn baie groot oomblik veral omdat ek dit glad nie verwag het nie! Wat dit ook ekstra spesiaal maak, is toe albei ons huisgesinne en naby vriende na die ja-woord uitkom en almal kon deel in die verlowing.
Die Verlowing Tydperk:
Ons het Augustus 2019 verloof geraak en sou 2 Mei 2020 trou. Alles was basies klaar gereël teen Maart, maar toe tref KOVID-19 ons. Met die inperking en onsekerhede het ons besluit om die troue vir eers af te stel. Ek het nie kans gesien om alles te skuif na ʼn datum waaroor ons nie seker is nie, en intussen moet al 240 gaste heeltyd in kennis gestel word.
Al het ons vrede gemaak met die afstel, bly dit maar in jou agterkop – wanneer gaan dit ons beurt wees. 15 September praat die President. Terwyl die president op 15 September besig is om die land aan te spreek, maak ek solank planne met my diensverskaffers indien Vlak 1 aangekondig word. 17 Oktober is die enigste datum wat alle verskaffers wat ons reeds betaal het, beskikbaar het.
Met minder as 4 weke oor begin ons die bal aan die rol sit. Daar was te min tyd om ʼn beskikbare venue te kry, toe besluit ons ons trou sommer op ons voorstoep! Ons het vir Niki en Antonie van Antoinette Events op Bredasdorp gaan sien. Hulle het dadelik ons idee verstaan en saam planne en voorstelle gemaak.
Finansiële Aspekte:
Ons begroting was maar knap omdat ons self moes betaal vir alles. Mens probeer orals sny, maar dinge het ʼn manier om te eskaleer en as jy weer sien is jy ver oor jou begroting!
Ons begroting was so R100 000 en ons het gaan draai by R150 000 met 150 gaste. Hierdie begroting sluit in elke liewe sent wat spandeer was op die troue; Kos, dekor, dominee, trou-klere, hare, grimering, gevolg se brandstof ens.
Antoinette Events het vir ons ‘n lys met foto’s en pryse van alles gegee. So ons het ‘n redelike prentjie gekry van hoe dit visueel en begroting gewys bymekaar gaan kom. Dit is ook net soveel meer gemaklik dat hul die dekor én kos behartig. Ons het dus net met een persoon gekommunikeer en sy reël alles dan verder.
Die enigste raad wat ek het indien jou begroting klein is, pasop vir tierlantyntjies. Hou by die basiese; As jy gaan terugkyk na jou troudag is dit kos, musiek en atmosfeer wat jy gaan onthou. Mens dink jy spaar geld om dinge self te probeer doen, maar in alle eerlikheid doen jy nie regtig nie. Jy plaas onnodige stres op jouself – en dit gedurende ʼn tyd wat jy eintlik moet geniet.
Merkwaardigste Oomblikke:
Die merkwaardigste oomblik was by die kerk se deure. Dit is ongelooflik! Dit is groter as wat mens in woorde kan beskryf. Ek sal dit beslis vir altyd in my hart bewaar.
Dominee Braam het ʼn baie kosbare boodskap vir ons gehad. Ons seremonie was emosioneel en opreg. Die liefde vir mekaar en vir ons naastes was ʼn gevoel wat tasbaar teenwoordig was.
Na alle onsekerhede met KOVID-19 gedurende die jaar, was dit baie spesiaal om die aand van die troue terug te staan en te sien hoe alles en almal bymekaar gekom het om ons huwelik te kom vier.
Paartjie se styl:
Ons styl was so tydloos, moeiteloos en plein as moontlik! Swart pak vir bruidegom, swart broek en wit hemp vir strooijonkers. Die strooimeisies het ook swart rokke gedra. Alle blomme was wit orgidee met verskillende soorte groenigheid daarby.
Didi Couture het vir my ʼn plein, maar tydlose rok gemaak; A-lyn, 1 soort materiaal en spierwit. Ek hou van swart en wit en vir my was dit is net makliker om nie ʼn kleur te koppel nie.
Die Besluitnemingsproses:
Ek en Lourence het goed saam gewerk. Ek het meeste van die kommunikasie met verskaffers gedoen, maar alle besluit het ek en Lourence saam geneem.
Familie se opinies was welkom, maar van die begin af het almal verstaan dat dit ons troue is so ons kry die finale sê. Gelukkig vir ons was daar nie konflik nie. Familie het hul afstand gehou het en ons besluite respekteer.
Gunsteling Diensverskaffers:
Ons gunsteling diensverskaffer is beslis Antoinette Events van Bredasdorp. Hierdie mense se diens het gemaak dat ons ʼn ongelooflike dag gehad het.
Vermaak:
DJ Carl Louw was ons vermaak. Ons het in Bredasdorp getrou, maar Carl het al die pad van Vredendal af gekom om te kom musiek maak – dit is amper 600km! Carl is bekostigbaar en is bereid om tot laat-aand musiek te maak.
Spesiale Tradisies:
Lourence se familie kom uit die Karoo, Williston. Daar dans hulle die riel-dans. Lourence, sy ouma, ouers en sussies het saam met mekaar ʼn riel-dans op een van die liedjies gedoen; Dit was ʼn baie kosbare oomblik.
Venue & Dekor:
Op daardie stadium van die beplanning, was ons al oor die woord troue tema. Ons wou net die huwelik vier saam met familie en nabye vriende. In plaas van gedekte tafels het ons ‘n feesviering tema gevolg en gaste kon orals beweeg. Daar was 3 verskillende kos stalletjies waarvan gaste gedurende die aand kon gaan kry soos hul wou. Vir nagereg was daar ʼn Barista stalletjie met troukoek en ekstra soetighede wat gaste ook kon gaan haal soos hul wil.
Die buitelig atmosfeer was reeds so mooi, daarom het ons nie baie blomme gedoen nie. Daar was ʼn paar aalwyne uit die tuin en die res was wit orgidee wat ons by Darling Orchids gekry het.
Antoinette Events het die Vrydag opgedaag met 3 trokke en alles het net gebeur! Ons het nie eenkeer gehoor dat daar ‘n probleem is nie. Die dag van die troue was ongelooflik – hulle dink aan elke liewe detail. Hulle het ons kombuis gebruik vir die voorbereiding van die kos; een-uur die aand van die troue toe ek daar instap, was alles silwerskoon. Maandag na die troue het die trokke weer gekom en teen twaalfuur was ons huis en voorstoep skoon. Hierdie mense se diens is puik en bekostigbaar; inteendeel dink ek hul diens is veel meer werd as waarvoor jy betaal!
Ons sou nie binne 3 weke ʼn troue op ons huis se voorstoep kon reël as dit nie vir die verskaffers was wat almal 100% aan boord was nie. Elkeen het uit hul pad gegaan om hierdie dag te laat gebeur. Die ekstra mooi van hierdie troue was dat dit by ons huis was. Jacki het dit reggekry om in elke foto ʼn storie/betekenis vas te vang.
Die natuur rondom ons huis op die plaas was die grootste deel van ons dekor.
Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:
Elke paartjie is anders, so mens kan seker nie regtig raad gee nie. Wat ek wel kan sê is: Werk en verpligtinge gaan aan en tussendeur is dit belangrik om steeds tyd te maak vir mekaar en vir troue beplanning.
Die dag is julle dag! Mense kan hul opinies lewer, maar dit is julle dag en julle kan besluit wat julle wil doen. Indien iemand moeilik is oor ʼn opinie – gooi net ʼn dowe oor!
KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:
KOVID-19 het ʼn groot effek op ons troudag gehad. Ons moes kanselleer, maar ons verskaffers van die troue wat 2 Mei sou plaasvind, het gelukkig al ons geld terug betaal.
As ek nou terugdink is ek bly die 2de Mei het nie uitgewerk nie. Ons troue 17 Oktober was iets heeltemal anders as wat ons oorspronklik beplan het. Dit sê soveel meer oor ons as ‘n paartjie. Omdat dit by ons huis was en alles net so maklik gebeur het, was dit ʼn dag wat ons vir altyd sal koester.
Eerste Dans:
Ek en Lourence dans graag, so ons het darm geen danslesse nodig gehad nie. Die openings dans was op ons gunsteling liedjie – Bruce Springsteen se Tougher than the Rest.
Klik hier vir meer diensverskaffers
Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.
Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.
Artikel Diensverskaffers:
- Fotograaf: Jacki White
- Venue: Ons Huis wat ons huur op ʼn plaas buite Bredasdorp
- Blomme: Darling Orgidee
- Bruidegom-pak: Mr Suit Hire
- Dekor: Antoinette Weddings & Events
- Gaste Geskenke: Konfyt potjie per gas – Ons oumas het konfyt gekook en gebottel.
- Grimering: Studio Michelle [Bruid] + Polished [gevolg]
- Hare: Hair by Annelie
- Huwelik kontrak: Swanepoel & Swanepoel Prokureurs
- Huurdienste: Antoinette Weddings & Events
- Huweliksbevestiger: Ds Braam – Bredasdorp NG Kerk
- Juweliersware: Oorbelle van bruid en gevolg – Lovisa
- Koördineerder: Antoinette Weddings & Events
- Musiek: DJ Carl Louw
- Paartjie se verblyf: Ons Huis
- Strooijonkers bykomstighede: Leër Dasse handgemaak – Elize de Kock
- Strooimeisie-rokke: Hoiden
- Tente: Antoinette Weddings & Events
- Trourok: Didi Couture
- Troukoek: Table Cafe, Bredasdorp