Belangrikheid van ‘n Huweliksvoorwaardekontrak

Partye moet ‘n ingeligte besluit maak oor die huweliksgoederebedeling in terme waarvan hul in die huwelik wil tree en is dit dus belangrik dat die partye voldoende vooraf hierdie aspek met ‘n prokureur bespreek sodat hul duidelikheid hieroor kan kry en seker maak hul verstaan alle aspekte hierin.

Die drie opsies wat aan die partye verduidelik word en waaruit hul kan kies, is soos volg:

  • Binne Gemeenskap van Goedere;
  • Buite Gemeenskap van Goedere met insluiting van die Aanwasbedeling; en
  • Buite Gemeenskap van Goedere met uitsluiting van die Aanwasbedling.

Binne Gemeenskap van Goedere:


In hierdie geval bestaan die huwelik uit ‘n gemeenskaplike boedel en is beide partye mede – eienaars van alle bates waaroor hul beskik, maar is hul ook mede – aanspreeklik vir alle skuld van die gemeenskaplike boedel.

Die nadeel van hierdie huweliksgoederebedeling is die skuld aspek en die feit dat die partye mede – aanspreeklik is vir die skuld van die gemeenskaplike boedel. Byvoorbeeld: Een partye geniet ‘n stabiele werk en ‘n goeie vaste maandelikse salaris terwyl die ander party ‘n entrepreneur is met ‘n wisselvallige inkomste. Indien die entrepreneur se sakeonderneming, dan deel altwee partye in hierdie voordeel. Indien die entrepreneur se sakeonderneming misluk, en daartoe lei dat die besigheid gelikwideer moet word, dan sal beide partye ook gesekwestreer moet word en tot gevolg hê dat alle bates wat saam deur die partye opgebou was, deel sal vorm van die insolvente gemeenskaplike boedel.

Indien dit wel sou gebeur dat die partye skei, dan sal die bates en die laste / skulde gelykop tussen die partye verdeel moet word.

Buite Gemeenskap van Goedere met uitsluiting van die Aanwasbedeling:


Hierdie huweliksgoederebedeling is wat die gewone man/vrou op straat verstaan as “my goed is myne en jou goed is joune”.

Tydens die bestaan van die huwelik het elke party sy eie boedel en is daar dus nie een gemeenskaplike boedel nie, maar twee afsonderlike boedels. Elke party se bates soos bekom voor die huwelik en tydens die bestaan van die huwelik sal in sy/haar afsonderlike boedel val. Sou die partye se huwelik opeinding in ‘n Egskeiding, dan sal die een party nie geregtig wees op enige bate(s) van die ander party nie.

Die voordeel van hierdie huweliksgoederebedeling is dat die partye nie oor een weer vir mekaar se skulde verantwoordelik is nie. Dus, indien een partye ‘n stabiele werk het en ‘n goeie vaste maandelikse salaris verdien, en die ander party is ‘n entrepreneur met ‘n sakeonderneming en ‘n wisselvallige inkomste, en die sakeonderneming misluk, dan word slegs die entrepreneur se boedel hierdeur geraak en kan die entrepreneur se skuldeisers nie aan die ander party se boedel of inkomste raak nie.

Daar is wel ‘n nadeel aan hierdie opsie. Indien een party ‘n groot maandelikse inkomste verdien en ‘n groot boedel opbou, en die ander party ‘n kleiner boedel opbou as gevolg van beroepsopofferings ter wille van die huwelik, dan sal die persoon met die kleiner boedel baie slegter af wees in geval waar die huwelik opeindig in ‘n Egskeiding. Dit is dus belangrik dat elke party seker maak dat hul afsonderlike boedels goeie groei toon tydens die bestaan van die huwelik.

Buite Gemeenskap van Goedere met insluiting van die Aanwasbedeling:


Tydens die bestaan van die huwelik het elke party sy eie boedel en is daar dus nie een gemeenskaplike boedel nie, maar twee afsonderlike boedels. Elke party se bates soos bekom voor die huwelik en tydens die bestaan van die huwelik sal in sy/haar afsonderlike boedel val.

Sou die partye se huwelik uitloop op ‘n Egskeiding, dan moet die aanwas bereken word en moet die partye wie se boedel die grootste aanwas toon, die helfte van die verskil aan die ander party uitbetaal. Byvoorbeeld: Elke party begin die huwelik met ‘n boedel wat geen waarde het nie. Met egskeiding word die afsonderlike boedels se waardes bereken en die een party se boedelwaarde is R100 000.00 en die ander party se boedelwaarde is R50 000.00. Die verskil in waarde is R50 000.00 en die helfte daarvan is R25 000.00, dus moet die party met die grootste aanwas R25 000.00 aan die ander party betaal. Die een party se boedel sal dan wees R100 000.00 – R25 000.00 = R75 000.00 en die ander party se boedel sal dan wees R50 000.00 + R25 000.00 = R75 000.00 Altwee partye loop dus uit die huwelik met hul boedels in gelyke waarde.

Die doel en voordeel van die aanwasbedeling is dat die partye gelyk deel in die waarde van die bates soos saam opgebou tydens die bestaan van die huwelik.

Nog ‘n voordeel van hierdie huweliksgoederebedeling is dat die partye nie oor een weer vir mekaar se skulde verantwoordelik is nie.

Afsluiting:


Partye moet in gedagte hou dat ‘n Huweliksvoorwaardekontrak deur die partye, getuies en die Notaris onderteken moet word voor die troudatum, andersins is die partye outomaties binne gemeenskap van goedere getroud.

Indien die partye op ‘n latere stadium in die toekoms hul huweliksgoederebedeling wil verander, is dit ‘n duursame Hofproses wat gevolg moet word en in terme waarvan die Hof se toestemming bekom moet word hierin.

Hierdie artikel sit slegs in breë trekke die beginsels uiteen in terme van Huweliksvoorwaardekontrakte en is dit belangrik dat partye voldoende vooraf ‘n prokureur hierin gaan spreek vir volledigheid.

Kontakbesonderhede:


Kyk hier na Salòme Eilers Prokureurs se profiel op Mooi Troues Kontak Salòme Eilers Prokureurs per e-pos by info@sefamilylaw.co.za of telefonies by 082 798 1071.

Artikel Krediet: