Meyer & Ronel se Natuurlike & Romantiese Verlowing Fotosessie in Clarens

Meyer en Ronel se verlowing fotosessie in Clarens vier liefde, eenvoud en opregte oomblikke. Teen die Vrystaatse berge en goudgeel grasvelde vorm ’n pragtige agtergrond, terwyl die paartjie ’n warm, intieme geluk uitstraal. Die natuur en hul verbintenis pas perfek by mekaar.

Die verloofring dra ’n diep betekenis. Ronel se ma is in 2016 in ’n motorongeluk oorlede. Sy het nog altyd gewens om iets van haar ma naby haar te hou. Meyer het in die geheim toestemming by haar pa gevra om die diamant uit haar ma se trouring in die nuwe ring te gebruik. Dit maak die ring nie net ’n simbool van liefde nie, maar ook van herinnering, familie en nalatenskap.

Die paartjie wou tydens die fotosessie net hulself wees, sonder geforseerde poses. Hul fotograaf het hulle gemaklik laat voel, wat die natuurlike oomblikke mooi vasgevang het. Clarens is gekies omdat dit naby Ronel se grootwordplek is en vir haar ’n gevoel van nostalgie en tuiskoms bring.

Ronel het ’n elegante, vloeiende wit rok met skouerbandjies gedra en Meyer ’n klassieke wit hemp met ’n beige broek. Hul styl het perfek by die rustige landskap gepas.

Hierdie verlowing fotosessie bied inspirasie vir paartjies wat iets unieks soek. Natuurlike skoonheid en opregte emosie speel hier die hoofrol. Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids om diensverskaffers te vind wat kan help om sulke kosbare herinneringe vir altyd vas te vang.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het in 2023 by die universiteit ontmoet. Dit was ’n doodgewone Dinsdagaand ná koshuisrugby, die aand waarop ons paaie vir die eerste keer gekruis het. Ons het toevallig langs mekaar ingeskuif. Sonder om veel daarvan te dink, het ek na Meyer se boerskoene gekyk en begin praat oor boerdery, want waaroor anders gesels jy met ’n wildvreemde? Iets aan daardie eerste gesprek het egter dadelik reg gevoel. Albei van ons het daardie aand geweet dat ons paaie meer kompleks sou raak as net ’n vriendskap.

Van daar af het ons elke dag planne gemaak om mekaar te sien vir koffie by Roosmaryn of ’n roomys op kampus. Wat as ’n toevallige ontmoeting begin het, het vinnig in iets besonders ontwikkel.

Ons het in November 2023 amptelik begin uitgaan.

Die groot vraag:


Ons het lank gesels en saam gebid oor verloof raak, maar ek wou nooit weet wanneer daardie oomblik sou aanbreek nie. Ek wou net hê dit moes ons eie, spesiale verrassing wees.

Op 13 Februarie 2026 het ek van Potchefstroom af na Meyer toe gery. Wat oorspronklik soos ’n sonnige dag gelyk het, het stadig verander in ’n reënerige, grys middag. Ek het glad nie vermoed wat sou gebeur nie. Meyer was daardie oggend vreeslik op sy senuwees, die groet was ongemaklik stil en hy kon skaars vir my kyk.

Terwyl ons gewag het vir die reën om op te hou, het Meyer sy boetie en skoonsussie ingespan om alles reg te kry. Teen daardie tyd het hy besluit: reën of nie reën nie, hy gaan nie langer wag nie.

Later het hy my gevra of ek nie saam met hom wil gaan kyk hoe die lande ná die reën lyk nie. Ons het toe na ’n klein dammetjie gery, waar alles onverwags perfek gevoel het die sagte reën, die stilte en die oomblik wat net aan ons behoort het.

Daar, langs die dam, het Meyer op een knie afgesak en my gevra om met hom te trou.

Hoekom ons mekaar liefhet:


Ronel oor Meyer:

Sy opregtheid, sagte hart en die manier waarop hy my altyd veilig en geliefd laat voel.

Meyer oor Ronel:

Haar liefdevolle geaardheid, spontane persoonlikheid en die manier waarop sy lig en vreugde bring waar sy ook al gaan.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons beplan om 9 maande verloof te wees.

Die verloofring:


My verloofring dra vir my ongelooflik baie betekenis.

In 2016 het ek my ma in ’n motorongeluk verloor. Sedertdien was dit nog altyd my wens om iets van haar naby aan my te dra. Toe Meyer vir my pa toestemming vra om met my te trou, het hy hom ook iets besonders gevra. Hy wou weet of hy die diamant uit my ma se trouring vir my verloofring mag gebruik. My pa het ja gesê.

Ek het vir Meyer idees gestuur van hoe ek graag die ring wou hê. Ek was egter heeltemal onbewus van die besondere detail wat hy reeds beplan het. In die geheim het hy die ring laat maak. My ma se diamant sou die middelpunt daarvan wees.

Vandag dra my verloofring nie net die liefde van die man met wie ek my lewe gaan deel nie. Dit dra ook ’n stukkie van my ma altyd saam met my. Vir my is dit ’n kosbare herinnering aan liefde en familie. Dit herinner my ook aan die mense wat vir altyd deel van ons storie sal wees.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons het ‘n verlowing fotosessie laat doen omdat hierdie tydperk regtig vir ons spesiaal is, ons is in ‘n middelpunt vas gevang van net ons. Hierdie fotos gaan ons natuurlik in ons huis hang om ons altyd te herrinner aan hierdie spesiale tyd.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons inspirasie vir die fotosessie was eenvoud, gemaklikheid en om net onsself te wees. Ons wou hê die foto’s moes eg voel. Nie te geposeerd of geforseerd nie, maar ’n ware weerspieëling van wie ons saam is.

Meyer is nie altyd die grootste aanhanger van foto’s nie, omdat dit hom soms ongemaklik laat voel, maar ons fotograaf, Jana, was werklik ongelooflik. Sy het ’n manier gehad om ons onmiddellik op ons gemak te laat voel en elke oomblik natuurlik en spontaan vas te vang.

Ons het besluit om die fotosessie in Clarens te doen, omdat dit naby aan my grootwordplek is en vir my baie spesiaal is. Dit voel soos ’n stukkie huis en herinner my aan waar ek vandaan kom. Om daardie herinneringe nou vasgevang te hê, is besonders — iets wat ek eendag in ons huis in Pretoria sal kan ophang om my altyd te herinner aan my eie stukkie huis.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons grootste verwagting vir die verlowing tydperk is om elke oomblik saam te geniet, van die groot mylpale tot die klein, alledaagse oomblikke tussenin. Een van die dinge waarna ons veral uitsien, is om saam ’n troue te beplan wat regtig soos óns voel. Nog belangriker is egter die voorbereiding op die lewe wat ná die troue wag.

Hierdie tyd gee ons die geleentheid om nog nader aan mekaar te groei, meer oor mekaar te leer en elke nuwe seisoen saam met dankbaarheid aan te pak. Ons wil die verlowing geniet vir alles wat dit is, terwyl ons uitsien na die lewe wat ons saam gaan bou.

Natuurlik bring ’n verlowingstydperk ook onsekerhede en vrese saam. Die grootste daarvan is waarskynlik die druk en stres wat soms met troubeplanning gepaardgaan en die vrees om só vasgevang te raak in die detail dat mens vergeet waaroor dit eintlik gaan.

Maar bo alles vertrou ons dat, solank ons mekaar kies, in die groot én klein oomblikke, hierdie tydperk net nog ’n mooi hoofstuk van ons verhaal saam sal wees.

Visie vir droomtroue:


Ons droomtroue is iets wat elegant en tydloos voel, maar terselfdertyd warm, opreg en vol lewe is. Vir ons gaan die dag nie net oor mooi dekor en detail nie, maar oor die mense saam met wie ons dit vier en die herinneringe wat geskep word.

Ons droom van ’n groot troue. ’n Dag waar al ons familie en vriende saam kan wees, lekker kan kuier, dans en elke oomblik saam met ons geniet. Ons wil hê daar moet ’n atmosfeer wees van vreugde, liefde en feesviering, waar mense gemaklik voel en werklik deel raak van ons storie.

Verkykerskop voel vir ons soos die perfekte plek vir daardie droom. Die natuurskoon, die rustige atmosfeer en die gevoel van die platteland pas perfek by die tipe troue wat ons nog altyd in gedagte gehad het.

Die styl waarna ons neig is modern-elegant, met wit, donkergroen en beige kleure, sagte blomme, kerse en ’n skoon, tydlose gevoel. Ons wil hê alles moet mooi en verfyn wees, maar steeds natuurlik en gemaklik voel.

Ons grootste wens vir die dag is eenvoudig dat mense die tyd saam met ons sal geniet. Dat daar gelag, gedans en mooi herinneringe gemaak sal word wat nog lank ná die troue onthou sal word.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: