Steven & Claire se veld & fynbos bruilofsfees

Steven en Claire se veld en fynbos bruilofsfees is ‘n pragtige interpretasie van ‘n tipiese Noord-Kaap-geïnspireerde troue.  Die Noord-Kaapse natuurskoon word elegant en modern in al die dekor elemente, asook die paartjie se foto’s uitgebeeld.  Die rustieke gevoel van die venue het ook bygedra tot die prentjie as geheel.  Dit is nie die maklikste taak om veld en fynbos elegant en modern te laat lyk nie!  Steven en Claire het egter daarin geslaag en bied wenke en raad vir ons lesers.

Rol af en geniet die Noord-Kaapse trou inspirasie.

wedding dress wedding dress

Julle troudatum en Ouderdom van paartjie op troudag?


Ons het op 16 Maart 2019 getrou.  Ek (Claire) was 24 en Steven was 27 jaar oud.

wedding dress wedding dress bride and bridemaids dresses bride and bridemaids dresses

Hoe het julle mekaar ontmoet en wie het wie gevra om te trou?


Ons het in Kimberley by ‘n plaaslike kroeg, The Halfway House, ontmoet.  Dit was dié plek om te wees op ‘n Vrydagaand!  ‘n Vriend van my het ‘n vriend van Steven geken en so het ons vriendekringe ontmoet.  Van daar af het ons liefde geblom!  Ses jaar later het Steven my in Bloubergstrand, Kaapstad gevra om te trou.

grooms fashion grooms fashion grooms fashion grooms fashion grooms fashion

Vertel ons meer van jul ringe.


Steven het ‘n swart trouring gekies.  Hy voel ‘n swart ring is uniek en sal uitstaan teen die res.  Dit simboliseer ook dat ons huwelik sterk is en dat hy trots is om getroud te wees.

My trouring is witgoud met diamante en my verloofring is ‘n vierkantige solitêre snit.  Dit is baie eenvoudig en sag – wat my persoonlikheid perfek beskryf.

bride walking down the aisle

Vertel ons meer oor hoekom die bruid haar spesifieke trourok gekies het?


Ek het ‘n prentjie in my kop gehad van watter tipe rok ek graag wil hê.  Maar ek was steeds oop vir ander opsies.  Ek het ‘n afspraak by Cindy Bam vir raad en leiding gemaak.  Cindy het met die eerste oogopslag ‘n visie vir my trourok gekry.  Tot my verbasing was dit presies wat ek ook ingedagte gehad het!  Ek was toe gerus gestel dat ek die regte keuse maak.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag en wat sou julle verander indien moontlik?


Die onvergeetlikste oomblik was om in die kapel by die paadjie af te stap.  Dit was baie spesiaal om te sien hoe my aantreklike man vir my staan en wag terwyl hy van oor tot oor glimlag.

As daar iets is wat ek kan verander sou ek bietjie stadiger in daardie paadjie afstap.  Ek sou graag na my hele gesin wou kyk en werklik die oomblik inneem.  Alles gebeur so vinnig, jy besef nie eers wat alles rondom jou gebeur nie!

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Ek het die afgelope 6 jaar in die Kaap gewoon, maar kom oorspronklik van Kimberley.  Ons het besluit om in my tuisdorp te trou.  Daar was geen twyfel oor wie die fotograaf sou wees nie!  In die hoop dat sy beskikbaar sal wees, het ek vir Steven gesê ek soek vir Christine en niémand anders nie.  Christine se werk is absoluut asemrowend!

Ons het besluit om nie ‘n videograaf te hê nie.  Die herinneringe wat saam met die foto’s kom sal ons vir altyd koester.

Vertel ons meer van jul Wittebrood.


Vir ons wittebrood het ons vir 2 weke na Amsterdam in Nederland gegaan.  Europa was ‘n wonderlike plek om te besoek!  Dit is soveel anders as Suid-Afrika en dit was ‘n wonderlike ervaring om te sien hoe mense se wêrelde verskil.  Ons was geïnspireer deur die argitektuur, kuns en kultuur van hierdie stad.  Dit was ‘n onvergeetlike ervaring om as man en vrou te kon reis.  Ek en Steven kan nie wag om meer plekke te verken nie!

Hoe het julle die venue gekies en wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ons wou die tipiese Noord-Kaapse gevoel hê.  Daar was geen beter manier om dit te doen as in die veld met die pragtige sonsondergang nie.  Bella Cardi was die ongelooflikste  venue.  Vanaf die kapel op die veld en sonsondergang, tot die pragtige saal met die rustieke gevoel het al ons wildste drome oortref.

Ons wou die prentjie van ‘n elegante veld en fynbos bruilofsfees skep.  Die inspirasie vir dekor was die rustieke gevoel van die Noord-Kaap, tesame met kleure van die fynbos en veld.  Ons wou egter ook bietjie kleur inbring.  Proteas is my gunsteling blom en was die  inspirasie om ligte pienk by die dekor te inkorporeer.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou? Hoeveel gaste het julle onthaal?


Die begroting was R130 000, insluitend ons wittebrood.  Dit was baie moeilik om by ons begroting te hou.  Daar kom konstant nuwe trou modes uit!  Mens wil so graag alles doen, maar jy kan nie.  Ons het besluit klem te lê op die dinge waarvan óns die meeste hou en waarvan ons gaste ook sal hou.

Op die dag het ons 85 gaste onthaal.

Vertel ons meer oor jul eerste dans.


If I Ever Saw Heaven’ van Roan Ash, ‘n Suid-Afrikaanse sanger, was ons eerste dans liedjie.  Ons wou graag ‘n moderne gevoel by ons troue skep, dus het ons ook ‘n moderne liedjie gekies.  Dit is vir ons ‘n pragtige liedjie.  Ons het ‘n paar danslesse gehad om ‘n idee te kry van watter tipe dans by die liedjie sal pas.   Nadat ons die basiese stappe onder die knie gehad het, het ons ons eie kort dansie gechoreografeer.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Vir die dames: My raad aan toekomstige bruide is om te alle tye kalm te wees.  Wees voorbereid op enigiets wat kan gebeur, want daar is ‘n groot moontlikheid dat iets op die dag verkeerd kan gaan.  Al die beplanning is só stresvol en uitputtend; Dus moet jy sorg dat jy altyd lekker rus.   Jy wil nie ‘n laagtepunt bereik en siek wees op jou groot dag nie!  Daar is geen nut daarin om ‘Bridezilla’ te wees nie.  Sodra jou dag verby is, is die herinneringe en foto’s al wat jy oorhet.  Neem elke oomblik in en geniet dit ten volle.  Dit is werklik een van die beste dae van jou lewe.

Vir die manne:  My beste raad is om jou vrou so kalm moontlik te probeer hou.  Help haar met die klein besluite oor kleure, blomme, ens.  Dit beteken miskien nie veel vir jou nie, maar sy sal dit baie waardeer.  Sy wil jou opinie hê oor hierdie dinge; So neem hierdie klein besluite net so ernstig op soos sy.  Geniet elke oomblik van die dag, die tyd gaan regtig vinnig verby!

naked wedding cake naked wedding cake naked wedding cake

Diensverskaffers