Francois en Alicia se troudag in die Vrystaat was die perfekte balans tussen kontemporêre elegansie en dromerige romantiek. Met ’n treffende kleurskema van swart, gekombineer met ryk skakerings van rooi, oranje en pienk, het die paartjie ’n warm, diep en onvergeetlike atmosfeer geskep wat hul unieke styl perfek weerspieël.
Alicia se trourok was ’n ware meesterstuk van verfynde handwerk. Die sagte wit fit-and-flare-silhoeët van minimalistiese crêpe-stof het haar figuur pragtig beklemtoon voordat dit in ’n elegante sleep uitgevloei het. Besonderhede soos ’n diep V-halslyn, ’n hoë spleet, deurskynende pofmoue met fyn blom- en kralewerk, asook ’n dramatiese oop rug, afgewerk met ’n tule-strik, het gesorg vir ’n tydlose dog moderne bruidstyl.
Die stylvolle troudekor het ’n kontemporêre en luukse gevoel na die venue gebring. Dramatiese swart draperings teen die plafon, swart stoele en swart eetgerei is pragtig gebalanseer met helder, romantiese blomstukke op die houttafels. Kerse in glasbuise en vonkelende liggies het ’n gesellige, romantiese atmosfeer geskep, terwyl die bruidsgevolg en ’n klassieke rooi vintage-motor die prentjie vervolledig het.
Rol af en geniet Francois en Alicia se foto’s. Hierdie stylvolle troue bied volop trou inspirasie en kreatiewe trou-idees vir bruide wat op soek is na ’n moderne, elegante styl vol onvergeetlike oomblikke.

Trourok:
Ek het ‘n rok op Pinterest gesien en geen rok wat ek aangepas het by boutiques kon daai verwagting van my oortref nie. Toe besluit ek om een te laat maak. My visie was ’n rok wat modern en tydloos is, met sagte, romantiese besonderhede. Ek het ’n sagte wit fit-and-flare trourok gekies wat my figuur mooi beklemtoon het voordat dit elegant uitgeklok het in ’n sagte sleep.
Die minimalistiese crêpe-romp is gekombineer met ’n diep V-halslyn, ’n elegante slit en deurskynende pofmoue. Met blom- en kralewerk op die lyfie en moue wat met die hand aangebring, het die rok ’n unieke en luukse afwerking gegee. Die dramatiese oop rug, afgewerk met ’n groot tule-strik, was die detail wat die rok werklik besonders gemaak het. Die sagte wit kleur, verfynde handwerk en moderne silhoeët het die perfekte balans tussen klassieke elegansie en romantiek geskep. Presies waarna ek gesoek het.

Verloof- en Trouringe:
Alicia se verloof ring is ‘n 18kt geel goud ring met ‘n ronde moissanite met vyf klein moissanite steentjies langs elke kant. Die troupant is ook 18kt geel goud met klomp klein moissanite steentjies. Dit vat die vorm aan van die verloof ring.
Francois se troupant is ‘n gunmetal met twee channels in, waarvan daar antler in die een channel is en shavings van een van sy eie .308 doppies in die ander een. Hy love jag en ek het gedink dit sal spesiaal wees om dit in sy ring in te bring.

Paartjie se Verlowing:
In Desember 2022 het Francois en Alicia saam met Francois se broer en sy meisie op pad see toe vertrek. Maar voor hulle die lang pad aanpak, het hulle besluit om eers by familie in Worcester oor te slaap. Wat vir Alicia soos ’n spontane stop gelyk het, was eintlik die begin van iets baie spesiaal.
Sy’t voorgestel hulle doen iets lekker soos wynproe, maar Francois het hardnekkig vasgehou: hulle moet wag vir sy tannie Clarize en oom Andre om van dorp af terug te kom. Kort voor lank was almal by die huis, en hulle het voorgestel om op te ry berg toe — hulle moes mos darem die uitsig sien. Almal in die bakkie, en op met Jonaskop!
Wat Francois dalk nie heeltemal deurgedink het nie, is dat Alicia hoogtevrees het. Maar sy’t dapper saam gegaan. Ná ’n rit vol kronkels en gelag, het hulle op ’n punt gestop en die laaste steil stukkie te voet aangepak. Bo aangekom, met blou lug en berge wat wyd en syd strek, het Francois haar nader geroep om “iets te kom kyk.”
Sy’t gewonder wat sy moes sien — tot sy omdraai en hom op een knie voor haar sien. Op die piek van Jonaskop het hy die belangrike vraag gevra. En sonder om twee keer te dink, het sy ja gesê.

Trou Dekor en Styl:
Ons het ’n moderne, elegante troue met ’n romantiese aanslag beplan. Die kleurskema het uit swart, skakerings van rooi, oranje en pienk bestaan, wat warmte en diepte aan die dag gegee het.

Trou Begroting en Beplanning:
Hulle het self die troue vir 80 gaste beplan met ’n begroting van R150 000 oor ’n tydperk van 12 maande.

- Fotograaf: Reflective Photography | Kontak
- Venue: Marieko Landgoed | Kontak
- Blomme: Flourish | Kontak
- Bruidegom-pak: Vileste Couture | Kontak
- Dekor: Flourish | Kontak
- Beligting: The Lighticle| Kontak
- Grimering: Bernny @ MUD Bloemfontein | Kontak
- Hare: Andre Ehlers – Hair@21 | Kontak
- Huurdienste: DecoTable en Simply Tents
- Juweliersware: Carlize B Jewellery | Kontak
- Platejoggie: Margaret Witfield – DJ Magpie | Kontak
- Skoene: Shein
- Strooimeisie-rokke: Gelique Couture | Kontak
- Tente: Simply tents | Kontak
- Trourok: Marelize Pienaar | Kontak
- Bruid se Trouring: Shiny Rock Polished
- Bruidegom se Trouring: Touchwood | Kontak
