Jacques & Andrea se strand verlowing

Jacques en Andrea het hul verlowing fotosessie op Gordonsbaai se strand gehad en hulle sê hulle kon nie vir mooier fotos vra nie;  Hiermee stem ons by Mooi Troues saam met hulle.  Ons hou veral van die fotos waar Jacques en Andrea in die water ingaan.  Altyd ‘n pret gevoel vir ‘n verlowing fotosessie.



Hoe het julle ontmoet?

Ons het ontmoet op 24 September 2011 (Braaidag) by De Hoop Wynplaas in die Paarl, waar ons saam met gemeenskaplike vriende langs die dam op die plaas Erfenisdag gevier het.

Andrea: Jacques se sin vir humor, sy gemaklikheid met mense en sy sosiale geaardheid het dadelik ‘n indruk op my gemaak. Ek het gedink Jacques is ‘n “lekker mens”.

Jacques: Ek het eerstens gedink Andrea is die mooiste vrou onder die son en ek moes met haar gaan praat het. Ook haar sin vir humor, haar selfvertroue en sagte geaardheid was vir my aantreklik.



Vertel ons meer van julle verlowing?

Ons het op 20 Februarie 2016 verloof geraak by Hidden Valley Wines wynplaas in Stellenbosch (nadat ek weke tevore vir hom genoem het ek is absoluut mal oor die plaas en dat dit ongelooflik mooi is daar).

Hy het vir my vertel dat ons gaan ontbyt eet op ‘n wynplaas saam met ‘n vriend van hom wat van China af kom kuier het, maar die ontbyt was toe net ‘n storie om by Hidden Valley uit te kom. Ons het langs die dam verloof geraak en die fotograaf het in die bosse weggekruip en die groot vraag op kamera vasgevang.



Vertel ons die inspirasie vir die verlowing fotosessie?

Ons het reeds die dag met die verlowing professionele fotos geneem op die wynplaas en ons wou graag weer ‘n verlowing fotosessie doen.

Astrid se pakket wat ons geneem het vir die troue het ook vir ons ‘n gratis verlowing fotosessie gebied en was daar dus geen rede om nie nog fotos te laat neem nie.

Ons was lus vir ‘n gemaklike, spelerige fotosessie en waar mooier as die pragtige see en berge in Gordonsbaai?  Astrid het die plek vir die fotos voorgestel en ons kon absoluut nie vir ‘n mooier plek en fotos gevra het nie.



Vertel ons wat is jul droom troue?

‘n Gemaklike, klein, rustieke troue langs die see met baie spesiale vriende en familie.



Diensverskaffers