Monré & Lo-Mari se Veelsydige Verlowing Fotosessie in Pretoria

Monré en Lo-Mari het hul verlowing gevier met ’n pragtige fotosessie in Pretoria, by ’n ligging wat hul liefde vir die bosveld en natuur perfek weerspieël. Vir hierdie paartjie was die fotosessie ’n belangrike deel van hul troubeplanning. Dit het hulle die geleentheid gebied het om hul fotograaf voor die groot dag te ontmoet en gemaklik voor die lens te raak. Boonop kon hulle die pragtige foto’s ook vir hul trou uitnodigings gebruik.

Die paartjie het slim gebruik gemaak van twee verskillende uitrustings om uiteenlopende atmosfeer in hul foto’s vas te vang. Hul eerste keuse was formele swart uitrustings. Teen die rustieke agtergrond van die venue, met sy klipmure en welige groenigheid, het hierdie klassieke styl ’n gevoel van tydlose elegansie en dramatiese romanse geskep.

Vir die tweede deel van hul fotosessie het hulle oorgeskakel na bypassende wit hemde met denim. Hierdie voorkoms het ’n ligte, ontspanne atmosfeer geskep, perfek vir die sagte goue-uur lig tussen die lang gras. Dit het hul natuurlike en plat-op-die-aarde persoonlikhede op ’n egte manier na vore gebring.

Monré en Lo-Mari se verlowing fotosessie dien as inspirasie vir paartjies wat op soek is na ’n betekenisvolle en veelsydige manier om hul verlowing te vier. Besoek gerus Mooi Troues se aanlyn trougids om die perfekte fotograaf en venue te vind wat julle unieke liefdesverhaal op ’n onvergeetlike manier kan vasvang.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het in Maart 2023 by Alberton Lewensentrum ontmoet, net nadat ek daar as ʼn jeugpastoor aangesluit het. Eers was ons vir ʼn lang ruk goeie vriende voordat dinge begin ernstiger geraak het. Ons passie vir die Here het ons toegelaat om ons harte openlik met mekaar te deel en so het ons liefde vir mekaar gegroei. Ons was vir net onder 11 maande saam voordat ons verloof geraak het op 6 Desember 2025.

Die groot vraag:


Ons het op 6 Desember 2025 verloof geraak tydens ’n naweek by Beka Idube naby Dinokeng. Ons het die oggend rustig begin en was toe uit vir die dag in die wildtuin. Daarna het ek in die rustigheid van die bosveld op my knie gegaan. Al het sy geweet die verlowing is op die horison, was die oomblik steeds ’n verrassing. Haar broer en sy vrou was daar om dit saam met ons te vier.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Monré:

Iets wat van die begin vir my uitgestaan het is die omgee hart wat sy het vir mense. Maak nie saak wat gebeur in die lewe nie sy vind altyd ʼn manier om sterker uit te kom aan die ander kant.

Lo-Mari:

My gunsteling eienskap van Monré is sy passie vie die Here, sy sagte liefdevolle oë en sy aanloklike grapperigheid. Kyk, daar is niemand wat my so laat lag soos wat hy doen nie. Hy is net iets besonders.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


So ongeveer 8 maande, ons trou op die 25ste Julie 2026.

Die verloofring:


Die verloofring was ʼn verassing, het ek deur Vawda Goldgem laat maak volgens die styl waarvan sy hou. Eenvoudig maar elegant met die diamant wat mooi uitstaan.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons inspirasie vir die fotosessie was iets natuurlik en ontspanne wat by ons albei se liefde vir die bosveld pas en Champagne Living het vir ons dit weerspieël.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk:


Ons sien die verlowingstydperk as ʼn baie spesiale seisoen waar ons die troue kan beplan, maar ook doelbewus kan voorberei vir ons huwelik. Ons verwag dat dit ʼn tyd van groot opgewondenheid en nuwe ervarings gaan wees, terwyl ons saam besluite neem oor ons toekoms en die lewe wat ons saam wil bou.

Die grootste fokus is egter om mekaar te ondersteun en te onthou dat hierdie tyd nie net oor die troue gaan nie, maar om hierdie tydperk ten volle te geniet en met dankbaarheid end verwagting uit te sien na die begin van ons nuwe lewe saam.

Visie vir droomtroue:


Ons gaan nie van ’n troubeplanner gebruik maak nie, maar sien dit as iets besonders om self saam te beplan. Ons droomtroue is intiem, stylvol en vol liefde. ʼn Dag waar ons saam met familie en hartsvriende kan vier wat vir ons die meeste beteken. Vir ons groot dag het ons The Barn @ Redstone in Harties gekies. Die venue het van die eerste oomblik af soos “ons” gevoel. Ons droom van ’n warm, sagte atmosfeer met ligte en mooi detail en beplan vir ongeveer 90–100 gaste om hierdie spesiale dag saam met ons te deel.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: