Erick & Alicia se Intieme Selfdoen Troue in George

Erick en Alicia se intieme selfdoen troue in George was ’n asemrowende viering van liefde, omring deur die rou skoonheid van die natuur. Met ’n buitelugseremonie op ’n bergkoppie en ’n onthaal wat rustig op die stoep ontvou het, was elke oomblik deurdrenk van emosie en teenwoordigheid. Vir hierdie paartjie het hul troue gevoel soos ’n natuurlike verlenging van hul passie vir die buitelewe en die berge.

Alicia het gestraal in ’n sag vloeiende Boheems-geïnspireerde trourok wat haar persoonlikheid perfek weerspieël het. Die rok met sy delikate kant en fyn besonderhede was lig genoeg om saam met die bergwind te beweeg. Vir haar was dit belangrik om soos haarself te voel, ’n dromerige weergawe wat gemak en tydlose romanse uitstraal.

Die natuurlike dekor en styl was eenvoudig en niks het oorbodig gevoel nie. ’n Kleurskema van neutrale aardetone, aangevul met sagte pastelgeel, groen en bruin, het die omliggende wolklandskap pragtig gekomplementeer. Deur op intieme warmte eerder as groot gebare te fokus het die paartjie ’n ruimte geskep waar hul storie deur elke klein element vertel is.

Hierdie troue is die perfekte inspirasie vir enige bruidspaar wat droom van ’n dag wat rustig en natuurlik vloei. Besoek gerus Mooi Troues se aanlyn trougids om die regte diensverskaffers te vind wat julle visie van ’n betekenisvolle viering kan help verwesenlik.

Trourok:


My trourok moes van die begin af ’n weerspieëling wees van wie ek is. Ek het geweet ek wil iets Bohemian hê, sag, vloeiend en vol fyn detail. Nie iets oordrewe nie, maar iets natuurlik en lig wat saam met die wind kan beweeg. Die delikate kant en subtiele besonderhede het daardie romantiese, vrye gevoel gebring waarna ek gesoek het, terwyl die eenvoud daarvan my “eenvoudige” persoonlikheid perfek weerspieël het. Ek wou gemaklik voel, ek wou soos myself voel, net ’n meer dromerige weergawe.Dit was nie net ’n rok nie, dit was ’n gevoel. Sag, natuurlik en tydloos.

Paartjie se Verlowing:


Ons verlowing het gevoel soos ’n toneel uit ’n ou liefdesverhaal. Erick het my gevra om met hom te trou op ’n roosplaas teen die berg, waar die lug oop en eindeloos voel en die wêreld vir ’n oomblik stil raak. Die rose het om ons geblom soos ’n stille getuienis van iets wat lankal bestem was. Ons deel ’n liefde vir berge en vir die buitelewe.Daardie plekke waar mens asemhaal en weer nader aan jouself voel. Tussen die rose en die berge het tyd stadiger geraak. Dit was nie net ’n ja nie, dit was ’n belofte, fluisterend, sag, en vir altyd.

Verloof- en Trouringe:


My ring is geïnspireer deur Prinses Diana se ikoniese styl. ’n Ontwerp wat nog altyd vir my die betekenis van tydlose elegansie dra. Dit is die Protea Sapphire-ring van Browns met ’n diepblou saffier wat omring word deur fyn detail. Ek het nog altyd gehou van klassieke skoonheid, iets wat nooit uit die mode raak nie. My trou pant is spesiaal gemaak om by die protea te pas met mooi sagte diamante. Erick se ring is eenvoudig, goud en spesiaal vir hom gemaak. n Pasgemaakte ontwerp wat sy rustige, sterk en tydlose karakter weerspieël. Hy wou iets hê wat eg voel.

Trou Dekor en Styl:


Ons troue het gevoel soos ’n natuurlike verlenging van ons liefde vir die berge en die buitelewe. Die kleurskema was sag en tydloos met neutrale en aarde-tones met subtiele aksentkleure wat die natuurlike skoonheid van die plek beklemtoon het. Dit het saamgewerk om ’n gevoel van kalmte, intieme warmte en rou elegansie te skep.

Die dekor was eenvoudig, Bohemian-geïnspireer en natuurlik (groen,pastel,geel,bruin,wit ens) niks oorbodig nie, net dele wat die ruimte aanvul sonder om die pragtige berg en wolklandskap te oorheers. Alles het sag gevoel, doelgerig en persoonlik, soos die klein besonderhede en natuurlike elemente net ons storie vertel het. Die algehele styl van ons dag was intiem, romanties en betekenisvol. Ons het gefokus op teenwoordigheid en emosie, eerder as groot gebare. Die resultaat was ’n dag waar alles rustig en natuurlik vloei.

Trou Begroting en Beplanning:


Met 35 gaste was die troue ’n intieme en persoonlike viering. Erick en Alicia het die dag met ’n begroting van R80 000 oor ses maande beplan en alles self gereël.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: