Werner & Mignon se jolige Troue in Limpopo

Ons is baie opgewonde om Werner en Mignon se jolige troue in Limpopo met Mooi Troues se lesers te deel.

Die paartjie het by die pragtige trou venue, Mooiplaas Trou en Funksie Venue getrou.  Dié venue is geleë in die Bela-Bela gebied in Limpopo omring deur van die mooiste natuurskoon en pragtige landelike uitsigte.

Die bestemming is ʼn paradys vir trou fotograwe.  Met soveel besonderse foto geleenthede en prentjie mooi agtergronde, is dit die ideale plek vir paartjies om die mooiste trou foto’s te kry.  Die talentvolle Mighty Fine het die pragtige foto’s en trouvideo geneem wat ons hieronder met jul deel.

Hulle seremonie was by Mooiplaas se bedekte buitelug kapel.  Die paartjie het onder die groot boom gestaan en gaste het in die koelte die paartjie se seremonie geniet.

Hulle trou dekor is kleur skakerings van wit en swart wat ʼn meer formele voorkoms gee.  ʼn Swart loper in die middel van die lang trou tafels en die wit rose en kerse skep die perfekte balans.  Dit lyk ook só mooi teen die höe dak en die baksteen elemente in die trou venue.  Mooiplaas se ruim trou lokaal is perfek vir paartjies wat opsoek is na spasie vir ʼn lekker kuier.

Mignon en Werner se troue was ʼn lekker gesellige troue met goeie geselskap, lekker kos en ʼn lieflike partytjie.  Rol af om meer te lees oor Werner en Mignon se jolige troue en geniet hul pragtige foto’s.

Paartjie se Liefdesreis:


Werner en Mignon het mekaar deur ʼn gemeenskaplike vriend ontmoet en was aanvanklik ook net vriende.  Hul gesprekke en vriendskap het moeiteloos gevloei, met elke uitwisseling wat hul konneksie op een of ander manier verdiep het.  Van koffie-afsprake tot pret saam met vriende/familie en uitstappies na die tennisbaan.  Al hierdie oomblikke saam het hul konneksie en aantrekkingskrag na mekaar verdiep.

Na ʼn paar maande van blote vriendskap wou Werner dit op die old-school manier doen en het Mignon gevra om formeel sy meisie te wees.  Net ses maande in hul verhouding, met ʼn band wat soos ʼn leeftyd in wording gevoel het, het Werner die perfekte verrassings verlowing by een van Mignon se gunsteling vakansiebestemming beplan.

Dié geheime verlowing was gevul met baie agter-die-skerm beplanning.  Vlugte heen-en-weer om Mignon se familie se toestemming te vra om werklik met haar te trou en ʼn absoluut perfekte en onverwagte verlowing op die strand tydens sonsopkoms.

Hierdie verhaal spreek tot ʼn ware getuienis van hoe wag vir die regte een só die moeite werd is.  Hoe God se tydsberekening net beter is as wat ons óóit kon dink, droom of voorstel.

Trourok:


Ek het baie rokke aangepas en ook in baie rokke probeer “pas”.  Verbeel jou net die perfekte trourok, dis die een wat ek gedra het!  Dit het daardie tydlose sjarme gehad, wat beide klassiek en gemaklik was.  Dit was alles waaroor ek nog ooit gedroom het en meer, die oomblik toe ek hierdie spesifieke een gepas het, was ek letterlik soos “Hoe gaan ons van hier af?  Het jy ʼn sak daarvoor?  Kan ek dit nou saam met my huis toe neem?”.  Met die absolute perfekte en klassieke pasvorm met ʼn tikkie moderne sjiek.  Dit was ʼn ware weerspieëling en het ons mees romantiese en perfekte troudag en die algehele gevoel van ons troue ook gekomplimenteer.

Die feit dat ek ʼn partytjie-rok gehad het wat ek later die aand aangetrek het , het egter BAIE druk van my aanvanklike rok geneem, en een van die beste besluite van die dag.  Werner het ook geweet dat ek twee rokke sou hê, maar geen idee van hoe hulle sou lyk nie.

My tweede rok was waaghalsig kort en super sexy.  Ek het ná die formaliteite die tweede rok aangetrek en daarmee ook ʼn verrassing haarsny gedoen (net my strooimeisies, broer en ma het geweet dat ek dit gaan doen).  Ja die haarsny was beplan – nee dit was nie ʼn professionele haarkapper nie, ek het een van my vriende gevra om dit te doen. Die enigste voorvereiste was dat dit VINNIG moet gebeur, ons mors nie tyd nie, dit moes binne vyf minute gebeur, in die badkamer van die lokaal – ons kan nie op partytjie tyd uit mis nie.

Die grand enterance daarna was AMAZING, die foto’s en Werner se gesig sê alles.

Verloof- en Trouringe:


Mignon het dit gewaag om anders te wees met ʼn minder tradisionele tipe trouring.  Haar ring is ʼn 5-steen eternity ring, ʼn perfekte balans van harmonie, elegansie en sofistikasie.

Werner het gekies vir klassieke geelgoud troupand met sentimentele betekenis vir hom spesifiek.

Trou Diensverskaffers wat uitgestaan het vir die paartjie:


Mighty Fine – Ons hele dag vasgevang op ʼn manier dat ons nooit ons dankbaarheid genoeg sal kan wys nie.  Ek weet almal sê dit maar fotograwe is regtig heel waarskynlik een van DIE BELANGRIKSTE besluite van jou troudag.  OOK, ons was nie eens op soek na ʼn videograaf nie, as ons terugkyk, beste besluit ooit!  Spandeer die ekstra geld, soooo die moeite werd.

Mooiplaas Wedding Venue – Bekostigbaar, pragtig, nie te ver van Pretoria af nie en sommer lekker mense.

Stonz-diamante – Die kliëntediens wat van hierdie verskaffer ontvang is, was net ongelooflik.  Ons het terug en terug en terug gegaan en hulle het ons eintlik net elke keer met ʼn glimlag bygestaan.  Sulke goeie leiding en raad ook.  Hulle ken hul goed.

@yr_makeup_artistry – My ervaring met Yvette was net ongelooflik.  Haar kliëntediens was regtig van die beste en sy het eintlik geluister na wat ek wou hê.  Om haar deel van my spesiale dag te hê was een van die beste besluite.

Gunsteling herinneringe van die paartjie se troudag:


NOT SWEATING THE SMALL STUFF – het ek dit al voorheen gesê?  Om dit van die begin af te besluit het die hele benadering tot ons troue heeltemal anders gemaak. Ek glo ook ten volle dat dit oorgevloei het na ons gaste en algehele gevoel op die dag ook.

Ons het vriende genooi om die Vrydagaand met ʼn spitbraai by ʼn nabygeleë lodge te vier en tot ons verbasing het meer as die helfte van ons trougaste aangesluit.  Dit het meer geleenthede geskep om met gaste te praat en sommige oomblikke in te neem EN natuurlik die viering ook langer te laat aanhou.

Die oggend van ons troue het ons ook besluit om vroeg op te staan en koffie te drink en saam oggend toewyding te doen, wat die tradisie na seker baie se opinie verbreek – maar dit het ons ʼn bietjie alleentyd gegee (waarvan jy baie min op die dag het) – en ook begin seker die grootste dag van ons lewe saam op ʼn manier wat ons glo reg is.

Ons het ook tyd opsygesit om tyd by die canapé by ons troue deur te bring wat baie paartjies mis weens foto’s – so die moeite werd.

En ons het ook ʼn paar selfies deur die loop van die dag geneem, wat oomblikke is wat herinneringe vasvang wat ʼn mens amper nooit op daardie dag kan inneem nie.

Iewers gedurende die aand het ons ook voor in die venue gestaan en na al die tafels gekyk, met mense wat eet, gesels en lag en dit was vir ons ʼn diepgaande oomblik om al die mense te sien wat ons liefhet en koester, daar, saam, ons vier.

Meer oor Mighty Fine

Mighty Fine is populêre trou video- en fotograwe gebaseer in Pretoria, maar wat al regoor Suid-Afrika paartjies se liefdesverhale vasgevang het.  Mighty Fine, vang nie net hierdie oomblikke nie; hul vestig dié oomblikke saam met jul.  Hul passie vir troues inspireer hulle om die ekstra myl te loop, en hul sorgvuldige aandag waarborg ʼn gladde, stresvrye ervaring op julle spesiale dag.

Raad aan paartjies wat nou besig is met hul trou reëlings:


Don’t sweat the small stuff.

Wanneer jy jou trou beplanning begin, gaan sit saam met jou maat en noem elkeen 3 dinge van die troue wat vir elkeen van julle ononderhandelbaar is.  Dit help wanneer jy beplan om sensitief te wees vir die dinge wat belangrik is.

Wat wil julle hê, vergeet die mense, wat wil julle twee hê – doen DIT.

Neem genoeg “take it in moments” op die dag. Dit gaan só vinnig verby.

Trou Venue:


Mignon het ʼn paar jaar gelede ʼn troue by Mooiplaas bygewoon en was van die begin af lief vir die hele Mooiplaas.  Toe dit met Werner bespreek was, het ons gaan kyk (die enigste trou-venue wat ons bekyk het) – en dadelik besef dat dít dié plek is waar ons graag wil trou.

Mooiplaas was van die begin af net anders.  Tanieta die trou koördineerder by Mooiplaas was só vriendelik en responsief.  Hulle stres ook regtig nie die klein goedjies nie en daar is regtig geen verborge kostes nie.  En van wat ek op kwotasies gesien en terug gehoor het van trou-venues, is dit nie die standaard daar buite nie.

Meer oor Mooiplaas:


Mooiplaas is ʼn pragtige trou bestemming tussen die Waterberge in Bela-Bela, 125 kilometer Noord van Pretoria en slegs  5 kilometer van die Kranskp Toll Plaza op die Eersbewoon-pad tussen Modimolle en Bela Bela.

Ervaar ʼn stukkie Kaap in die hartjie van die bosveld, waar beloftes gemaak word onder die groot Wildevy-boom met ʼn prentjie mooi agtergrond van die granadilla boord.

Na die seremonie vind die gaste hul pad na die indrukwekkende onthaal lokaal, wat ʼn minimum van 100 tot ʼn maksimum van 300 kan akkommodeer.  Waar familie en vriende aansit vir ʼn heerlike feesmaal wat enige mond sal laat water.

Mooiplaas is ʼn oase in die bosveld.  By Mooiplaas kry paartjies vriendelike diens en ʼn stresvrye troue.  Hulle bekwame personeel is bereid om die ekstra myl te gaan sodat paartjies hul troudag kan geniet saam met geliefdes, familie en vriende.

Trou Dekor en Styl:


Die kleure van die troue was swart en wit, ook die kleure wat die gaste versoek is om te dra.  Die gaste is versoek om ook ʼn bietjie meer formeel aan te trek.  Mignon het nog altyd gedroom van hierdie kleure en ʼn bietjie meer “formele” troue, en Werner het ingestem.

Nadat ons ʼn hele paar troues in ons lewe bygewoon het – het ons van die begin af besluit dat ons nie geld op dinge wil spandeer net vir die show of ter wille van dit nie.  Baie dinge tydens troubeplanning word net aangeneem sonder om regtig daaraan te dink.

Die troue was dus deftig en super-minimalisties – en ons het daarby gehou tot die einde toe.  Die blomme op die tafels was simplisties, met individuele blomme in glas potte, gekombineer met baie groenigheid en kerse.  Tafelversiering was eenvoudig, swart, glas, ʼn bietjie goud en die groenigheid en kerse het ook ʼn lekker vars voorkoms daaraan gebring.

Ek het al die kerse self gekoop en die dekor, blomme en skryfbehoeftes is gedoen deur ʼn maatskappy wat ek op ʼn Black Friday promosie gekry het.

Eerste Dans:


Verander – Spoegwolf

Trou Begroting en Beplanning:


Die paartjie het 129 trou gaste onthaal by hul troue met ʼn begroting van min of meer R 1,162 per persoon.  Hulle het 10 maande aan hul troue beplan en het die troue self beplan.


    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

      Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

      Is jy 'n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

      Artikel Diensverskaffers: