W.J. & Carike se pragtige plaastroue

Mooi Troues deel vandag die pragtige plaastroue van W.J. en Carike met ons lesers. W.J en Carike is so gaande oor mekaar, dat hulle nie wou hê die KOVID 19 pandemie moes hul troue verder uitstel nie.  Daarom, het hierdie paartjie se pragtige bruilof plaasgevind in die gemak van hul eie plaasskuur in die Noord-Kaap.

Met die hulp van haar ma en broer, het Carike hierdie pragtige plaastroue in slegs twee maande beplan.  Dié pragtige troue dien as wonderlike trou inspirasie en idees vir lesers wat self hul troue wil beplan.  Asook die uitdaging van min tyd in die gesig staar.

Hierdie pragtige plaastroue is afgerond met rustieke trou dekor wat so mooi by die plaastema inskakel.  Daar verskyn glas elemente wat elegansie na vore bring in die trou dekor.  Tesame met swart kleurige items wat die ligte kleurskema breek en mooi inskakel by die hout en bruin elemente.  ʼn Perfekte voorbeeld van waar eenvoud baie gesofistikeerd en pragtig kan vertoon.

Rol af en geniet die foto’s en storie agter W.J en Carike se pragtige plaastroue.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar in 2013 ontmoet in Hartenbos op vakansie deur ʼn vriendin, maar dit was nie soos ʼn gewone Desember romans nie.  Daarvan af het ons baie goeie vriende geraak, maar omdat ons nie in dieselfde dorp gebly het nie het daar nooit iets romanties ontwikkel, totdat hy van my begin hou het na ʼn paar kuiers saam.  Op daardie stadium was ek nie gereed vir ʼn verhouding nie, maar in 2018 het ons besluit om dit ʼn kans te gee … Al was hy in die Noord Kaap en ek in Gauteng.

Vanaf ons eerste soen het ek geweet hy is my trouman en ek het dadelik begin kyk na verloof ringe om hom te help in die regte rigting.  Ons het verloof geraak in 2019, hy het die vra-werk gedoen. Dit was die 31ste Desember, hy het gewerk die dag en toe hy 20:00 nog nie by die huis was nie het ek begin vermoed hy beplan iets.  Hy het by ʼn piekniek area klomp “fairy lights” gehang en kersies gepak, ek was geblinddoek toe ek die lap afhaal het hy voor my gestaan op sy knie en die groot vraag gevra.

Finansiële Aspekte:


Ons begroting was R100 000, máár omdat ons in Wilderness eers sou trou het ons ʼn paar rand verloor.  Op die ou end was dit R80 000.  Daarom het ons probeer dat so min as moontlik items van vêr af laat kom.  Om rede ons getrou het in my tuis dorp, kon ons hier en daar afslag gekry het.  Beide my en W.J. se ouers is boere, so ons kon spaar op vleis wat geborg was deur hulle.  Daar was omtrent 80 gaste onthaal in ʼn stoor op die plaas.

Ons raad aan ander paartjies is dat iets eenvoudig baie mooi kan uitdraai met bietjie moeite, so dit is nie nodig om die duurste item te gebruik/koop nie.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was nege maande verloof gewees.  Ons het eers ʼn trou beplanner gehad, want ons sou die 5de Desember 2020 in Wilderness getrou het, maar oor Covid-19 moes ons alternatiewe planne gemaak het.  Só het ons, ons datum geskuif na 26 September 2020 na ons familie plaas in die Noord Kaap om ʼn kleiner byeenkoms te hê.  Op die ou end het ek (Carike), my ma en broer die troue self beplan.

Die Besluitnemingsproses:


Ek, die bruid, het meeste van die besluite geneem omdat ek en W.J. op daardie stadium nie by mekaar was nie.  Ek het vir 2-maande voor die troue huis toe gegaan om die troue te beplan saam met my ma en broer in Kuruman. W.J. was tydens hierdie tydperk in George gewees, en moes werk.  Ek moet net byvoeg dat die hele troue letterlik in die twee maande beplan was, omdat dit ʼn “in die ingewing van die oomblik” besluit was om so vinnig te trou.  My (Carike) se ma en broer was die meeste betrokke by besluitnemingsprosesse, maar al ons familie en vriende wat uitgenooi was na die troue, het soveel as moontlik gedoen om handjie by te sit om ons te help.  Ek moet erken, dit was baie kosbaar om te sien hoe almal bereid was om te help om ons groot dag ʼn realiteit te maak.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


KOVID 19 het ʼn uitwerking op ons troudag gehad, ja.  Ons sou oorspronklik 5 Desember 2020 getrou het.  Nadat ons die inperking saam met mekaar spandeer het, het ons besluit om dit te skuif na 26 September 2020 omdat ons net so graag by mekaar wou wees.  Ons was bereid om die gastelys korter te maak en minder geld te spandeer.

Paartjie se styl:


Ek (Carike) het van kleins af altyd gedroom om in ʼn groot, pofferige trourok te trou.  My broer het ʼn vriend wat ʼn ontwerper is, wat my droom bewaarheid het.  Hy kan werklik toor met ʼn stuk lap. W.J. se pak het Willem (die ontwerper) ook gemaak en was vlootblou om in te pas by die trou tema.  Ek en W.J. ken mekaar goed genoeg om te weet watter trouring sou pas by die ander persoon. Nie een van ons het regtig ʼn spesifieke styl in gedagte gehad nie.  Ek wou eintlik ʼn meer eenvoudige ring gehad het maar hy het iets beter en mooier gekies op die ou-end.

Gunsteling Diensverskaffers:


Oorspronklik sou Dancing Wolf Productions ons dag vasvang, maar hulle het ʼn ander troue gehad op ons nuwe troudatum.  Dus het ons toe met ander fotograwe, Lilly Leigh Photography, gereël om ons te kom afneem en sy was wonderlik.  Sy laat mens op jou gemak voel om voor haar lens te wees en het ʼn oog om ʼn mooi oomblik vas te vang.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Advies van die bruid:

Bruide moet nie bang moet wees om vir wie ookal die troue beplan te sê om iets te verander waarvan sy nie hou nie.  Sy moet in gedagte hou dat dit haar en haar verloofde se spesiale dag is.  Niemand moet redigeer hoe hulle ideale dag moet lyk nie. Sy moet ook oop wees vir ander idees, want iets mag dalk visueel beter lyk as wat sy dink dit sal.

Advies van die bruidegom:

Om ja te sê vir iets waarvan jy nie hou nie is nie altyd so moeilik nie. Al is dit stresvol, probeer maar net seker maak die bruid bly kalm.

Wittebrood:


Ons is Swellendam toe vir wittebrood. Omdat ons lank van mekaar af weg was, het die bruidegom het hierdie bestemming gekies. Ons wou net in ʼn rustige omgewing tyd saam spandeer.

Venue & Dekor:


Ons het die plaas gekies omdat dit meer ekonomies was om in ons begroting in te pas.  Ons het gegaan vir rustieke dekor, omdat dit vir my mooi is en dit so goed inpas by die hele plaas tema.

Merkwaardigste Oomblikke:


Die merkwaardigste deel was dat ʼn ou, vuil stoor só mooi kon lyk.

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Ons het ʼn polaroid kamera gehad vir ons fotohoekie.  Niemand het gedink om die kamera voor die tyd te toets nie.  So kom die aand en die kamera werk toe nou nie, die batterye se suur het uitgeloop.  Ek sou daarvan hou om foto’s te kon hê van almal wat ons spesiale dag bygewoon het om op terug te kyk.

Vermaak:


Ons het net ʼn platejoggie gehad wat ons deur die aand vermaak het.

Eerste Dans:


Ons eerste dans liedjie was Nobody But You – Blake Shelton & Gwen Stefani.  Ek, die bruid, is nie so goeie danser nie, daarom het ons voordat ek weg gegaan het bietjie by die huis geoefen om te dans, asook die middag voor die troue.

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: