In die skilderagtige Robertson Breëriviervallei het Dupie en Carla hul liefde gevier met ’n winter troue wat kontemporêre styl en ’n gesellige atmosfeer perfek kombineer. Fotograaf Helene Viljoen het elke kosbare oomblik met finesse vasgevang. Haar werk getuig van ’n fyn oog vir detail en ’n besondere vermoë om opregte emosie en die natuurlike skoonheid van die omgewing in harmonie met die paartjie vas te lê.
Carla se trourok was ’n unieke, handgemaakte skepping deur ’n jare lange gesinsvriendin. Die borsgedeelte het bestaan uit ’n korset van Duchess-satyn, versier met silwer kralewerk en subtiele, opwaarts wysende hoekpunte. Die moulose korset vorm saam met ’n A-lyn romp, waarvoor ons sowat 22 meter satyn gebruik het om ’n los en elegante vloei te skep. Sy het ook verwyderbare, bollende moue van sagte netstof laat aanheg, wat sy later die aand kon afhaal. Vir die seremonie het Carla ’n addisionele sleep gedra wat met knippies aan haar heupe vasgemaak is. Sy het haar voorkoms afgerond met ’n lang tule-sluier wat ’n sagte skynsel en ’n breë, afgeronde rand het.
Die paartjie het ’n warm, gesellige tema geskep met ’n kleurskema van periwinkelblou, perske, saliegroen en goud. Hulle het die dekor gehuur en dit self, met die hulp van hul families, opgestel. Op die houttafels het taupekleurige lopers gelê, versier met ’n verskeidenheid glasvase vol blomme. Goue eetgerei, glas-onderborde met goue rande en periwinkelblou lapservette het die tafels afgerond. By die bruidstafel het feëliggies en onderstebo hangende blomme ’n treffende agtergrond geskep. Dupie en Carla het ook die gaste met periwinkelblou kniekomberse bederf om die winterkoue te verdryf.
Besoek Mooi Troues se aanlyn trougids om betroubare diensverskaffers vir jou groot dag te vind.

Trourok:
My trourok is handgemaak deur een van my ma se jare lange vriendinne.
Die borsgedeelte van die rok was ’n moulose korset met hoekpunte wat effens na bo wys. Die onderste deel het ’n kenmerkende V-vorm gevorm, terwyl die korset van dieselfde materiaal as die romp gemaak is, naamlik Duchess-satyn. Bo-oor die satyn van die korset was daar silwer kralewerk vasgewerk. Ek het toe agterna ook bollende moue uit sagte netstof laat aanheg wat afgehaal kon word deur die aand. My skouers was oop. Die bollende moue was afgewerk met ‘n satyn en kralewerk mansjet met mouknope.
Daar was om en by 22 meter satyn gebruik in my rok. Die romp van my rok was A-lyn vormig, los en gemaklik en het uit drie pante bestaan. Die rok was lank genoeg sodat my trouskoene net net uitsteek wanneer ek stap. Ek het ook ’n addisionele romp van dieselfde satyn gehad wat ek met knippies aan my heupe vasgemaak het, maar wat ek kon afhaal.Hierdie addisionele romp het dan ook gedien as my lang sleep en was aan die onderkant rond gevorm. Ek het ‘n sagte lang veil gehad wat uit ‘Tule’ gemaak is met ‘n dik band al om die rand. Die veil se tule het ook ‘n blink skynsel gehad.

Meer oor Helene Viljoen Fotografie
Helene Viljoen Fotografie bied tydlose troufotografie met ’n sagte, romantiese aanslag. Gebaseer op ’n plaas buite Robertson, spesialiseer Helene in natuurlike lig en die vasvang van egte, spontane oomblikke van stil kyke tot opregte lag en trane. Haar passie vir mense en storievertelling skyn deur in elke beeld, met ’n fokus op emosie en detail. Sy skep ’n ontspanne atmosfeer waarin paartjies gemaklik hulself kan wees voor die lens. Professioneel, betroubaar en altyd vriendelik, reis Helene regoor die Wes-Kaap om jou spesiale dag vas te vang. Kies Helene Viljoen Fotografie om jou liefdesverhaal opreg en stylvol te verewig.

Paartjie se Verlowing:
Ons het op 25 Augustus 2024 verloof geraak tussen die veldblomme en wilde diere, langs die Weskus op Postberg nadat ons by die kerk was die oggend.
Dupie wou my eintlik op ‘n ander naweek vra, maar kom toe tot die besef dat daardie naweek reeds te vol geboek was en moes spoedig aan ‘n ander plan dink. Een van my niggies het saam met ons Postberg toe gegaan, sonder om te weet wat die dag sou inhou. Gelukkig het sy goeie instinkte gehad en die kamera op die regte tyd en plek gereed gehou. Dupie het dit ook reg gekry om ‘n bos blomme, sjampanje en sjampanje glase in die voertuig te verdoesel sonder dat een van ons dit opgelet het. Ek het geweet of altans gehoop die vraag sou iewers in 2024 gevra word, maar hierdie gekose naweek was definitief onverwags! Dit was baie spesiaal en het my kinderlik opgewonde gemaak oor ons toekoms saam.

Verloof- en Trouringe:
Carla Verloofring:
My verloofring se pant is van geel goud gemaak. Op die pant is drie diamante langs mekaar. Die middelste diamant, wat ook die grootste is, is rond en sit in ses kloutjies vas. Aan weerskante daarvan plaas die ontwerp twee kleiner peervormige diamante horisontaal, met hul skerp punte na buite. Drie klein kloutjies hou elkeen van hierdie diamante vas. Dupie het geweet dat ek droom oor die ronde diamant in die middel, maar wou graag iets spesiaal bysit om die ring se ontwerp ‘n verrassing vir my te hou. Dus het hy my toe verras met die twee peervormige diamantjies weerskante van die ronde diamant.
Carla Troupant:
My troupant het ek en Dupie saam gaan kies nadat ons reeds verloof was. Die troupant is ook van geel goud gemaak met klomp klein diamantjies op. Ons het besluit dat die troupant effens ‘V’ vormig moet wees sodat dit die vorm van my verloofring kan aanneem.
Dupie Troupant:
Dupie se troupant is van geel goud gemaak. Daar is ook ‘n swart lyn op die ring, bietjie van die middel af, meer na die een kant toe om die goud effens te breek.
Al 3 hierdie ringe is by Viljoen Juweliers op Worcester gemaak.

Trou Dekor en Styl:
Ons kleurskema het bestaan uit periwinkleblou, perske, saliegroen en goud. Periwinkleblou was die hoofkleur, aangesien dit albei se gunsteling is, terwyl die ander kleure subtiel in die blomme en dekor ingewerk is. Die dekor is by Flamboijant gehuur en met die hulp van ons families die dag voor die troue self opgestel. Blomme is verskaf deur A&I Fynbos, wat ook familie van ons is. Aangesien ons in die winter getrou het, was die doel om ’n gesellige, moderne-outydse tema te skep.
Daar was 13 houttafels vir die gaste, asook ’n lang tafel vir die bruidspaar en albei stelle ouers.
Gaste tafels:
Daar was ‘n Taupe kleur loper in die middel van die hout tafels, effens gefrommel. Op elke tafel was daar 6 klein glas blompotte. Elke blompot se vorm het van mekaar verskil. Elke blompot het een tot drie stele blomme ingehad, elkeen het verskillend gelyk. Daar was ook drie lang en twee kort goue kersstaanders op elke tafel wat lang wit kerse ingehad het. Daar was goue messe en vurke weerskante van ‘n glas onderbord met ‘n goue rant, gedek. Bo-op die onderbord was ‘n handgevoude periwinkelblou lap servet. Langs die bord was ‘n handgemaakte blou naam kaartjie met ‘n goue wasstempel en gedroogte Gypsophila takkie. Regs voor elke bord was daar ‘n standaard wynglas en sjampanje glas gedek.
Die bruidstafel het ‘n Taupe kleur tafeldoek op gehad met dieselfde eetgerei en servette as die gaste tafels. Die dekor het klein bietjie verskil. Daar was baie wit kerse op die tafel wat gevarieer het van kort na lank en dun en dik. Die voorkant van die tafel was ook toegemaak met baie pennygum en die verskeie blomstele soos gebruik op die gaste tafels.
Die dak en muur agter die bruidstafel was versier met feëliggies. Tussendeur die feëliggies agter die bruidstafel het daar blomstele onderstebo gehang op verskillende lengtes.
Daar was ‘n geskenke hoekie waar periwinkelblou knie kombersies in ballasmandjies geplaas was as ‘n geskenk aan die gaste.

Trou Begroting en Beplanning:
Ons het self die troue beplan oor ’n tydperk van 6 maande, met 116 gaste en ’n troubegroting van R200 000.

- Fotograaf: Helene Viljoen Photography | Kontak
- Venue: The Key Venue | Kontak
- Blomme: A&I Fynbos | Kontak
- Bruidegom-pak: Mr Suite Hire | Kontak
- Dekor: Flamboijant| Kontak
- Grimering: Blusch Professional Makeup| Kontak
- Grimering Strooimeisies: Maya Maria Makeup
- Hare: Vantage Hair & Beauty| Kontak
- Huwelik kontrak: Joubert Van Vuuren Inc.| Kontak
- Huweliksbevestiger: Ds Ken Pritchard| Kontak
- Juweliersware: Lovisa| Kontak
- Koördineerder: Christi Fernhout| Kontak
- Kroegdiens: The Key Venue| Kontak
- Musiek: DJ Kat – Music For All| Kontak
- Platejoggie: DJ Kat – Music For All| Kontak
- Paartjie se verblyf: Mo & Rose| Kontak
- Strooijonkers bykomstighede: Mr Suite Hire| Kontak
- Skoene: Foschini| Kontak
- Spyseniering: Di Doms Plum Kitchen| Kontak
- Strooimeisie-rokke: Hannelore Matthyser
- Trourok: Hannelore Matthyser
- Bruid se Trouring: Viljoen Juweliers| Kontak
- Bruidegom se Trouring: Viljoen Juweliers| Kontak
- Troukoek: Special Event Cakes| Kontak
- Vervoer: David Stemmet
- Wittebrood Plek: Stay@Napkyn| Kontak

