WJ & Karla se oulike Plaas Verlowing Fotosessie

Ons weet Mooi Troues se lesers is gaande oor plaas verlowing fotosessies, so hierdie een is een wat julle moet boekmerk. WJ & Karla se oulike plaas verlowing fotosessie is besonders mooi en ons is opgewonde om met julle te deel.

Flying Swan Media het die paartjie se verlowing foto’s só mooi vasgevang. Die lig in die foto’s was perfek en Flying Swan Media se kleurvolle foto styl het die paartjie se foto’s so mooi laat lyk.

Die paartjie hou van spontane in die oomblik foto’s eerder as te veel poseer vir foto’s. Hulle het die verlowing fotosessie gedoen as ʼn oefenlopie vir hul troue, wat ʼn fantastiese idee is.  ʼn Verlowing fotosessie is soveel meer as net mooi foto’s en herinneringe.  Dit is die ideale tyd om julle fotograwe beter te leer ken en om meer gemaklik en ontspanne voor die kamera te voel.

Omring deur die pragtige plaas landskappe, diere en ʼn plaasdam het dit die perfekte agtergrond geskep vir Karla en WJ se oulike plaas verlowing fotosessie.

Karla se mosterd geel rokkie het perfek gepas by die fotosessie en het die perfekte kontras geskep met die natuurskoon agtergrond. WJ het ʼn meer neutrale uitrusting aangehad wat só mooi ingepas het by Karla se rok.

Rol af om meer te lees oor WJ en Karla se liefdesreis en hul oulike plaas verlowing fotosessie.

Die paadjie wat gelei het tot die verlowing:


Ons het mekaar in 2016 ontmoet deur ʼn gemeenskaplike vriendin. Op 27 September 2019 toe gaan kuier ek by WJ se suster. Dit is waar ek weer vir WJ na ʼn lang ruk gesien het. Hy het my vriendelik en skaam gegroet in sy pink bloubul rugby trui en wit oefen broekie. WJ was maar nog altyd een vir grappies maak en mens gemaklik laat voel. Dit was presies in hierdie oomblik waar ek besef het dat ek eintlik mal is oor WJ.

Op die 7de Desember 2019 het WJ my uitgevra op ʼn bergpiek by ʼn Proteaplaas net buite Barrydale, met die mooiste uitsig net soos die son ondergaan. In Maart 2020 het ek by WJ op die plaas kom kuier, waar die grendeltydperk ons vakansie kort geknip het. My ouers het aanbeveel dat ek eerder op die plaas by hom bly waar dit veiliger en beter sou wees. Van toe af is ons twee onafskeidbaar van mekaar en doen alles van die lewe saam.

Die groot vraag:


Ons was op vakansie in Botrivier waar ons verskeie wynplase besoek het en uiteindelik by Beaumont Wine Estate aankom het. Die personeel het ons vriendelik gegroet en na kelder geneem. Ek het van niks geweet of niks verwag nie. In die middel van die kelder was ʼn tafel baie mooi opgemaak en gedek vir 8 mense. Die vertrek was vol feetjie liggies en Proteas. Dit was net ek en WJ daar binne.

ʼn Paar sekondes daarna kom ons kelnerin ingestap met ʼn bottel sjampanje.  Daar was ook twee mooi kristal glase en ʼn sagte pink mooi boksie op ʼn skinkbord met rooi roos blare in die vorm van ʼn hartjie gegooi. Ek kyk toe dadelik na WJ wat my hand vat en in die middel van die kelder staan onder al die liggies. Om 11:38 op 2 Julie 2023 het WJ op een knie afgesak en my gevra om te trou. My hart wou bars van geluk. Dit was eerlikwaar die beste oomblik van my lewe.

WJ se suster en haar kêrel het die oomblik vir ons vasgevang.

Om dinge meer spesiaal te maak het hy my verras met beide ons ouers wat saam met ons die verlowing vier. Al sy moeite het die dag vir my 1,000 keer meer spesiaal gemaak as wat dit reeds was. Die res van ons vakansie was ons só verskriklik goed gehanteer en bederf deur verskeie plekke in Botrivier en Hermanus. Dit is beslis ʼn tydperk in ons lewens wat ek ons altyd sal koester!

Hoekom ons mekaar liefhet:


Daar is net só ongelooflik baie wat ek van WJ hou.

Sy vrymoedigheid om almal anders se benodighede bo homself te sit is verseker vir my ʼn goeie kwaliteit. Hoe passie vol hy is oor die lewe. Dit wat hy elke dag doen is aansteeklik. Sy oneindige diep liefde teenoor my wat hy steeds elke dag uitstraal. WJ se sagte hart. Sy bereidwilligheid om aan te hou baklei vir ons verhouding en aan te hou werk aan dit maak nie saak hoe moeilik dinge mag word nie. WJ se ondersteuning en motivering wat hy vir my elke dag bied om my die beste weergawe van myself elke dag te maak. Hoe hard hy werk om vir ons die beste lewe moontlik te gee. Die mens wie hy in geheel is.

Waarvan hou ek die meeste van Karla?

Dit is ʼn vraag wat ʼn man kan stil maak vir ʼn oomblik en se hart laat sink. Hoe beskryf mens liefde? Dit laat jou stil staan en net laat waardeer hoe geseënd ʼn mens kan wees in ʼn wêreld só deurmekaar soos die. Dit is ongelooflik om te weet ek het iemand saam wie ek die res van my lewe gaan spandeer. Waar daar geen berg te groot is om te klim nie. Sy het van dag een saam my gestaan deur dik en dun. Karla is iemand wat sal hoop gee waar daar nie meer is om te vind nie.

Maak nie saak hoe lank my dag kan uit draai nie, sal sy altyd sit, wag en my laat uit sien om tuis te wees. Die manier hoe sy enige iemand se dag kan beter maak net deur om mense te laat lag. Die onafhanklikheid van mense se kommentaar en opinies.

Sy is ʼn opregte en skoon siel wat altyd kans sien vir ʼn avontuur. Haar sagte hart wat altyd vir enige iemand wil help. Al beteken dit sy moet iets van haar self op-offer. Luister na laat aande se aftappings en dag se stres. Altyd die regte antwoorde en raad gee. Sy gee my ʼn rede om vroeg op te staan en laat te gaan slaap.  My beste self te wees en alles te gee wat kan. Sy is my doel.

Tydperk voordat die knoop deurgehak word:


Ons het nie lank hieroor gedink nie en wou sommer ʼn maand na die verlowing gaan “elope” het, maar ons het gevoel ons albei verdien ʼn sprokies troue waarna ons eendag as ons oud is kan terug dink en oorvertel. Ons troudatum is 21 September 2024.

Die verloofring:


My verloofring was totaal en al ʼn baie groot verrassing vir my gewees. Voor ons verloof geraak het, het ons gesels oor ringe en die style waarvan ek hou. WJ het toe die ekstra myl gestap om dinge verder meer spesiaal te maak waar hy ʼn ring laat ontwerp het by Ring Artisan. Om die protea tema verder bymekaar te bring, het WJ die ring hoof wat die steen vashou laat ontwerp in vorm van ʼn protea. Die ring het my asem weg geslaan en is meer as perfek vir my. Ek is elke dag in die wolke as ek na my ring kyk.

Rede vir die verlowing fotosessie:


Ons het die fotosessie gedoen om gemaklik te raak voor die kamera. Aangesien beide van ons maar baie skaam is om te “poseer” vir foto’s en ook om gemaklik raak in die teenwoordigheid van ons fotograaf en videograaf en hulle leer ken. Ons het die fotosessie sommer as ʼn oefenlopie gebruik om posisies te oefen vir ons troudag. Beide van ons hou meer van die “in die oomblik” tipe foto’s wat ware emosie vasvang en ons voel Susara en André het die spyker op die kop geslaan met hierdie sessie!

Inspirasie agter die verlowing fotosessie:


Ons albei hou van natuurlike kleurvolle foto’s. Foto’s wat die waarheid vasvang sonder te veel redigering. Ons het gekies om die foto’s hier op die plaas waar ons woon te neem aangesien ons net ʼn skoon, groen en natuurlike atmosfeer vir die fotosessie wou hê. Albei van ons is mal oor die natuur en wou dit inkorporeer in ons foto’s. Ons wou ons ervaring en fotosessie so stresvry en gemaklik moontlik hou.

Verwagtinge en vrese vir die verlowing tydperk :


Ek en WJ wil hierdie periode van ons lewens só baie geniet aangesien mens net eenkeer verloof is, maar ons het nie besef hoe groot die uitdaging sou wees om ʼn troue te beplan nie. Dit is moeilik om ʼn goeie balans te kry tussen troubeplanning, werk, sosiale lewe, familie, persoonlike tyd en kwaliteit tyd met mekaar veral omdat beide van ons se werke só tydrowend is. Dit alles kan die lewe so gejaagd en soms ʼn handvol maak voel, maar met ʼn goeie, sterk en soliede ondersteuningstelsel kan jy alles en meer bereik. Ons sien hierdie verlowings periode as ʼn leerkurwe vir ons verhouding en ʼn voorsmakie van ons huwelik.

Visie vir droomtroue:


Ons is baie rustig wanneer dit kom by enige besluitnemings van ons troudag. Albei van ons is baie oopkop en oop vir enige voorstelle van vriende en familie. Ons soek ʼn natuurlike, stresvrye troudag. ʼn Troudag met ons familie en naaste vriende waar almal dit net geniet, kan feesvier en hulself wees. Wil die dag só spontaan moontlik hê en wil graag eerder net in die oomblik van die dag lewe as wat ons onnodig kommer oor wat moes wees en nie is nie. Ons mik vir ʼn Boheemse Plattelandse trou tema aangesien dit ons twee die beste beskryf. Albei van ons is baie mal oor die natuur en klein karoo plaas lewe en wil dit graag inkorporeer in ons trou tema.

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Krediet: