Morné & Michelle se Rustieke Warm Troue

Met ʼn groot glimlag deel ons Morné en Michelle se rustieke warm troue in Lydenburg, Mpumalanga met julle.  Die paartjie het gegaan vir ʼn rustieke, vintage tema met ʼn warm ondertoon.  Hulle wou baie graag ʼn Wintertroue hê, maar het toe op die ou einde in November maand getrou, omdat hulle die trou datum bietjie moes aanpas.  Die kleurskema is perfek vir ʼn droom Winter troue en sal tonne inspirasie bied vir paartjies wat ʼn gesellige Winter troue wil hê.

@Boshoek is ʼn pragtige plaas in die Lydenburg area van Mpumalanga.  Met soveel om te bied is die trou venue die perfekte keuse vir paartjies.  Van ʼn fantastiese onthaal lokaal tot moderne akkommodasie wat beskikbaar is vir gaste om te bespreek.  Die omliggende uitsigte en landskappe is perfek vir paartjies se trou foto’s.

Hulle trou dekor het alles so gesellig laat voel.  Die helder, diep aardse kleure van hul trou blomme is so mooi en staan uit op die rou hout tafels en hout stoele van die trou venue.  Dan is daar die ligte wat tussen die hout takke wat vanuit die dak hak kruip en ʼn moderne element bring tot die paartjie se trou tema.

Vir ons hier by Mooi Troues is dit altyd lekker om te hoor dat paartjies inspirasie en selfs diensverskaffers vanaf ons webtuiste vind.  Die paartjie het skryfbehoefte inspirasie vanaf Mooi Troues gekry en ook hulle fotograaf.  Rol af om meer te lees oor Morné en Michelle se Rustieke Warm Troue.

Paartjie se Liefdesreis:


M&M was ons gedoop met ons eerste ontmoeting 7 Desember 2016 by Panaroti’s.  Ons het van mekaar geweet, maar die tyd was nog nie só reg dat ons mekaar vroeër moes leer ken het nie, met die laat aand en sjarmanse het Morné nogsteeds sonder ʼn soen huis toe gegaan, want ek is mos streng en kyk eers die kat uit die boom uit, maar nie te min het Morné my hart en wêreld stadig begin omdop. Ons het ʼn paar ontmoetings gehad waar een baie spesiaal was deur ʼn onverwagse boodskap wat ek hom gestuur het en gevra het of ons nog Devoetpad Kloof toe gaan.  Jimmel ek nog nooit iemand gesien my so vinnig kom haal nie.  Ek sal dit nooit vergeet ons is só skaam ons swem meters uitmekaar uit.

Verlowing:

Ek en Morné het mekaar net meer leer ken en dit is die beste avontuur van ons lewens.  Nie te min, besluit ons om ʼn lewe saam te bou.  Op 6 Maart 2020 vra Morné my om verloof te raak.  Dit was een groot verrassing.  Morné se plan was om my te oortuig dat ons gaan visvang saam die familie by Loskopdam ʼn naweek en dat ons verblyf het by die Loskop Lodge net ʼn paar km van die dam  af.  Ek was net geklee in ʼn kort broek en tekkies niks “fancy” nie.

Ons het by die Lodge aangekom waarby Morné my gely het na trappies onder by ʼn spruitjie met baie kersliggies.  Van die kersliggies het soos die in ons huis gelyk wat my skoonma blykbaar wou leen en toe het ek begin wonder wat aan gaan.  Net onder by die spruitjie was ʼn mooi opgemaakte tafel met ʼn ligballonetjie.  Die ligballonetjie het die handgeskrewe kaartjies in gehad met die mooiste woorde.  Die laaste kaartjie het gestaan: “Sal jy met my trou asb?” net toe ek omdraai was Morné op sy een knieg en herhaal die woorde.  Joh hy het my geflous daardie naweek, maar hy het omtrent ʼn “catch” gekry.

Die Verlowing Tydperk:


Saam het ek en Morné besluit ons wil graag binne ʼn jaar trou indien dit moontlik is na die verlowing.  Om presies te wees was dit ʼn jaar en 8 maande.  Niemand het ook ooit gedink dat daar ʼn in beperking gaan wees nie.  Met ons harte vol dankbaarheid gee die Here vir ons ʼn dag in oorvloed vreugde op 20 November 2021.  Ons het ons troue self beplan.

Het julle enige diensverskaffers of inspirasie van Mooi Troues gekry?


Nadine  Dutton Photography – was geadverteer op mooi troues.  Haar foto’s het my net ongelooflik baie geïntrigeer.

Vir die skryfbehoeftes was daar ʼn artikel oor vellum en follie blomme (Invitation Café) trou uitnodiging. Ek het so van die idee gebruik gemaak vir die kaartjies om in die kerk te gebruik om die afloop van die dag en gesange te adverteer ens.

Trou Begroting:


Ons trou begroting was +- R200 000 met 80 gaste.  Albei van ons het mooi saam gewerk om te kan spaar en werk om die gelde bymekaar te maak.  Ons het redelik baie goed gehou by die begroting.

Dit is ʼn baie goeie belegging om ʼn troubeplanner boek te koop.   Daardeur kan jy al jou navorsing doen en al jou kostes bymekaar sit voordat jy begin om die aankope te doen en so deur ook is dit goed om van daardie begroting ʼn “nood” fonds afdeling te maak, sodat wanneer daar onvoorsiene omstandighede gebeur van ʼn troue of indien julle oor ander tipe verskaffers besluit en goed vir die troue beplan/nodig het, dan is daar fondse beskikbaar.

Spesiale Tradisies:


Al wat ons wou gehad het was om mekaar 2 weke voor die troue nie te sien nie en ek wou bitter graag in ʼn kerk trou met ʼn goeie dominee.

Merkwaardigste Oomblikke:


Ons altwee se merkwaardige oomblik is om mekaar die eerste keer te kon sien na 2 weke, veral omdat ek in ʼn wit rok afstap na my toekomstige man en dat hy vir my wag.   Soos wat die deure oopgaan sien ek hoe Morné in trane uitbars.  Ek natuurlik het tot die einde met die grootste glimlag afgestap.  Ek net geweet ek moet langs sy, sy wees.

Daar was ʼn oomblik waar ons foto’s bo by die berg geneem het wat ons net kon stil raak en net die uitsig geniet tussen die berge en vir mekaar kyk en net besef hier gaan ons lewens net vorentoe.

Paartjie se styl:


My trourok was ontwerp en gemaak deur Carike Nel Designs, waarby sy my rok in ʼn klassieke styl geskep het.  Ek het saam my rok Esthé Leather Co. “vellie” skoen gedra saam het dit die klassieke styl geskep.  Ons het ook in ʼn semi-bosveld omgewing getrou.  My juweliersware was blou Tanzaniet hangertjie en oorbelle.  Ons ringe was deur Hattingh Manufacturing vervaardig.

My goue verloofring was ook my trou ring, omrede dit 3 verskillende ontwerpe in 1 ring omskep was.  My man se ring was vervaardig uit goud en fyn 2 lyntjie detail met sy pa se volle name en van in gegraveer.  Sy pa was vroeg in September 2016 oorlede en dit het vir my man baie beteken om sy pa se name in te sit.

Die bruidegom se materiaal vir sy pak was bestel van Benjamin Woollens.  Die materiaal was ʼn winter  bruin styl “tweed” materiaal wat net oorsee gevind kan word.  Saam was sy onderbaadjie en baadjie uit die materiaal uitgeskep met die mooiste rooi/bruin warm kleur knope.  Hy het ook veldskoen “vellie” skoene gedra met ʼn swart tipe denim broek wat nogsteeds jou formele trou styl skep.

Die Besluitnemingsproses:


Ons was ʼn span ek en Morné.  Die bruid het meeste van die beplanning gedoen en daar was selde wat ek die bruidegom genader het met ʼn besluit as ek sou vashaak.  Ek het wel die bruidegom betrokke gemaak, maar hy was darem gelukkig met elke besluit wat geneem was.  My man het al die dekor en items wat ons nodig gehad het deurgery Lydenburg toe en selfs die troukoek.

My skoonsussie nou vandag, het baie op-en-af saam my gery om my trourok se passing en ontwerping te kon doen.  Sy het baie insette gehad.

Ek het ongelooflik baie hulp gehad van my skoonfamilie en sussies en my beste vriendin wat nog ʼn tydperk oorsee gewerk het.  Ek het emosionele ondersteuning van almal gehad en as ek nog aan beplanning moet doen  wat ek vergeet het, was hulle daar om my te herinner,

Vermaak:


Ons het ʼn platejoggie gehad – DJ Andrew Spectacular events.  Hy speel ʼn versiendheid musiek en hy het die mense vermaak.

Die ‘nie-so-perfek’ oomblikke:


Op die dag van die troue, was al die personeel van atBoshoek so behulpsaam om die reëlings van al die verskaffers te handhaaf terwyl ons klaar gemaak het.  Hulle het als onder beheer gehad, as daar nie-so-perfek oomblik was nie, het hulle dit so vinnig uitsorteer dat ek nie eers geweet het nie.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Vir die dames:

Sal ek graag wou deel om jou spesiale dag regtig elke oomblik in te neem, want dit gaan so vinnig, vat die tyd en staan stil en gee alle eer aan God,  vat daardie oomblik tussen die fotograwe wat jul in sekere posisie wil hê om te poseer en die mense wat net wil jul gelukwens, vat jou man se hand, soen hom, kyk hom in sy oë en haal asem om jou spesiale oomblik te laat seëvier.  Die administratiewe gedeelte kry daardie troubeplanner boek, en as jy dit kan bekostig ʼn videograaf.

Vir die manne:

Laat die vrouens hulle reëlings doen, hulle is meer toegerus om al daardie beplanning en detail te doen.  Ondersteun jou toekomstige vrou in haar emosionele tye.  Wees net daar vir haar, al is dit net jou skouer.  Dit is ʼn groot dag vir jou en vir haar, maar julle kan nogsteeds die beplanning tydperk geniet, en die vrouens probeer hard om dit die perfekste dag te maak.

Venue & Dekor:


Ons was mal oor die idee om ʼn warm/vintage/rustieke atmosfeer te kon skep.  Ek wou ʼn winter troue gehad het en Morné het dieselfde gevoel, maar moes uitstel tot November 2021.  Ons was geseënd op ons troue deur God om vir ons, ons dag te kon gee soos ons dit wou gehad het.

Ek het 3 venues gekies, waarby ek graag wou in ʼn dag se padreis beplanning, wou gaan sien het in die Mpumalanga area.  Dit het so uitgewerk dat net die 1 venue kon sien atBoshoek Weddings – Lydenburg en net daar was ek en Morné vas gevang in die atmosfeer wat die venue geskep het.  Die lang bome by die ontvangs area die kerkie, waarby ek nog in die middel kon deur loop en sy wonderlike bosveld uitsig.  Ons wou nie eers tyd maak om na die ander te kyk nie.

Ons wou van die begin af ʼn venue gehad het wat ook akkommodasie gehad het.  Die beplanning was ook om ʼn naweek troue te kon hê.  Die venue alleen het takke gehad wat oor elke tafel hang met ‘Edison Bulbs’ en die grootste plus punt was die 3 x kaggels wat hulle gehad het en die meubels wat die perfekte rustige/rustieke gevoel vir my gegee het.

My trou kleure was smaraggroen, Kersiebrandewyn, bruin, vlootblou, and ys pienk.  Die trou dekor het bestaan uit sement onderborde en sement kers houers.  Maliflora Wholesale & Florist het die beste blom kleure geskakeer.  Die tipe blomme is ‘Cherry brandy’ rose, pienk rose, wit ‘avalanche’ rose, Dahlias, Orgidees.  Ek het ook selfgemaakte takke wat ek op die plaas gekry het gebruik wat ek dan net laat rou blaas en ʼn onderlaag opgesit het en op die tafel as dekor gebruik het saam die blomme.

Eerste Dans:


Ons dans liedjie het my man gekies van Blake Sheldon en Gwen Stefani – Nobody but you.

Met ons eerste dans was alles so perfek, ons het op die maat van die musiek gedans en dit was wonderlik.  Ons het nie danslesse gevat nie.  Ons dans was vloeiend en al die liefdes oë was daar ons het op wolke gedans (die rook masjien het beslis gehelp met die effek) net so op die einde van die liedjie besluit my man hy wil ʼn spesiale dans toertjie doen.  Tot ons verrassing het dit nie so mooi uitgewerk nie.  Met die probeer slag het ek saggies op die vloer geval en hy het ʼn rollende James Bond beweging gemaak.  Dit was my eintlik so spesiaal, want ons het lekker daaroor gelag en dit het regtig gelyk of dit só moes wees.  Hy het my opgetel en nog gesoen en in die rondte gedraai daarna. Ons kon hoor dit was ʼn fees vir almal.

Wittebrood:


My man het die wittebrood as ʼn verrassing gehou.  Ons het op ʼn roete gegaan van ons trou venue na Hazyview waar ons oornag het by Thulamela Lodge.  Ons het reg gemaak die volgende oggend om nog ʼn nag oor te slaap by Marloth Park en dit is hier waar die hele wittebrood begin het.  Hy het my verras om my die eerste keer oor die grens te vat na Mozambique Ponta de Oura.

Ons het ons self daar geniet vir 4 dae.  Ons het beplan om saam die dolfyne te gaan swem, maar my man word see siek op ʼn boot en ek is bang ʼn haai gaan my eet, so ons het altwee dinge uit ons gemak sone gedoen.  Ek het nog gelag toe dit tyd was om van die boot in die water te spring was hy eerste uit en ek dog laat ek spring, want ek sal dit nooit kan doen sonder hom nie.

En daar het ons die geleentheid gekry om die dolfyne te sien en saam te swem.  Die volgende en finale bestemming was na Ballito, waar ons die laaste dae spandeer het van ons Wittebrood.  Ons het dit so ongelooflik baie geniet, ons wens ons kan dit gou weer doen.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: