Zandré & Hannelie se Romantiese Tuin Verlowing in die Vrystaat

Zandré en Hannelie se liefdesverhaal het ’n nuwe en baie spesiale hoofstuk begin. Hul intieme verlowing was vol mooi verrassings en baie spesiale oomblikke. Wat Hannelie gedink het ’n gewone bring-en-braai langs die rivier sou wees, het toe in ’n romantiese huweliksaansoek verander. Onder ’n bruggie het bordjies in die gras die groot vraag gevra: “Sal jy met my trou?” Om die oomblik nog meer spesiaal te maak, het hul families nader gekom om die vreugde saam te vier. Daarna het ’n verrassingspartytjie met hul naaste vriende gevolg.

Hannelie het van die begin af geweet wat sy soek vir haar droom ring. Nadat die paartjie verskeie style saam probeer het, het ’n unieke snit dadelik hul harte gewen. Nou dra sy die pragtige ring met trots aan haar hand. Met hul trouplanne wat reeds begin het, het hulle ook begin werk aan hul trou uitnodiging webwerf. Hulle het besluit om ’n verlowingsfotosessie te doen. Dit was die perfekte kans om hul liefde vas te vang. Dit was ook ’n goeie oefenlopie voor die groot dag.

Al het die weer daardie oggend moeilik gelyk, het die fotosessie baie goed uitgewerk. Swaar reën het die dag bedreig. Die venue se mooi geboue het egter ’n asemrowende agtergrond geskep. Die sagte, natuurlike lig net voor die volgende bui het die gevoel nog mooier gemaak. Kreatiewe fotografie het die paartjie se ware band mooi vasgevang. Hulle het stylvol, maar gemaklik, deur die tuin gestap.

Besoek gerus Mooi Troues se Aanlyn Trougids. Daar kan julle talentvolle diensverskaffers vind wat graag sal help. Hulle kan ook inspirasie en idees vir jul eie tuin verlowing fotosessie gee.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons is Hoërskool liefdes wat deur ʼn onderwyser aan mekaar voorgestel is. Ek (Hannelie) was in Gr. 9 en Zandrê Gr. 11. Ons is dus vanaf 2016 al ʼn paartjie, mekaar se beste maatjies. Ons was teen ons verlowing (21 November 2025) reeds 9 jaar al saam. So dis hoogtyd.

Die groot vraag:


Ons verlowing was beslis lankal op die kaarte, maar ons glo die Here het dit op die perfekte tyd op Zandré se hart geplaas. Ons het al baie oor die huwelik gesels, so die verlowing was nie heeltemal onverwags nie, maar die manier waarop hy dit gedoen het was steeds ’n groot verrassing.

Klein leidrade

As ek terugdink, was daar ’n paar klein leidrade voor die tyd – soos Zandré wat skielik belangstel in wie my naels doen en wat my planne vir ’n spesifieke naweek is. Op die dag self was ek egter só besig by die werk dat ek skaars tyd gehad het om daaroor te dink. Teen die tyd wat ek by die huis gekom het, was ek moeg, besig met laaste werksveranderinge en heeltemal onbewus van wat op my wag. Ek het selfs my “mooi” klere verruil vir iets meer gemaklik, my hare in ’n knip opgesit en oogdruppels ingegooi voordat ons vertrek het!

Ons was op pad na wat ek gedink het ’n gewone bring-en-braai langs die rivier sou wees. Toe ek sien familie is daar en alles lyk heel normaal, het ek heeltemal ontspan. Later het Zandré my gevra om hom te help soek na iets wat hy glo verloor het. Ons het weggestap, hy het my geblinddoek en my na ’n pragtige bruggie onder die bome langs die rivier gelei. Toe die blinddoek afkom, het ek bordjies in die gras gesien wat spel: “Sal jy met my trou?”

Hy het my toe gevra om met hom te trou, terwyl my ouers, wat al die tyd naby weggekruip het, ook te voorskyn gekom het. Ná die groot oomblik het ons terug gestap na ’n ander braai-area waar al ons naaste familie en vriende vir ons gewag het by ’n verrassingspartytjie.

Wat die dag vir my so besonders gemaak het, was nie net die mooi opstelling of die verrassing nie, maar die ongelooflike moeite wat Zandré en albei ons families gedoen het om iets só persoonlik en spesiaal vir ons te skep. Dit is ’n dag wat ek vir altyd sal onthou.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Hannelie se gunsteling eienskap van Zandré:

My gunsteling eienskappe van Zandré is sy vriendelike hart en sy sagte geaardheid. Hy gee opreg om vir die mense rondom hom en is altyd bereid om te help waar hy kan. Hy het ook ’n ongelooflike sin vir humor. Ek kan altyd lekker saam met hom lag, maak nie saak wat aangaan nie. Hy laat mense gemaklik voel, is opreg, liefdevol en gee regtig om vir die mense wat vir hom belangrik is.

Zandré se gunsteling eienskap van Hannelie:

My gunsteling eienskap van Hannelie is haar bereidwilligheid om my altyd te help en by te staan. Sy is ongelooflik ondersteunend en gee só baie om. Sy staan ook altyd gereed wanneer ek haar nodig het. Ek bewonder haar goeie hart en die manier waarop sy vir ander omgee. En natuurlik is haar mooi blou oë ook beslis ʼn bonus!

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Glad nie lank nie, ons troudag is reeds geskeduleer vir die 14de November 2026, by Green Leaves Country Estate in Harties.

Die verloofring:


Ek was nogal vasberade oor wat ek wil hê. Na ons ʼn paar style saam gaan aanpas het, het hierdie snit vir ons uitgestaan. Dit is iets anders en uniek en ek is mal daaroor.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons het die fotos aanvanklik laat neem sodat ek vir ons die trou uitnodigings webtuiste kan skep. En dit was seker maar ʼn toetslopie om gemaklik te raak met ʼn fotograaf voor ons troue.

 

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ek het aanvanklik ʼn hele ander styl ingedagte gehad, maar toe ons by die Venue kom op die dag het die venue die aesthetic geskep. Daai oggend het die katte-en-honde gereën. So ons was gelukkig om ʼn paar fotos geneem te kry voor die reën weer uitgesak het. Daardie beligting was ook groot aandeel in hoekom ons fotos so mooi uitgekom het.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons wil net elke stappie geniet. Ons is bevoorreg om meeste van die onkostes te kan dek vir ʼn lekker groot troue. Ek het ook al lank terug besluit wat ek verwag van my troudag, so al wat verlowing tydperk inhou is die finale besluitneming.

Visie vir droomtroue:


Ons reël alles self, buiten dit wat die venue behartig. Soos reeds genoem trou ons al die 14de November by Green Leaves, ons het verlief geraak op die kapel en die uitsig van die berg. Ons wil ook ʼn lekker groot partytjie hou. My droomtroue is geïnspireer deur al die 90’s vroe 2000’s romatic comedies wat ʼn troue feature. ‘Father of the Bride” is byvoorbeeld een van my absolute gunsteling films en vir my gaan my droom troue nie net oor die decor en versiering nie, maar oor hoe ek wil voel op daardie dag en op daardie dag wil ek voel soos wat “Annie” in daai film gevoel het. Ek wil lewe in ons eie romantic comedy. Nie te modern nie, maar klassiek en warm, met ʼn tikkie “fun”. Vir ons albei gaan dit oor die kuier en om die tyd saam met die mense rondom ons te geniet.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet:

    • Fotograaf: RdJ Photography | Kontak
    • Fotosessie Ligging: Pont de Val | Kontak
    • Grimering: Johané Enslin
    • Hare: Johané Enslin
    • Verloofring: Ravats