Christo en Anezka se verlowing fotosessie met mintgroen en rustieke plaas sjarme was ’n harmonieuse samesmelting met ʼn kontemporêre styl. Geïnspireer deur die natuurlike skoonheid van hul omgewing, met ’n subtiele knipoog na Wes Anderson-estetika, het hierdie sessie ontwikkel in ’n ware visuele fees.
Die paartjie het gekies vir koördinerende mintgroen uitrustings wat pragtig gekontrasteer het met die ryk, aardse tone van die grondpad. Hierdie onkonvensionele venue, ’n eenvoudige plaaspad, het die perfekte agtergrond geskep vir ’n intieme en stylvolle piekniek op die grond. Die mintgroen skakerings het die lewendige, reëngevoede lande weerspieël, terwyl Christo se boerhart duidelik tuis gevoel het in die plaas omgewing.
Met elemente soos ’n oop boek gevul met blomme en ’n ringboksie wat op ’n houtplank geplaas is, was die dekor minimalisties maar betekenisvol. Hierdie deurdagte besonderhede het ’n gevoel van rustige luuksheid geskep sonder om die egtheid van die plaaslewe te verloor.
Moenie huiwer om onkonvensionele venues te oorweeg nie. Selfs iets so eenvoudig soos ’n grondpad kan met die regte beligting en dekor omskep word in ’n dromerige agtergrond. Die gebruik van kontrasterende kleure soos mintgroen teenoor aardse bruin skep visuele diepte en belangstelling. Piekniekstyl fotosessies bied boonop ’n ontspanne atmosfeer wat natuurlike, opregte interaksies tussen ’n paartjie aanmoedig.
Beplan julle ook ’n verlowing fotosessie wat julle unieke persoonlikheid weerspieël? Besoek Mooi Troues se trougids om die beste fotograwe te ontdek en inspirasie te kry om julle liefdesverhaal vas te vang.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:
Ons het per toevallig dieselfde jaar na matriek in Upington studeer, alhoewel ons van heeltemal verskillende plekke af kom. Tydens die oriëntasie moes ons vir ʼn week lank saam op die Oranje rivier in ʼn bootjie roei. En dis waar ons storie begin…
Ons was in ʼn verhouding vir drie jaar en 2 maande voordat hy die groot vraag gevra het.

Die groot vraag:
Op 16 Desember 2024, in Mauritius, het hy my laat middag uitgevat na ʼn naasgeleë restaurant se “jetty” en op een knieg gegaan met die mooiste sonsak in die agtergrond.
Dit was totaal en al ʼn verassing! Christo se gesin was betrokke asook die toer groep se mense. Almal het bygedra om dit ʼn baie spesiale oomblik te maak.

Hoekom ons mekaar liefhet:
My gunsteling eienskappe van Christo is dat hy altyd hard werk en meer doen as wat mense verwag. Hy is ook baie snaaks en altyd vriendelik met almal.
Christo se gunsteling eienskappe van my is dat ek ʼn omgee hart het en altyd ander mense voor myself ag. Christo sê ek kan ook lekker kos kook.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:
Ons beplan om vir een jaar, nege maande en 15 dae verloof te wees. Ons het klaar ons trou datum gekies en sien baie uit vir die laaste paar maande wat oor is.

Die verloofring:
Dit was definitief ʼn verassing vir my! Christo het self die ring ontwerp en die ontwerp op ʼn papier geteken. Hy het toe die ontwerp na ʼn juwelier toe gevat en die ring laat maak. Hy is baie kreatief!
Die ring het ʼn Rose Gold band met 3 diamante. Pragtig.

Rede vir die verlowing fotosessie:
Ons wou graag ons fotograaf leer ken en hulle het ʼn baie positiewe indruk op ons gehad. Hulle het ons harte gerus gestel dat op ons trou dag sal die fotos perfek wees. Ons wou ook die verlowing fotosessie se fotos gebruik vir ons uitnodigings.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:
Christo is ʼn boertjie en hy is in sy element op die plaas. Ons het die wonderlike geleentheid gekry om op die plaas in die lande fotos te kon neem. Ons area het baie reënval gehad en die lande was perfek groen en lewendig.
Sekere van ons fotos is gebaseer op Wes Anderson films, wat die prag van simmetrie en rustigheid uitbeeld.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :
Ons wil die verlowing net geniet en tyd saam spandeer. Ons het gelukkig vroeg begin beplan aan die troue so al ons beplanning is basies klaar gedoen. Die grootse vrees is dat die mense wat belangrik is vir ons nie die troue kan bywoon nie, maar ons weet almal gaan hulle bes gee om die troue by te woon.

Visie vir droomtroue:
Ons het van die begin af geweet ons wil ʼn venue gebruik wat natuur weerspieël en The Greehouse Café @ Rosemary Hill is perfek vir ons visie. Die droom is ’n klein, intieme troue met maksimum 50 gaste, net naaste familie en vriende. Ons troue moet ʼn jol wees, die ouer mense moet weer jonk voel en die jonger mense moet weer soos kinders voel. Ons fantastiese venue het ʼn koördineerder ingesluit, maar meeste van die beplanning doen ons self. Die tema is elegant en skoon…minimalisties in sekere opsigte. Die hele troue gaan oor die tyd wat ons saam met ons geliefdes kan spandeer as twee mense wat een heel wese word.

- Fotograaf: Sammy Gray Photography | Kontak
- Fotosessie Ligging: Privaat Plaas
- Verloofring: Sedgers, Vereeniging
