Neil & Xanya se Kleurvolle Mediterreense Strand Troue op die Tuinroete

Neil en Xanya se troudag op die Tuinroete was ’n beeldskone viering van liefde, kleur en intieme geselligheid. Met ’n dromerige strand seremonie en ’n Mediterreens-geïnspireerde tema het die paartjie ’n lewendige, maar tydlose atmosfeer geskep wat hul unieke persoonlikhede perfek weerspieël.

Xanya se pragtige trourok het onmiddellik die oog gevang. Die vol A-lyn-silhoeët van weelderige Dutchess-satyn is verryk met ’n kaskade van kleurvolle, geborduurde blomappliekwerk wat van die lyfie afwaarts vloei. Fyn, handgewerkte pêrels op die rok en haar bypassende kopkrans het ’n verfynde en elegante afwerking geskep, met net die regte hoeveelheid speelse energie. Neil het besonder stylvol gelyk in sy vlootblou pak, gekombineer met ’n ryk rooi das en ’n kleurvolle borsruiker wat die blomtema pragtig aangevul het.

Die stylvolle troudekor het die natuurskoon van die kuslyn verder beklemtoon. ’n Slim balans tussen skoon lyne en lewendige kleure het tradisionele blou-en-wit potte met trosse warm pienk, oranje, geel en rooi blomme gekombineer. Natuurlike tafeldoeke, geweefde onderborde en hoë kerse het ’n warm en uitnodigende gevoel na die elegante venue gebring.

Hierdie unieke trou konsep bied oorgenoeg trou inspirasie en kreatiewe idees vir bruide wat droom van ’n kleurvolle, romantiese strand troue vol onvergeetlike oomblikke. Rol nou af om meer van Neil en Xanya se pragtige troudag te ontdek.

Trourok:


My trourok, ontwerp deur Stanley Baptiste, is spesiaal vir my gemaak en vang my persoonlikheid op ’n manier wat my van die eerste oomblik af soos ‘n prinses laat voel het. Die sagte scoop neckline, korset lyfie en moulose afwerking skep ’n moderne, elegante lyn, terwyl die vol A-silhoeët in Dutchess satyn pragtig val en die lig op ’n sagte manier vang.

Die bont, geborduurde blomme is uitgeknip en as applique aangebring, wat ’n kaskade vorm wat digter op die bolyf begin en ligter na onder vloei.

Fyn handgewerkte pêrels is oor die rok versprei, dieselfde pêrels wat ook in my kopkrans gebruik is – wat die hele ontwerp subtiel aan mekaar bind.

By die eerste passing het ek geweet Stanley verstaan presies wie ek is. Die kleure en die joligheid van die blomme het my herinner aan die mens wie ek is, iemand met ’n ligte, lewendige energie wat die laaste paar jaar haar kreatiwiteit in ’n kunsklas geleef het. Stanley het ’n besondere talent om sy bruide so mooi op te som en in hierdie rok het ek gevoel hoe elke deel van my storie saamkom.

Verloof- en Trouringe:


My ring is ’n 0.50kt round‑cut brilliant diamant in 18‑karaat goud, omring deur 16 kleiner diamantjies. Dit is klassiek; elegant en die ontwerp het elke verwagting oortref. Neil se oog vir detail, saam met tannie Anne‑Marie Lunt en haar span by The Jewel Box se vakmanskap, het ’n ring geskep wat nie net mooi is nie, maar ook diep persoonlik voel.

Neil se ring het onverwags sy eie storie gehad. ’n Paar weke voor die troue het hy sy oorspronklike ring in Nederland verloor en ons moes vinnig ’n nuwe plan maak. The Silvery het binne twee weke ’n nuwe seëlring vir hom gemaak, sonder enige moeite. Die ring is 925 sterling silwer met die egte van Heerden‑familie‑embleem daarop. Ek wou hom in elk geval met so ’n ring verras, so dit het uiteindelik perfek uitgewerk. Ons ringe dra nou elkeen ’n eie betekenis: myne van drome wat waar geword het en syne van ’n toevallige oomblik wat iets besonders geword het.

Paartjie se Verlowing:


Neil het altyd gesê hy gaan my nie in Kimberley vra nie, so ek het die idee heeltemal laat gaan. Toe my ma die naweek kom kuier en hulle skielik opgewonde raak oor uiteet by ons gunsteling restaurant, het ek niks vermoed nie. Selfs toe ek vriendelik verplig was om ‘n rooi rok aan te trek, het ek gedink dit is net vir die pret.

Later bel Neil se werk hom glo oor ’n pakkie wat hy by ’n gastehuis moet optel. Ek aanvaar dit sonder vrae, al kon ek sien hy is op sy senuwees. Toe ons stop en ek roosblare sien, vra ek nog laggend wie se partytjie ons nou “crash”. Hy kyk my net aan en sê: “Xanya, jy weet wat hierdie is?”. Binne wag ’n tafel met sjampanje, blomme en ons fotograaf wat stilletjies wegkruip. Neil gaan op een knie en ek het sonder twyfel ja gesê. Ons het die aand afgesluit met ’n ete by The Kimberley Anne en sjampanje saam met vriende en familie. Dit was eenvoudig perfek.

Trou Dekor en Styl:


Ons troue se styl het gegroei uit jare se blootstelling aan die trou industrie. Ek het grootgeword tussen dekor en later as second shooter saam met my troufotograaf gewerk. Die ritte huis toe ná troues, waar ons beplan en ontleed het, het my voorberei vir my eie troue.

Die Mediterreense styl het my nog altyd aangetrek en Seeplaas het daardie rustige gevoel perfek aangevul. Ons het blou en wit potte gebruik saam met warm pienk, oranje, geel en rooi blomme vir ’n vrolike, sonnige balans. My man verkies skoon lyne en eenvoud, wat die dekor mooi gegrond het en perfek by my liefde vir kleur gepas het.

Nigel, wat my van kleintyd af ken, het die styl onmiddellik verstaan. Sy oog vir detail en sy rustige, professionele manier van werk het die hele proses ongelooflik maklik gemaak.

My ma was deur alles my grootste ondersteuning – selfs toe ek haar vra om net te geniet, het sy natuurlik ingespring, want troues beplan en mooi maak is tweede natuur vir haar.

Die eindresultaat het presies weerspieël wie ons is.

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het 80 gaste op hul spesiale dag verwelkom, met ’n troue wat ’n begroting van R313 000 behels het. Die beplanning het oor ’n tydperk van twee jaar plaasgevind, met die hulp van ’n koördineerder wat seker gemaak het dat elke detail van die dag vlot en volgens plan verloop.

    Besoek Mooi Troues vir idees vir julle verlowing en troue. Op Mooi Troues vind jy regte verlowings, regte troues, trou inspirasie, skryfbehoefte idees en ook trou advies.  Vir trou diensverskaffers, rol af onder elke artikel na die artikel krediet waar jy al die diensverskaffers sal sien wat deel was van daardie spesifieke artikel. Mooi Troues kan besoek word vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.

    Artikel Krediet:

    [contact-for2m-7 id=”215856″ title=”Diensverskaffers Krediet Onder”]