Dehan & Bianca se vreugdevolle verlowing fotosessie

Dehan en Bianca se visie vir hul toekoms is om altyd vriendelik te wees en kinderlike liefde teenoor mekaar te wys.  Dit kom egter baie natuurlik vir dié twee verliefdes!  Hul spelerige verhouding kan duidelik gesien word in hul vreugdevolle verlowing fotosessie.  Nie Dehan óf Bianca kon in een van die foto’s die opregte glimlagte van hul gesigte afvee nie.  Die paartjie skaterlag, giggel en flankeer met mekaar sonder dat die kamera-lens hul vir ‘n oomblik intimideer!  Dehan en Bianca het ook ‘n venue gekies wat vir hulle sentimentele waarde het en bydra tot die unieke aard van hul verlowing fotosessie.  Alhoewel hierdie verlowing fotosessie sonder fieterjasies is, het die foto’s prentjiemooi uitgekom omdat Dehan en Bianca die basiese drie dinge onder die knie het: ‘n spesiale omgewing vir die verlowing fotosessie, ‘n fotograaf wat hulle gemaklik laat voel en opregte liefde wat bo alles uitstaan.

Rol af om meer oor Dehan en Bianca se vreugdevolle verlowing fotosessie uit te vind.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Bianca: Ons het mekaar vir die eerste keer gesien by kinderkerk in 2000 toe ons vyf jaar oud was.  Ek het gedink hy sing baie hard en lelik;  Op daardie ouderdom, was seuns maar vreemd!  In 2018 het ons mekaar by kerk-orkes oefening ontmoet.  Hy het baie arrogant en egosentries voorgekom.

Dehan: Sy was bietjie kwaai en teruggetrokke – ek het niks van haar gehou nie.  Maar soos wat tyd verloop het, het hierdie misterieuse meisie my begin interesseer.

Ons was vir ses maande in ‘n verhouding voor ons verloof geraak het.

Die groot vraag:


Ek (Dehan) en Bianca is baie avontuurlustig en hou van die buitelewe.  Sondag, 12 Januarie 2020 het ons gaan stap by Sewe Damme – ‘n natuurreservaat in Bloemfontein.  Ek het vir haar ‘n opgevoude briefie gegee, wat ons elke week vir mekaar skryf, maar sy het hom nie oopgemaak nie.  Ek wou haar geneem het tot by die boom waar ek haar voete die eerste keer gewas het, maar as gevolg van al die reën, het dit oorspoel.  Ons het toe sommer by die dam gaan sit en piekniek hou.  Na ons Bybelstudie, het ek gevra dat sy die briefie moet lees.  In die briefie was geskryf: “Will you marry me?”  Toe sy opkyk was ek op een knie.  Sy het dit glad nie verwag nie!

Ons families het geweet ons wil trou, maar niemand het geweet wanneer ek haar gaan vra nie.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Bianca se liefde vir God en haar familie.  Haar toegewydheid in alles wat sy doen.

Dehan se liefde vir Jesus en mense.  Sy deursettingsvermoë en wilskrag om enige iets aan te pak in geloof.

Die verloofring:


Ek (Bianca) het vir Dehan gewys van watter ring ek hou.  Hy het toe die spesifieke ring wat ek vir hom gewys het gaan koop.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons hou daarvan om spesiale geleenthede vas te vang.

Dehan hou van fotosessies en ek (Bianca) wou graag spesiale foto’s vir ons huis gehad het.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons wou graag ons verlowings foto’s buite in die natuur geneem het.  Die venue, Villa Avianto, wat beteken “House of the Heavens”, was die perfekte plek.  Ons het ons foto’s daar geneem omdat dit sentimentele waarde het.  Ons fotograwe spot ons altyd en sê ons lag te veel; Dit is presies hoe ons wil wees in ons huwelik saam.  Om altyd vriendelik te wees  en kinderlike liefde teenoor mekaar te wys.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons was albei baie opgewonde oor die nuwe avontuur en tydperk en het alles saam beplan.  Ons is albei ingestel op detail en wil altyd weet wat aangaan, so ons het dus uitdagings gehad ten opsigte van wie wat moet reël.

KOVID 19 se uitwerking op jul trou reëlings:


As gevolg van KOVID-19, moes ons sny op ons gastelys, asook die familie wat in ander lande woon.

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

[endsection]