Ian & Suné se pragtige Karoo troue

Ons hier by Mooi Troues deel met groot opwinding in die inskrywing met julle Ian en Suné se pragtige Karoo troue in die Oos-Kaap.  Hierdie paartjie se troudag vertoon hulle sagte en klassieke styl.  Die manier waarop die pienk dekor geïnkorporeer was is so uniek.  Tog weerspieël hierdie pragtige Karoo troue ook baie tradisionele trou elemente.

Suné deel goeie raad met ons lesers vir die beplan proses van ʼn troue, wat soms uitdagend kan wees.  Sy het onder andere met een van ons Mooi Troues bydraers, Bacht Design, gewerk wat vir haar fantastiese diens gebied het.  Bacht Design het gehelp met die ontwerp van skryfbehoeftes en ander elemente vir hul troudag.  Die diensverskaffer het werklik uit hul pad gegaan om die bruidspaar se stresvlakke te verminder.

Die troudekor was baie klassiek met die verskillende glas elemente en die drapering.  ʼn Sagte styl is geskep deur gebruik te maak van ʼn sagte pienk kleurskema in die blomme en dekor elemente.  Hulle was baie kreatief gewees met die blomme rangskikkings deur kleiner rangskikkings te doen, rangskikkings in antieke potte en ook blomme rangskikkings op pilare om hoogte te skep.

Rol af vir tonne trou inspirasie en om Ian en Suné se pragtige Karoo troue te geniet en hul liefdesverhaal te lees.

Paartjie se Liefdesreis:


Die begin …

Ons storie het omtrent ʼn vreemde draai gemaak. Ek het vir Ian ontmoet toe hy gr11 en ek gr10 was.  Hy was in ʼn Landbouskool op Cradock en daar kry elkeen die voorreg om ʼn bynaam te kry as hulle in gr8 is. Ian se bynaam was Chokka. Hulle skool het elke jaar ʼn gesins-naweek waar die gr8’s dan hulle bynaam ontvang.  My boetie was toevallig saam Ian in dieselfde graad en in dieselfde skool. Ian het aangestap na my toe en vir my gese:” Hallo my naam is Chokka, maar noem my sommer joune”.  Ek het aanvanklik gedink, dit is omtrent ʼn “vol van homself” mannetjie en ek stel glad nie belang nie dankie.

ʼn Paar jaar later …

ʼn Paar jaar het verby gegaan en in my matriek jaar het hy in Blomfontein kom werk en studeer.  Daar het hy toe ʼn meisie gehad wat toevallig saam my in dieselfde skool was en in dieselfde koshuis gang as ek gebly het.  Daar het ek met “Ian” te doen gekry en later agtergekom maar dit is mos die Chokka mannetjie, maar net so deur die venster beloer nog nie weer ontmoet nie.

Ek was op daardie stadium in ʼn verhouding.  My kêrel van daardie tyd het my een Sondagaand by die koshuis kom vertel dat dinge nie meer vir hom werk nie.  Ek het daar uit sy voertuig geklim en toe in Ian vasgeloop.  Dit is waar ons offisieel weer ontmoet het.  Alhoewel ons albei geweet het daar is ʼn vonk het dit baie ompraat en smeek gekos voor ek saam hom op ʼn afspraak was.  Hy het tot my een vriendin van ʼn ander skool genader om elke Woensdag voor ekstra klas my te probeer oorreed maar ek wou van niks weet nie.

Die eerste afspraak …

Na 6 maande se gesukkel het ek gesê, net 1 afspraak, dit is al en dan los almal my uit.  Min wetende dat ons vandag getroud sou wees, maar dalk het almal anders dit geweet!

Ons maak ʼn punt daarvan om elke jaar met ons herdenking bietjie saam weg te gaan. In November 2019 het ons besluit ons gaan bietjie Knysna toe, want dit is ʼn plek wat Ian self nog nooit by was nie.  Dit het my so lank gevat om hom te oorreed om net vir ʼn fotosessie te gaan.  Ons het in 3 jaar nog nooit fotos van ons saam laat neem nie.  Hy het ingestem, maar aangesien ek besig was met my finalejaar universiteitseksamen het hy die bespreking vir die fotosessie gedoen.  Hy en Michelle het omtrent agter my rug gekonkel en op die strand by Buffelsbaai het hy my gevra om te trou.  Ek onthou ek het lank net eers so vir hom gekyk, want ek kon nie glo hy wou rerig met my trou nie.

Die Verlowing Tydperk:


Ons was veronderstel om 24 Oktober 2020 te trou en sou dan 11 maande verloof gewees het.  As gevolg van KOVID-19 het ons besluit dat dit veiliger sou wees om die troue uit te stel na ʼn latere stadium.  Ons is wel getroud op 24 April 2021, so ons was 1 jaar en 5 maande verloof voor ons getrou het.  Absoluut die moeite werd!  Ons het begin uitgaan op die 28ste November 2016, verloof op 26 November 2019 en getroud op 24 April 2021.  Elke keer verskil die datum net met twee en dit is hoe ons geweet het ons moet net op ʼn naweek trou waar dit ook in die 20’s is.

Ek het my hele troue self beplan.  Daarom was die uitstel ook vir my ʼn groot verligting want teen Oktober 2020 sou ek nie alles betyds klaar gereël kon kry nie.  Gelukkig het ek ʼn pragtige vrou gehad, Nadia van “Bacht design”, wat vir my baie gehelp het met die ontwerp van sekere van ons elemente.  Sy het ook raad gegee deur ander bruide van vorige jare se moets en moenies met ons te deel.  Op die dag van die troue was daar ʼn wonderlike span mense wat seker gemaak het dat die troue perfek is en alles op hulle plek is.

Finansiële Aspekte:


Ons was baie geseënd deur ons wonderlike ouers wat vir ons ons perfekte dag te wou gee.  Daarom het ons nie ʼn vaste begroting gehad nie.

Ons het wel pryse by verskillende plekke gekry en pryse vergelyk om seker te maak dat ons die beste moontlike prys vat vir die kwaliteit wat ons in gedagte gehad het.  Ons het maar vir onsself besluit dat ons nie oor ʼn sekere bedrag wil betaal vir elke aspek van die troue nie en het probeer binne ons eie begroting vir elkeen te bly.

KOVID-19 se effek op pryse:

Dit het ons gelukkig goed reg gekry, maar omdat ons ʼn jaar later getrou het as beplan en as gevolg van KOVID-19 het baie plekke hulle pryse opgestoot en was ons op party plekke oor begroting.  Ons moes ongelukkig aanpas, maar ons het dit met liefde gedoen aangesien ons die veiligheid van ons familie en vriende eerste gestel het deur dit die eerste keer uit te stel.

Kry kwotasies:

Trou is baie duur, so kies jou verskaffers mooi.  Kry verskillende kwotasies en vergelyk die pryse met mekaar.  Ons het vir Nadia van Bacht Design gehad wat alles vir ons ontwerp het.  Sy het vir ons die beste moontlike pryse gekry het by haar verskaffers.  Dit het baie gehelp dat een persoon alles ontwerp het vir ons, van die “Onthou die datum”, die webwerf, die waterbotteltjies ens, want ons het letterlik net 1 dag gegaan om alles op te tel en dit het baie gehelp dat al die produkte op een plek was. Sy het ʼn groot las van ons skouers af gehaal en was altyd bereid om te help, al is dit 10h in die nag!

Aantal gaste onthaal:

Ons het in totaal 96 gaste gehad en dit was perfek gewees!

Die Besluitnemingsproses:


Ons familie en vriende het geen besluite gemaak nie.  Ek as die bruid het meeste van die besluite gemaak maar het dit eers met Ian bespreek voordat ons finaal daarop besluit het.  Dit was vir ons beter om al die besluite self te neem, want ons hoef net ons eie smaak in ag te neem en ons troue was regtig ʼn vingerafdruk van my en hom. So uniek aan ons, en so spesiaal.  Dit is natuurlik ook ʼn voorreg vir ons om in die posisie te kon wees om ons eie besluite te maak en dat daar minimale kere was waar ons familie en vriende se insette benodig het.

Vermaak:


Ons het ons platejoggie gevra om vir ons sommer musiek te verskaf by die vingeretes vooraf.  Die mense het hom omtrent gekomplimenteer met sy musiek smaak en keuses tydens die vingeretes, almal het gese dit het hulle lekker laat ontspan en almal kon gesellig kuier saam.

Ons het ook bier en gin gehad van Karoo Craft Breweries al die pad van Kaapstad. ʼn Familie lid was so gaaf om dit vir ons saam te bring en dit het uitstekend gewerk.  Die mense was gaande daaroor en kon nie uitgepraat raak oor hoe heerlik dit vir hulle was nie.  Was ook lekker om te weet ek ondersteun ʼn eg Suid Afrikaanse plek tydens ons troue.

Merkwaardigste Oomblikke:


Suné:

Vir my as die bruid, was die merkwaardige oomblik toe ek van die wittebrood suite af ry van bo teen die berg na onder.  Ek het geweet, maande se beplanning gaan alles nou binne ʼn paar uur afspeel.  Toe ek voor die Kerk stop het die venue se eienaar, haar hulpe, die bloemis ens op die stoep van die saal gesit en vir my toekyk.   Toe ek uitklim het ek vir hulle gewaai en geskree “And the crowd goes wild!” en hulle almal het geskree wooaahhhh en hulle hande in die lug gegooi!  Net daar het ek ontspan en geweet alles gaan okay wees en vandag is die perfekte dag om met my man te trou!  Toe ek by die kerk instap het Ian so gehuil ek het gewonder of hy my ooit kan sien, maar dit was baie lekker om te weet die oomblik is nou hier!

Ian:

Vir my as die bruidegom was die merkwaardigste oomblik toe Suné by die kerk instap.  Dit het alles so onwerklik gevoel.  Toe die kerk eers verby is kon ek eers mooi staan en kyk hoe pragtig my bruid lyk. Sy het omtrent soos ʼn sprokie gelyk.  Suné het ook ʼn stem opname vooraf gemaak wat gespeel het voor sy by die kerk ingestap het.  Daarin het sy haar wense vir ons huwelik uitgespreek en dit was vir my besonders spesiaal.  Toe huil ek eers!

Paartjie se styl:


Ons wou hê alles moes sag, klassiek en afgerond wees.

Die Trourok:

My trourok was iets waaroor ek lank gewonder het.  Ek het een dag saam my ma lap winkel toe gegaan sodat sy vir haar rok kan gaan lap koop.  Ek het daar die kant van my rok gesien toe ek opstap by die trappe.  Dadelik het ek geweet dit is my kant waarvoor ek al so lank wag.  Ek wou nie die oop rug effek hê nie.  Wou eerder ʼn bietjie detail op die rok hê, maar nie te veel nie.  Ek is nie rerig iemand vir ʼn besige rok nie.  ʼn Vol kant rok laat my omtrent soos ʼn ou tannie lyk.  My ouma se woorde aan my was, “Die rok lyk moeg my kind” en dit is waar ek geweet het ʼn vol kant rok is dalk nie my beste opsie nie.  Ouma’s jok nie sommer nie!

Die bruidegom se pak:

Vir Ian se pak het ons besluit op swart omdat dit altyd deftig lyk en gepas is vir ʼn formele okkasie.  Ons het ook vir ons gaste gevra om almal swart aan te trek omdat ons wou hê die pienk van die blomme moet uitstaan teenoor die swart van die gaste en die wit drapering van die saal.  Ons is ook groot teenstaanders vir jeans by ʼn troue, en daarom ook die besluit dat almal swart moet aantrek.

Die trouringe:

Vir my (Suné) was my trouring iets spesiaal en het ek geweet dat ek iets anders soek as die normale en iets wat baie te koop is in ʼn winkel.  Ek het presies vir Ian gese waarvan ek hou en hy was “Spot on!”  Ek wou ʼn ring hê waar dit nie nodig sou wees om pante by te sit nie want dit is mooi genoeg.

Ian het sommer self sy ring gaan uitkies.  Ek wou een laat maak het, maar het geweet dat in sy beroep gaan hy dit 90% van die keer nie dra nie.  Daarom het ons besluit dat ons sommer een gaan koop.

Gunsteling Diensverskaffers:


Daar is so ongelooflik baie! Almal!

Die venue:

Puik, uitstekend, merkwaardig, skoon, netjies en die lys gaan aan.  Sonder die venue kon ons nie ons sprokie troue gehad het nie.  So ek sal se hulle is ons gunsteling diensverskaffer en as ek kyk tot hoe laat die mense gedans het die volgende oggend, dink ek beslis dit was ons gaste sin ook.

Dan natuurlik alles van die blomme, die kos, die koeke, die fotograaf.  Almal het so ʼn groot rol gespeel in ons spesiale dag dat dit onmoontlik is om een te kies.  Hulle almal was puik!  Ons wou gehad het die mense moes lekker kuier en lekker eet en dit is presies wat gebeur het.  Die venue het ons naderhand gevra om te loop want hulle het eintlik al ʼn uur en ʼn half terug toe gemaak, maar die mense was nog nie uitgekuier nie en het daarna nog gaan vuur opsteek net vir die geselligheid.

Naweek pakket:

Ons was ook bevoorreg dat die venue vir ons ʼn naweek pakket aanbied.  Dit was ook een van die trekpleisters na die venue.  Ons kon al van die Donderdag af inboek en alles op hulle plek kry.  Die Vrydagaand het ons ʼn heerlike braai gehou, wat gehelp het dat die mense mekaar kon leer ken en mense wat van ver af gekom het vir ʼn ekstra aand saam ons kon kuier.  Dit was so spesiaal en ontspanne gewees.  Was presies soos ons dit beplan het en almal het dit vreeslik geniet.  Dit het ook bygedra tot die Saterdagaand want toe ken almal al mekaar en kon ons soos een groot familie saam gekuier het.

Die venue bied soveel meer as net ʼn trou venue.  Dit het werklik soos ʼn vakansie gevoel, soos huis gevoel in die moderne kamers wat toegerus is met yskaste, ketels, borde ens. Dit is ʼn juweel in die hartjie van die Oos Kaap en het BESLIS die mense met die grootste harte.

Spesiale Tradisies:


Ons het al die tradisies gehad van die bruidegom se toespraak, die ruiker wat gegooi word en die kousband.  Ek is glad nie iemand vir die kousband gooi tradisie nie en wou nie een dra nie. Daarom het ons besluit ons gaan ʼn verrassing in ons troue bring deur te te vervang met ʼn “”bloomer””!  Dit was ʼn treat!  Ons het op die “bloomer” laat print, “Great catch! You’re next!”  Die manne was dit glad nie te verwagte nie, maar dit was groot pret.  Dit was ʼn storie om dit vir Ian te gee, hy was natuurlik geblinddoek.  Een van my strooimeisies moes dit van agter my rok af vir hom aangegee het. Die man wat die “bloomer” gevang het was baie in sy noppies en het hom heel aand oor sy broek aangehad.

Vir die koek het ons besluit om ons elkeen se gunsteling koek daar te hê, ons het ʼn donker sjokolademousse koek gehad wat natuurlik Ian se gunsteling is en ʼn dekadente wortelkoek wat my gunsteling is!  Dit is ook ons manier om ʼn bietjie van onsself met ons gaste te deel.

Die ʼnie-so-perfek’ oomblikke:


Alles was so mooi en perfek ons sal niks wil verander nie.  Daar het eintlik niks verkeerd geloop op ons troue nie.

Eerste Dans:


Ons het inderdaad vir danslesse gegaan, want Ian het 5 linkervoete, glo my!  Ek het gesien ek gaan hom nie geleer kry nie so iemand anders sal maar moet.  Ons het by Dancesation in Blomfontein gaan aanklop vir lesse en dit was heerlik.  Dit was eintlik ʼn lekker aktiwiteit vir ons en die mense daar is so vriendelik en behulpsaam. Ons het mekaar leer ken op die dansvloer, van voor af. Dit was vir ons albei baie lekker gewees en hy het ʼn nuwe “vaardigheid” aangeleer.

Ons het besluit op Somerson van Appel. Die woorde in die liedjie “Jy is my somerson wat oor my sal waak al word ek oud en krom” het so baie vir ons beteken want dit is presies ons wens vir ons huwelik.  Om saam te wees tot ons oud en krom is en dat ons na mekaar sal kyk.  Vir mekaar sal omgee. Hy sing ook dat “my kwaad opgeskeur, by die deur uitgevee want vir jou sal ek veg”.  Dit is so goeie stelling vir ons in ons huwelik.  Om verby die kwaad te kyk, mekaar te vergewe as dinge swaar gaan en vir mekaar te baklei al voel dit of die hele wêreld teen ons is.

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Vir die dames:

Moet nooit jouself in die proses verloor nie. Almal gaan altyd iets te se hê, almal se smaak verskil en jy moet doen wat jy wil want dit is jou troue.  Moet nie te veel jou ore uitleen nie. Google is jou beste vriend en Pinterest kan soms vir jou ʼn onrealistiese prentjie skep van hoe dit werklik is. Onthou wat belangrik is en hou daarby.  Kies so 5 of 6 items wat vir jou ʼn MOET is vir jou troue.  Stel ʼn begroting vir elkeen op en maak seker dit is daar.  Dan weer 5 of 6 minder belangrike goed en weer 5 of 6 “Dalks”.  Dit maak die beplanning makliker want dan weet jy wat die meeste van jou tyd in beslag kan neem want dit is vir jou belangrik en die res is nie ʼn maak of breek nie.

Neem jou bruidegom in ag, hulle wil ook voel dat hulle deel is.  Hy moet ook vir jou se wat vir hom belangrik is.  Onthou ook dat julle uit twee verskillende families kom met verskillende tradisies en elkeen sin moet deel vorm van die troue want dit is julle dag.

Vir die bruidegom:

Help waar jy kan. Nie net die bruid hoef alles te doen nie.  Gaan saam na die venues toe, gaan saam na afsprake want dit is julle dag en jou bruid wil voel dat jy hulle ondersteun.  Kies gemaklike skoene want die dag kan lank raak.

Venue & Dekor:


Toe ek en Ian 1 jaar uitgegaan het, was ons oppad na Afrikaans is Groot vir ons 1 jaar herdenking.  In die verby gaan het ek ʼn trou venue raakgesien en vir Ian gese ek volg ʼn fotograaf wat hier fotos kom neem het vir ʼn troue en dit was stunning.  Dit was bloot net ʼn opmerking (of was dit….) grap sommer net.  Daar het Ian vir my gese as hy eendag met my trou gaan ons by Blomfontein trou op Cradock.  Ek het nie veel daarvan gemaak nie en baie water het intussen in die see geloop.

Toe ons verloof geraak het het hy dadelik gese ons moet gaan kyk na Blomfontein.  Oppad terug van dit vakansie af het ons Cradock om terug gery en die venue gaan besoek.  Net daar het ons geweet dit is waar ons wil trou. Nie net oor die venue so pragtig is nie, maar ook die mense daar.  Dit is hartsmense, mense wat nog omgee vir hulle medemens, mense wat jou aanvaar maak nie saak wat in jou bankrekening staan nie, mense met die grootste harte.  Ons het geweet, ons hoort hier!

Die troudekor:

Vir die dekor wou ons iets sag gehad het.  Die kleure van room, pienk en roosgoud het vir ons so mooi saam gelyk.  Ons wou gehad het die tafels moes in 4 rye gestaan het wat die kuier deel en dans deel van die saal geskei het.  Ons wou hoogte langs die kant skep en die meer eenvoudig hou in die middel en daarom het ons besluit om dit op staal rame te sit op die kante en dit het perfek uitgedraai.

Trou blomme:

Tannie Kobie tower met blomme en sy het seker gemaak dat dit perfek lyk.  Sy het ook help kies aan die servet houers op die tafels, en dit het die pienk so mooi gekomplimenteer.  Ons het ook vir glas gegaan wat skoonheid vir ons inbring en baie kerse om ʼn atmosfeer te skep.  Ons wou hê die mense moes lekker eet en lekker kuier met mekaar en dit is presies wat gebeur het.  Die dekor het alles weerspieël wie ek en Ian is.  Dit was so ʼn spesiale dag vir ons en van ons oogpunt en plek in die saal was dit prentjie mooi met al ons naaste familie en vriende wat voor ons sit.

Wittebrood:


Ongelukkig as gevolg van KOVID-19 19 het ons besluit om eerder nie op wittebrood te gaan nie.  Ons wou eers seker maak dat dit vir ons veilig sou wees om te reis en wou nie ons geld verloor soos baie ander paartjies nie.

KOVID 19 se uitwerking op jul troudag:


KOVID-19 het so ʼn groot rol gespeel. Die onsekerheid is daar tot die dag van die troue.  Ons was so gelukkig en baie geseënd dat geen van ons gaste KOVID-19 opgedoen het by ons troue nie.

Ons het wel gaste gehad wat moes kanselleer omdat hulle vroeër die week positief getoets het en nie ons troue kon bywoon nie.  Dit was ook maar swaar vir ons aangesien dit mense is wat ons so lanklaas in ons lewe gesien het.  Ons is dankbaar vir hulle eerlikheid.  Dat hulle ook aan ons en ons gaste gedink het.

Ons moes nie net ons datum met 6 maande aanskuif nie.  Ons moes ook redelik aan ons gastelys sny om seker te maak ons voldoen aan standaarde indien dit sou ingestel word.  Gelukkig met die tyd van ons troue, was daar nie ʼn strenger beperking ingestel op aantal mense nie. Ons het nogsteeds veilig gespeel.

Ons moes ook bietjie strenger met ons finansies werk as gevolg van die styging in jaarlikse prysverhogings.

Mooi Troues Diensverskaffers:

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: