Vandag deel ons ‘n besonderse oulike paartjie se verlowing fotosessie met jul. Nardus en Kara se verlowing sessie was by Boulder’s Beach gehou waar Pikkewyne vrylik rondloop en ook vir ‘n foto op 2 gestaan het. Clarita Smit het Kara se hare en grimering vir die dag stileer. Geniet dié paartjie se foto’s en storie.
Hoe het julle die eerste keer ontmoet?
Ek en my verloofde, Nardus, het in 2005 ontmoet toe ons albei nog in die skool was. Ons het altwee deelgeneem aan iets wat min mense ken, naamlik Jeug skou. Ons was baie skaam vir mekaar, maar die vriendskap het begin. Teen 2006 was ons beste vriende en het alles met mekaar gedeel. Dit was nie ‘n gewonde vriendskap nie. Teen 2007 het ons toe begin uitgaan. Baie skaam en baie vreemd, maar na baie min maande het ons besef en geweet wat regte liefde is. Na twee jaar het ons paadjie begin moeilik raak, en ons het besluit om eerder ons eie gang te gaan. Ons het vir twee jaar geen kontak gehad nie, tot een dag in 2010 toe ek ‘n onverwagse SMS van Nardus af kry waarin hy vra of hy vir ons kan kom kuier. Hy het gekom en ons het gesels en gelag soos in die oud dae. Al die gevoelens het terug gekom. Na ‘n maand het ons dit weer Facebook offisieel gemaak. Ons skool liefde het nooit vergaan nie en ons het besef dat sonder mekaar is ons eensaam en leeg. Ons is vandag al 5 maande verloof, en kan nie wag vir ons spesiale dag nie!
Hoe het julle verloof geraak?
Dit was die Donderdag voor ek weer met klas begin het. Nardus het gesê ons moet die Vrydagaand by Die Damhuis in Melkbos strand gaan eet sodat ons ons finale jaar met ‘n lekker ete kan begin. Die Vrydag oggend het ek besef dat ons ALWEER ons “anniversary” vergeet het. Hy gee toe die idee dat ons sommer dan ‘n bottel wyn op die strand met sononder moet gaan drink, voor ons ete bespreking, vir die herdenking. Ons het in Melkbos aan gekom, ‘n lekker plekkie gekry en gekyk hoe die surfersdie branders geniet en hoe die son die dag groet. Hy het sy selfoon in die kar gaan haal om dit af te neem terwyl ek die water gaan voel het. Toe ek weer by ons piekniek plekkie kom was dit amper tyd om te gaan. Hy het my gestop en gesê, “Kari, ek het vir jou ‘n verassing gebring, maar jy moet opstaan daarvoor”. Ek het op gespring, want ek het gedink my beste vriendin wat al in Grahamstad moes wees het haar planne verander en weer kom groet. Toe ek af kyk was hy op sy knee en het hy vir my gesê, “Kara Kotzé, sal jy asseblief met my trou?”
Wanneer beplan julle om te trou?
Ons troue is die 19de Desember 2015 by Murasie. Dit is ongeveer so 13km buite Gansbaai op ‘n plaas. Ons seremonie is onder ‘n groot groen boom en dan hou ons vir die res van die aand partytjie in ‘n groot wit tent wat uitkyk oor ‘n groot dam.
Diensverskaffers:
- Plek: Boulders Beach
- Hare en Grimering: Clarita Smit
- Blomme kransie: Kadou
- Fotograaf: Moira West
- Rok: YDE