Kobus & Nadia se glansende elegante bruilof

Kobus en Nadia het hulle glansende elegante bruilof gevier by, Belair Pavilion, ‘n spog trouvenue in die Paarl.  Ons deel vandag graag hulle pragtige liefdes verhaal en trou foto’s met ons lesers.

“Twee vlieë met een klap” beskryf presies hoe Kobus en Nadia op hul trou venue en koördineerder besluit het.  Die paartjie het na die pragtige Belair Pavillion gaan kyk vir hul trou venue.  Met sy pragtige uitsig oor Simonsberg, vanaf die pragtige klein plaas teen die hange van Paarl Berg, het hulle geweet dit is waarna hulle soek.  Belair Pavillion staan uit vir onder andere hul pragtige tuine en unieke onthaal spasie.

Op die dieselfde dag het hulle ook vir Tracy, trou koördineerder van Trunk Events raak geloop.  Hulle was dadelik opgesweep deur haar passie en aansteeklike energie.  Tracy, met haar besonderse oog vir detail, het vir hulle mooi gelei deur die trou beplan proses en het gehelp om soveel stres van die paartjie af te verlig.

Kobus en Nadia het ʼn glansende elegante bruilof gehad met blink elemente en ʼn pragtige sagte pienk kleurskema.  Roos goud elemente en simplistiese blomme rangskikkings het verder die tafel dekor opgehelder en vervrolik.  Die paartjie het ook gebruik gemaak van Mooi Troues se betroubare trougids om diensverskaffers vir hul bruilofsfees te vind.  Hulle het ook vir DJ Pepe gehad as platejoggie op die aand wat gaste tot laat vermaak het.

Rol gerus af om meer te geniet van Kobus en Nadia se glansende elegante bruilof.

Paartjie se Liefdesreis:


Ek en Kobus was in 2017 aan mekaar voorgestel deur ʼn gemeenskaplike vriendin.  Hy het my geneem vir ete op ʼn wynplaas en ons was sedert toe onafskeidbaar.

So “baasspelerig” soos wat ek is, het ek vir Kobus op ʼn dag gesê hy moet my net nie eendag op Valentynsdag vra om te trou nie, en so ʼn “hanswors” as wat hy is, het hy my toe in 2020 op 15 Februarie gevra.

Die verlowing was omtrent iets uit ʼn sprokie uit.  Ons het saam vriende vir ʼn naweek weg gegaan by die dam. Vroeg die oggend al het die mans bloot verdwyn en die boot uitgeneem terwyl die vrouens lekker in die sonnetjie ontspan en geklets het.

Uit die bloute uit, het my beste vriendin (en gevolglike hoof-strooimeisie) vir my ʼn koevertjie gebring met ʼn briefie in.  Dié briefie was die eerste van ʼn reeks briefies wat elk ʼn raaisel ingehou het wat sou lei tot die volgende een in die skattejag.  Die laaste briefie se vrae moes ek alles reg beantwoord voor ek ʼn geskenkie kon ontvang wat die mooiste uitrusting bevat het; ʼn rokkie, strooi-hoed & sandale vanaf Forever New.  Ek moes dit glo aantrek voor die boot ons kom afhaal.

Die boot het terug verkeer sonder die mans en ons opgelaai.  Op die boot het my vriendin haar foon aan my oorhandig met ʼn reeks van ons foto’s wat speel teen agtergrond musiek en toe eindig met ʼn vooraf genome video waar Kobus my vra of ek my lewe met hom sou deel.  Toe die boot sy bestemming bereik, wag Kobus vir my op een knieg met ʼn piekniek mandjie, ʼn ring en ʼn skaam glimlag.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was vir 1 jaar lank verloof toe ek besef het dat as ek nog langer aanhou die beplanning uitstel, ons dalk nog eendag eerder in ʼn ouetehuis sou moes trou. 🙂

Ons het Belair Pavilion besoek tydens Februarie van hierdie jaar (2021) in ʼn poging om die ideale bestemming te vind vir ons troue.  Daar het ons toevallig vir Tracy van “Trunk Events” ontmoet. Tracy was besig om die saal reg te maak vir ʼn ander paartjie se troue.  Ek was vanaf die eerste ontmoeting mal oor Tracy se aansteeklike passie en opgewondenheid. Ons was deur haar oortuig dat ʼn korter beplannings-periode beter en minder spanningsvol sou wees as ʼn lang, uitgerekte wag.  Ons het gevolglik ʼn datum in April vas gemaak teenoor ons oorspronklike beraming dat ons eers Augustus / September sou trou. Tracy het vreeslik baie gehelp om my senuwees te kalmeer en sy het my begelei met die beplanning.  Ek sukkel wel om beheer oor te laat, dus het ek tog meeste van die beplanning self gedoen.

Het julle enige diensverskaffers of inspirasie van Mooi Troues gekry?


Mooi Troues se trougids is verskriklik deeglik en het ons keuses beaam.  Die lys van diensverskaffers is reeds namens bruide en bruidegom paartjies gefynkam deur Mooi Troues en mens kan nie verkeerd gaan deur van enige verskaffer op die lys gebruik te maak nie.

Dit was só gerusstellend om voorgestelde diensskaffers te kan vergelyk met dié op Mooi Troues se webtuiste.  Onder andere Trunk Events; een van die belangrikste besluite wat ons moes maak.

Finansiële Aspekte:


Ek en my bruidegom het baie verskil oor hoe ʼn troue se begroting moes lyk.  Terwyl hy verantwoordelik wou wees, kostes sny en pryse op die regterkant se rakke vergelyk in ʼn poging om kostes te bespaar, het ek van die linkerkant af alles wat blink en “glitter” in die trollie by gegooi.  Die begroting was aanvanklik R150 000, waarna ek hom met baba-hondjie ogies oortuig het dat ons dit op skuif na R200 000. Ons het op die ou-einde nader aan R300 000 gedraai. (Ek hoop nie my man kry ʼn skakel na hierdie antwoord nie. Hehe)  Ons het slegs 54 gaste onthaal.

My advies aan ander paartjies sou wees om die belangrikste goed eerste te prioritiseer, soos byvoorbeeld die kos, fotograaf en dekor.  Kry dan ten minste 2 kwotasies van twee verskillende verskaffers af vir elke diens-behoefte.  Maak seker van enige verskuilde kostes wat moontlik van toepassing mag wees.

Paartjie se styl:


My man was (én is) ʼn vreeslike maklike mens.  Hy het reeds geweet watter kleur pak hy wou hê en by die eerste plek wat hy besoek het al daarmee reg gekom.  Ek was baie verbaas en beïndruk dat hy sy onderbaadjie laat maak het aangesien hy nie kon vind wat hy beoog het om te dra nie.

Aan die anderkant was ek nie bereid om toe te gee vir enigiets minder as wat ek wou gehad het nie. Ek kon ook nie besluit wat dit wel was wat ek wou hê nie.  Haha.  Soms is dit wat by jou pas en dit wat jy gedink het jy as jou “eendag rok” of “eendag ring” wou hê nie noodwendig dieselfde nie.  Gelukkig vir my was my tóé verloofde, nou man, baie geduldig en ondersteunend tydens al 203 voorstelle vir ons trouringe.

Cindy Bam wat my rok ontwerp het, het beter as ek self geweet watter rok my persoonlikheid uitstraal en watter boodskap die rok moes uitbeeld.  Sy is regtig ongelooflik talentvol en my enigste berou is dat ek nie haar kunswerk elke naweek iewers heen sal kan aantrek nie.

Spesiale Tradisies:


Na ons geloftes het ons ook ʼn roos seremonie gehad. Tydens dié seremonie gee die bruid en bruidegom elk aan mekaar een enkel rooi roos.  Dit is dus die heel eerste geskenk aan mekaar as man en vrou. Die roos verteenwoordig liefde en die doel van die seremonie is as simboliek van die skenking van jul liefde aan mekaar.  Sedert ons troue moes ons toe ʼn spesiale plek in die huis kies om die 2 rosé uit te stal.  Wanneer ookal daar in die huwelik nie die woorde gevind word om te sê “ek is jammer” of “ek het jou lief” of “ek het jou nodig” nie, kan daar weer ʼn roos op daardie plek gelaat word as plaasvervanger vir die belangrike woorde.

Merkwaardigste Oomblikke:


Die merkwaardigste deel van die dag was vir my die seremonie; vanaf die geloftes tot die bekendstelling het alles vreeslik spontaan en humoristies verloop.  Al die gaste het deel gevoel van die onthaal.  Elkeen het na die verloop kom deel dat hul persoonlik iets daaruit kon wegneem en dat hul nog nooit so lekker tydens ʼn troue uit hul mae kon lag nie.

My romantikus man se merkwaardigste deel was ons openingsdans.  Na baie laat aande se oefen op ons kamer se mat en uiteindelik gefrustreerd oorgee aan die idee dat hy nie my “koreografie” sal kan onthou nie.  Die bekommernisse en spanning het alles weggesmelt toe ons die dansvloer die eerste keer inneem as man en vrou.  Ons het onsself onvoorwaardelik geniet in die oomblik.  Dit het sowaar gevoel of daar niemand anders in die omtrek was nie.

Wittebrood:


Ons het wittebrood gehou in Maldives. Ek wou nog altyd in ʼn “water bungalow” gebly het en my man het die droom bewaarheid.  Die wittebrood was omtrent idillies, van wakker word voor ʼn groot glas deur met die oranje en pienk sonsopkoms tot saam skilpaaie swem en fotosessie op ons eie privaat eiland.  Ek moes kort-kort myself knyp net om seker te maak ek droom nie.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: