Hennie & Cherné se troudag

ʼn Spesiale foto vir ons was dié van Hennie wat sjiek lyk voor die kansel in ʼn pak van Eurosuit met oë vol emosie toe hy sy pragtige bruid Cherné in die trougang sien afloop.  Nog ʼn item wat vir ons uitgestaan het was die hout-kissie waarin die bottel brandewyn as geskenk vir Hennie en die manne gegee is.  Bruidegomme kan ʼn spesiale boodskap graveer en persoonlik maak en as geskenk  aan elk van hul strooijonkers gee.  Moenie verder tyd mors nie, rol af en geniet die paartjies se troufoto’s.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


10 Maart 2018, Hennie was 33 en Cherné 27 jaar oud.

 Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ons het mekaar ontmoet by my (Cheré) se broer troue in Bloemfontein 16 Mei 2015, ons het dadelik grappies gemaak oor en weer en lekker saam gedans en dit was die begin van n fantastiese vriendskap

Hoe het julle verloof geraak?


Hennie het altyd gegrap en gesê hy gaan op ʼn Woensdag vra om te trou.  Ek het natuurlik nie gedink dit sal so gebeur nie!  Hennie het my die oggend van die 31ste Mei 2017 half 4 met tee wakker gemaak.  Hy was té opgewonde so hy kon nie meer slaap nie. Hy het gesê maar liefie dit is Woensdag – ek het natuurlik nie verstaan wat dit beteken daai tyd van die oggend nie.  In die donker staan die man sowaar langs die bed op sy knie en vra of ek met hom sal trou.  My eerste reaksie was “Jy grap seker” en hy sê: “Nee liefie sit die lig aan ek staan op my knee met die ring in my hand.”  Ek was so opgewonde en gelukkig! Die res van die dag het hy my bederf met lekker ontbyt en baie geskenkies. Dit was die beste dag!

Wat was vir jul die merkwaardigste oomblik van dié dag?


Vir ons altwee was dit die oomblik toe die deure oop maak by die kerk en ons sien mekaar.  Ek het nog nooit so oorweldig gevoel in my lewe nie.  Ons moes altwee baie diep sluk aan trane al wat ek vir myself gesê het was ek moet net nie my grimering af huil nie.  Ek kan eerlik se ons sal niks wil verander van die troue nie.  Van die oggend tot die aand was alles net perfek.

Vertel ons meer oor jul ringe?


My ring het ons saam gekies en gereël vir die laat maak deur n vriendin se juwelier ek het natuurlik eers die finale produk gesien toe hy dit aan my vinger sit, met ʼn verassing “love you lots” aan die binne kant.  Hennie se ring het ons by Unbreakable man bestel, dit is ʼn slangsteen ring die donker grys een hy wou nie n snaakse ring hê nie.

Vertel ons meer van jul fotograaf?


Ons fotograaf het oor die jare soos familie geraak sy het al die groot dinge vasgevang vir ons.  Sy is ʼn wonderlike mens met ʼn hart van goud, sy het ons altwee so gemaklik laat voel en met gemak ons fotosessie baie lekker gemaak, mens kan nie verkeerd gaan met Tania Allen nie.  Ons het nie n videograaf ingesluit nie.

Hoe het julle besluit op jul trou venue?


Ons wou graag ʼn venue kies wat by ons idee van die dekor gepas het.  Hulle het pragtige kandelare in die kapel en in die saal so dit het beteken nie te veel is nodig om dit nog beter te maak nie.  Ons kom van Pretoria so het ook iemand nodig gehad wat ons kan help met die beplanning Jean Marie van Monte Bello Estate was die grootste engel vir my sy het gehelp waar sy moontlik kon en ons lekker bederf met koffie en eet goedjies vir die familie wat gehelp het met die blomme die dag voor die troue.

Wat was die inspirasie vir jul troue se dekor?


Ons is altwee lief vir skoon lyne toe besluit ons op so min as moontlik ek is natuurlik ʼn blinkertjie bewonderaar so dit moes verseker verskyn.  Die rose wat ons op die troue gebruik het was my ouma se gunsteling roos en ons het gedink dit is ʼn mooi manier om haar te onthou by die troue.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


My ouers het betaal vir die troue en my pa het nie regtig ʼn vaste begroting vir ons gegee nie, maar ek en my ma het meeste van die beplanning gedoen en het probeer spaar waar ons kan en nie onnodig geld spandeer nie.  Die totale koste van die troue was R120 000

Het julle advies aan paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


My advies vir ander bruide is om te onthou dat al wat saak maak is  jy en jou toekomstige man, elke persoon probeer jou vertel wat om te doen.  Bly by jou eerste keuse sodra mens begin kyk na ander goed raak mens deurmekaar.  By die troue self vat n oomblik saam jou man en neem in wat om jou gebeur geniet die oomblik dit gaan so vinnig verby, en dans so veel as wat julle moontlik kan.

Was julle op Wittebrood?


Ons het die Maandag na die troue na Mauritius gevlieg.  Dit was my eerste keer uit Suid-Afrika so elke oomblik was ʼn belewenis vir my.  Ons het 10 dae daar spandeer.  Dit was verseker die beste vakansie ooit

Klik hier vir diensverskaffers