David & Kylah se klassieke bruilofsviering

David en Kyla moes geduldig wag vir hul klassieke bruilofsviering, nadat hulle troudatum vier keer aangeskuif is weens KOVID-19.

Die paartjie deel ʼn baie minimalistiese troustyl.  Hulle het geweet wat hulle graag wou dra op die groot dag, en die res het net van daar af gevloei.  Minimalistiese troudekor is gebruik vir die onthaal area met ʼn tradisionele kleurskema.  Wit blomme en kerse, deursigtige stoele en romantiese beligting het die prentjie voltooi.

David het vir Kyla oorspronklik gevra om te kys met ʼn pienk veldblom.  Hoe mooi dat Kyla se strooimeisies toe ook pienk rokke gedra het op hul troudag!  Die pienk kleurskema het perfek ingepas by die vlootblou wat ook hier en daar verskyn.

Met betroubare diensverskaffers kon David en Kyla self hulle troudag beplan en hulle was beïndruk met almal se diens.  Indien jy opsoek is na geselekteerde troudiensverskaffers om te help met die beplanning van jou troudag, klik hier om ons Trougids te besoek.

Rol gerus af en geniet die storie wat vertel word deur David en Kyla se troufoto’s van hul klassieke bruilofsviering.

Paartjie se Liefdesreis:


Ons het mekaar by ʼn braai ontmoet.  Daarna het hy my nommer by ʼn vriendin gekry en na ʼn hele paar boodskappe heen en weer, het ek saam hom ʼn wegneem melkskommel gekry en ʼn hele middag saam hom spandeer skape laai.  Hoe sê hulle…’die res is geskiedenis’.

Sowat 3 maande daarna, het hy my op sy ouers se groot vriende se plaas uitgevra met ʼn pienk veldblom.  10 Maande later vat hy my terug na dieselfde plaas en sak neer op een knie en vra “Sal jy met my trou?”.

Ek kry nou nog ʼn knop in my keel!  Dit was baie spesiaal!

Die Verlowing Tydperk:


Ons sou 6 maande verloof gewees het, maar weens KOVID-19 was ons ʼn volle jaar verloof.  Ek sê nog altyd KOVID-19 het ons meer tyd gegee om te spaar.

Ons Familie en vriende het ʼn groot rol gespeel in die beplanning van ons troue.

Trou Begroting:


Om te begroot is ʼn realiteit, veral as jy dalk soos ek mag wees wat glad nie van die woord begroot hou.  Dit was moeilik om ʼn getal vir die begroting te kies.  Ons het gedink ons weet min of meer wat als gaan kos, totdat jy begin beplan en sien wat dit werklik kos.  Ons het 160 gaste onthaal.

Advies vir paartjies:

  • Kry kwotasies en begin vergelyk.
  • ondersteun klein besighede.
  • Maak voorsiening vir die klein goed, dit kan duur raak.
  • Wees bereid om op seker goed te sny en spaar elke sent wat julle het.

Paartjie se styl:


Ons albei wou by ʼn minimalistiese styl bly maar tog ook ʼn indruk skep.

Ek wou ʼn stywe rok gehad het met ʼn lang sleep (wat die indruk geskep het) en David wou ʼn vlootblou pak dra.

My ring is roosgoud en my troupant het ʼn ‘vintage’ styl. David wou ʼn tradisionele silwer ring hê.

Merkwaardigste Oomblikke:


My oomblik wat ek veraltyd in my hart dra was verseker die oomblik toe ek en my broer wit ballonne vry laat in herdenking van ons Ma.  Dit was baie spesiaal.

David se oomblik was toe hy saam sy pa en strooijonkers reg gemaak het. “Ek sal die oomblik toe ek my pa druk en sê ek is lief vir jou nooit vergeet.  Min het ons geweet dat dit die laaste keer sou wees.”

Ons oomblik wat ons deel was toe ons aan mekaar die GROOT gelofte maak en as getroudes uit die kerk stap!

Die Besluitnemingsproses:


Ons het meer van die finale besluite saam geneem.  Veral as ʼn besluit dalk sou beteken dat ons ʼn bietjie meer moes betaal as wat ons begroot het.

As ons onseker was oor ʼn ding het ons raad van familie gevra maar ons het op die ou end die finale keuse gemaak.  Dit is baie spesiaal om die dag saam te beplan.

Gunsteling Diensverskaffers:


Dit is vir ons baie moeilik om ʼn keuse te maak.  Ons sal al ons diensverskaffers 100% aanbeveel!  Hulle was uitstekend!

Advies aan toekomstige bruide & bruidegomme:


Dames:

Wanneer jy en jou man gaan sit voor die heildronke begin, vat ʼn oomblik en neem als in.  Die dag gaan so vinnig verby en onthou gemaklike skoene!  Jy is meestal op jou voete.

Mans:

Sê dankie vir jou ouers, druk hulle en geniet die oomblik saam jou vrou en gaste.  Dit gaan so vinnig verby.

KOVID-19 se uitwerking op jul troudag:


Ons moes ons troue se datum 4 keer skuif weens KOVID-19.  Dit het geen effek op ons dag gehad nie!  Ons was nogsteeds geseën met ʼn ongelooflike mooi dag wat ek en David veraltyd sal onthou.

Venue & Dekor:


Ons was dadelik verlief op ons venue – Kralinbergh Estate! Die groot oop vensters en die kandelare was so klasiek.  Die kerk was vir ons romanties met sy hout bankies.

Ons inspirasie agter die troudekor was minimalisties.  Ons het besluit om die tafels te dek met goud en glas blom houers met wit blomme en bloekom blare.  Houtborde as onderborde met wit servette (Die houtborde was ook die trougeskenk waarop ons ons van en troudatum gegraveer het).  Met die verskillende groottes wit kerse het ons ʼn warm romantiese gevoel geskep.

Wittebrood:


David was in beheer van die wittebrood.  Daar was nie veel van ʼn keuse nie weens die buiteland reis beperkings van KOVID-19 nie.  David het toe besluit op La Montange in Ballito en ons is nie vir ʼn dag spyt!  Ons het elke aand gaan uiteet en net die tyd as getroudes geniet.

Klik hier vir diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ʼn diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: