Pieter & Marelize woud verlowing fotosessie

Pieter en Marelize is terug na Stellenbosch om hulle woud verlowing fotosessie vas te vang in die dorp waar hulle ontmoet het.  Dit is so ʼn romantiese idee dat hul woud verlowing fotosessie weerspieël waar hul liefde aanvanklik begin blom het.

Pieter het Marelize verras met ʼn trouring tydens ʼn wegbreek-naweek in Jacobsbaai.  Hulle was omring met die natuurskoon van die Weskus blomme toe Pieter af gegaan het op een knie.  Hulle het besluit om hulle woud verlowing fotosessie te doen in ʼn dorp wat na is aan hul albei se harte, die pragtige Stellenbosch.

Hierdie paartjie beskryf hulself as mense wat soms bietjie kamera-sku kan wees.  Wat beter manier om jouself voor te berei vir jou groot dag se foto’s as om vooraf gemaklik te raak met jou fotograaf.  Dit was op die ou end vir hierdie paartjie groot pret om hul liefde vas te vang tydens hul woud verlowing fotosessie.

Rol af om meer te lees oor Pieter en Marelize se liefdes verhaal, en om hulle pragtige woud verlowing fotosessie te sien.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Saterdag, 30 Januarie 2016, het ons op Stellenbosch ontmoet by ʼn gemeenskaplike vriend se braai.  Deur die verloop van die aand, was ons die heeltyd bewus van mekaar, maar ons het nie regtig gesels nie.  Teen die einde van die aand het ek en ʼn vriendin ʼn saamry geleentheid nodig gehad na ons onderskeie koshuise.  Pieter het eers my vriendin gaan aflaai om meer tyd met my deur te bring. Buite my koshuis, het Pieter vir my selfoon nommer gevra om te reël dat ons saam begin draf (met die hoop dat iets meer as ʼn vriendskap sou ontwikkel).

Die volgende dag (Sondag) het ek met groot opgewondenheid vir ʼn boodskap van Pieter gewag.  Ek het omtrent elke 10 minute na my selfoon gekyk en minute het later ure geword, sonder ʼn boodskap van Pieter.  Ek was later die dag heel ontmoedig en het probeer om van Pieter te vergeet.  In die namiddag was daar uiteindelik ʼn boodskap van Pieter af, wat my redelik opgewonde gemaak het.  Die boodskap was heel diplomaties en Pieter het gevra of ons die volgende dag kan gaan draf.

Die Maandag se draf-sessie het meer in ʼn gesels sessie ontaard, waarna Pieter vir my gevra het om ʼn pizza in ʼn park te gaan geniet.  Van daar af het die vriendskap geblom.

Die 13de Februarie 2016 was die oorgangspunt van ʼn vriendskap na ʼn verhouding.  Ons was vir 4 Jaar & 7 maande in ʼn verhouding voordat ons besluit het om op die 6de September 2020 verloof te word.

Die groot vraag:


In 2020, na ʼn verhouding van 4-jaar, het ons begin gesels om verloof te word.  Sonder my medewete het Pieter die verlowing in baie besonderhede agter my rug beplan.  Hy het selfs sover gegaan om ʼn paar wit leuentjie te vertel.  Hy het ʼn hele fop-storie opgemaak oor ʼn Tafelberg besoek, Saterdag, 12 September 2020.  In die tussentyd het ons ʼn Jakobsbaai wegbreek-naweek met vriende 4-6 September gehad – ons het die Weskus blomme gaan kyk.  Pieter se hele plan was om my die naweek in die blommeveld om die ja-woord te vra.  Met die Tafelberg saadjie wat hy in my kop geplant het, het ek niks vermoed tydens die Jacobsbaai naweek nie.

Sondag, 6 September, het ons na die blommeveld gegaan en Pieter het besluit dit is nou of nooit.  Ons het op ʼn rots geklim met die see aan die eenkant en die blomme aan die anderkant.  Voor ek my oë kon uitvee was Pieter op een knie met ʼn “Purple heart” hout boksie in die een hand.  My oë het vol trane van absolute vreugde geskiet en die trane het net aanhou vloei.  Dit was onvergeetlik en verseker ʼn oomblik wat ons altyd in ons harte sal koester.  Buiten die mooi ligging waar ons verloof geraak het, het Pieter seker gemaak dat kosbare vriende en familie ook in die oomblik kon deel.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Marelize van Pieter:

Pieter se passie vir die lewe is absoluut aansteeklik!  Hy is iemand wat glad nie kan stil sit nie en gryp geleenthede met beide hande aan.  Pieter het ook ʼn visie vir sy lewe en weet wat hy wil bereik.  Hy het ʼn hart vir mense en sal altyd sy medemens help.

Ek dink een van my gunsteling herinneringe is toe Pieter my ouma, wat in ʼn ouetehuis en rolstoel is, buite in die tuin gaan rondstoot het.  So ʼn eenvoudige daad, maar iets so klein soos dit, het die wêreldse vreugde vir my ouma gebring.  Hy het my ook geleer om elke persoon te aanvaar vir wie hulle is.  Om nooit te oordeel nie en om altyd tyd te maak vir mense.  Laastens, en sekerlik die belangrikste, Pieter is ʼn man van God wat ʼn geloofspad saam met my stap.

Pieter van Marelize:

Marelize is ʼn baie liefdevolle en omgee mens.  Sy gee baie maklik vir ander om en skroom nie om vir ander te sorg en hulp te verleen nie.  Marelize stel altyd ander op hul gemak en luister geduldig.  Dit maak haar ʼn baie mooi persoon van binne en buite.

Wanneer Marelize gelukkig is, is sy veral baie energiek, spontaan en besonders prettig, al raak dit soms bietjie te hard in volume.  Sy het ʼn sterk eie wilskrag en baie ruggraat.  Marelize sal nie onder groepsdruk verval nie en sal nie toelaat dat ongeregdheid rondom haar geskied nie.  Sy is baie eerlik en eg, so sy sê ʼn ding soos sy dit sien.  Dit laat toe dat almal weet presies waar hul met haar staan.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons het die 6de September 2020 verloof geword en beplan om die 11de Desember 2021 te trou.

Visie vir droomtroue:


Dat die troue ʼn feesviering is van ons liefde aan mekaar en dat ons die begin van ons lewenspad saam met ons familie en vriende kan deel.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Alhoewel ons beide daarvan hou om oomblike vas te vang op die kamera, is ons baie ongemaklik om te poseer vir foto’s.  Ons het besluit dis ʼn goeie idee om vir ʼn verlowings fotosessie te gaan sodat ons gemaklik met die fotograaf is en weet wat om te verwag op ons troudag.

Op die ou end was ons so bly dat ons besluit het om dit te doen, want dit was groot pret.  Die fotograaf het dit glad nie vir ons laat voel of ons poseer vir foto’s nie, ons was net ons self en alles het spontaan gebeur.  Natuurlik is dit ʼn groot bonus om die verlowings-foto’s te ontvang en terug te kyk na die prettige dag!

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Stellenbosch was heel bo-aan die lys, omdat dit die dorp is waar ons ontmoet het.  Ons is beide mal oor die natuur, so dit was die tweede vereiste.  Eden Forest in Stellenbosch was dus die perfekte omgewing vir die foto’s.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons verwagtinge:

ʼn Tydperk van groot opwinding en natuurlik ʼn bietjie stres!  Ons besef dat trou-beplanning baie stresvol kan wees, maar ons probeer om elke stap te geniet.

Omdat ek ʼn stres-bolletjie is, hoop ek dat Pieter se rustigheid my sal kalmeer en leer om een ding op ʼn slag te doen.  Op die ou end is ons grootste hoop dat die opgewondenheid en vreugdes die stres moet oorskadu.

Ons vrese:

Dat die stres te veel raak en wegneem van die vreugdes om ʼn troue te beplan.  Met KOVID wat so onvoorspelbaar is en soveel onsekerheid veroorsaak, is ons grootste vrees dat ons miskien ons troue sal moet uitstel.

Die verloofring:


Marelize het die verloofring ontwerp.  Sy wou ʼn klassieke en simplistiese ring gehad het.  Die eindproduk was mooier as die ontwerp en tot vandag toe kan Marelize nie genoeg van haar ring kry nie!

[section=Klik hier vir diensverskaffers]

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers:

[endsection]