Zander & Danica se Verrassing Verlowing by Die Punt, Mosselbaai

Zander en Danica se verrassing verlowing is pragtig vasgevang in fotos wat elke oomblik laat herleef. Wat begin het as ’n gewone vakansie-fotosessie het onverwags verander in ’n droom verlowing, sorgvuldig beplan deur Zander met net die regte bietjie “toneelspel”.

Danica het al lank van ’n professionele fotosessie by die see gedroom, maar Zander moes doen asof hy nie te opgewonde was nie, anders sou Danica agterkom dat iets aan die gebeur was. Met die hulp van hul fotograaf het alles by Die Punt in Mosselbaai bymekaarkom. Terwyl die son oor die rotse en berge sak, het Zander die groot vraag gevra.

Die grootste verrassing was die ring. Alhoewel Zander altyd gelyk het of hy nie luister wanneer Danica van haar droomring praat nie, het hy elke detail onthou. Hy het die ring spesiaal laat maak en dit was selfs mooier as wat sy ooit kon voorstel.

Die keuse van Die Punt was doelbewus. Die dramatiese rotse en die sagte lig van die sonsondergang het foto’s geskep wat nou ’n belangrike deel van hul troubeplanning vorm, van “save the dates” tot trou uitnodigings. Vir Danica was dit die perfekte manier om hierdie spesiale mylpaal vas te vang.

Droom jy ook van ’n strand verlowing of ’n sprokiesagtige wynlandgoed troue? Kry inspirasie en diensverskaffers vir jou eie spesiale dag in die Mooi Troues trougids. Van unieke venues tot wenke vir jou fotosessie, daar vind jy alles wat jy nodig het om jou droomtroue te beplan.

 

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het mekaar in 2019 ontmoet by ’n braai wat gehou is deur vriende wat ons albei ken. Wat aanvanklik net ’n gewone braai was, het vinnig ontwikkel tot iets besonders. Van daardie dag af het ons al hoe meer tyd saam deurgebring en mekaar beter leer ken.

In Februarie 2020 het ons verhouding amptelik begin. Na vyf wonderlike jare saam het hy uiteindelik die groot vraag gevra, en in Desember 2025 het ons verloof geraak.

Die groot vraag:


In Desember 2025 het ons Mosselbaai toe gegaan vir ’n familievakansie. Ek wou graag ’n fotosessie by die see doen maar Zander was aanvanklik nie baie opgewonde daaroor nie.

Unaresa, ’n familielid en talentvolle fotograaf, het aangebied om die foto’s te neem en ek kon Zander toe oorreed. Ons het die fotosessie gereël vir 22 Desember. Terwyl die familie by ’n restaurant gewag het, het ons by Die Punt foto’s geneem. Die aand het heeltemal normaal gevoel, al het ek stilweg gehoop op ’n verlowing.

Skielik het alles verander toe hy my onverwags vra om sy vrou te word. Die familie het in die geheim gehelp om alles te reël en Zander het reeds vooraf met Unaresa gereël vir die fotosessie. Hy moes egter voorgee dat hy nie regtig opgewonde daaroor is nie, aangesien hy gewoonlik nie juis daarvan hou om sulke dinge te doen nie en ek dan dadelik iets sou vermoed as hy te entoesiasties was.

Hoekom ons mekaar liefhet:


My gunsteling eienskappe van Zander:

Wat ek die meeste van Zander waardeer, is hoe maklik hy my kan laat lag, selfs op dae wat swaar voel. Hy het ’n besondere manier om lig te bring waar daar donkerte is. Hy kies om die positiewe raak te sien eerder as die negatiewe en daardie ingesteldheid help my om ook hoopvol en positief te bly. Zander is ongelooflik gedrewe en streef altyd daarna om die beste weergawe van homself te wees. Sy begeerte om te groei en aanhoudend te verbeter inspireer my elke dag.

My gunsteling eienskappe van Danica:

Danica se omgee-hart is iets besonders. Sy het ’n unieke vermoë om die goeie in mense raak te sien. Sy is baie geduldig en gee nie maklik moed op nie. Danica is my grootste ondersteuner en die persoon wat my die meeste aanmoedig, maak nie saak wat ek aanpak nie. Haar liefde en ondersteuning gee my die moed om groot te droom en voluit te leef.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons het nog altyd gesê ons wil nie lank verloof wees nie. Ons het dadelik begin beplan en alles het sommer vinnig in plek begin val.

Binne ’n maand nadat ons verloof geraak het, het ons reeds ons venue bespreek en nou tel ons die dae af na einde November 2026.

Die verloofring:


Dit was vir my ’n ongelooflike verrassing. Elke keer as ek oor my droomring gepraat het, het dit gelyk of hy nie regtig aandag daaraan gee nie. Hy het altyd net met ’n glimlag gesê hy sal begin luister wanneer die tyd nader kom.

Wat ek nie geweet het nie, is dat hy die hele tyd geluister het. Elke detail, elke wens en elke klein opmerking het hy onthou. Hy het die ring spesiaal laat maak. Toe ek dit sien, was dit presies wat ek nog altyd wou hê, selfs mooier as wat ek ooit kon voorstel.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Vir my was dit net ’n gewone fotosessie by die see. Ek het glad nie gedink dit sou in ’n verlowing eindig nie, alhoewel ek gehoop het dat ek daardie vakansie verloof sou raak, het ek nie gedink dit sal so gebeur nie. In my kop was dit bloot ’n mooi manier om ons vakansie-herinneringe vas te vang.

Ek het wel altyd vir Zander gesê dat ek graag die oomblik op kamera wil hê wanneer hy my eendag vra en dat ek ten minste mooi moet lyk wanneer dit gebeur! ’n Fotosessie was die perfekte manier daarvoor. Dit het so natuurlik en spontaan gevoel en omdat foto’s vir ons so besonders is , is ek bly daardie oomblik is nou vir altyd vasgevang. Ons foto’s is iets besonders en ons gebruik dit nou vir ons trou beplanning, soos save the dates en uitnodigings.

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Unaresa ons wonderlike fotograaf het voorgestel dat ons die fotosessie by Die Punt in Mosselbaai tydens sonsondergang doen. Unaresa het verduidelik dat dié ligging ’n pragtige verskeidenheid foto’s moontlik maak, aangesien mens sowel die berg as die see in die agtergrond kan sien. Ons was lus vir iets anders as net die gewone strandfoto’s en Die Punt was die perfekte plek daarvoor. Dit het vir ons die geleentheid gebied om iets uniek en besonders vas te vang, met ’n kombinasie van see, rotse en berge wat ’n pragtige agtergrond skep.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ons verwagtinge vir die verlowing tydperk is om soveel moontlik dinge vroeg klaar te kry. Op dié manier kan ons met gemoedsrus weet alles is in plek. Daar is ook genoeg tyd om aanpassings te maak of ’n alternatiewe plan te beraam as iets nie volgens plan verloop nie.

’n Bekommernis is die hoeveelheid beplanning wat in so ’n spesiale dag ingaan. Daar is soveel klein besonderhede om aan te dink, en ons is bang dat ons dalk iets belangriks kan vergeet. Tog probeer ons onsself herinner om die proses te geniet en te vertrou dat alles uiteindelik mooi sal uitwerk.

Visie vir droomtroue:


Oorspronklik het ons aan ’n groot glasvenue gedink, maar ons het gou besef hoe duur sulke plekke kan wees. Zander het egter nog altyd gesê hy wil by Galagos Country Estate trou. Hy het al voorheen ’n troue daar bygewoon en was baie beïndruk; volgens hom was dit een van die mooiste en lekkerste troues wat hy nog bygewoon het.

Aanvanklik het ek die venue nie regtig oorweeg nie, maar omdat Zander so opgewonde daaroor was, het ek besluit om te gaan kyk. Toe ek die eerste keer daar inkom, het ek dadelik verlief geraak. Ek kon amper sien hoe ons spesiale dag daar tot lewe kom.

Ons probeer die meeste dinge self reël en is ongelooflik dankbaar vir vriende en familie wat help waar hulle kan. Vir ons gaan die droomtroue nie net oor hoe dit moet lyk nie, maar oor die gevoel wat ons daardie dag saam wil beleef. Die grootste fokus is dat dit ’n vrolike, liefdevolle dag moet wees waar almal saam met ons ons liefde vier en natuurlik moet daar genoeg gedans word!

Die gastelys is tussen 80 en 90 mense, wat uiteindelik meer is as wat ons oorspronklik beplan het. Ons wou almal daar hê wat ’n belangrike deel van ons lewe is en ons oor die jare bygestaan en ondersteun het.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: